Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Formulier Vir Die Viering Van Die Heilige Nagmaal

 

Geliefdes in die Here Jesus Christus,

Instelling

Luister na die instellingswoorde van die heilige nagmaal van ons Here Jesus Christus soos die apostel Paulus dit vir ons beskrywe in die eerste Korintiërbrief (I Korintiërs 11:23-29):

Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het, dat die Here Jesus in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem het; en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so ook die beker na die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Want so dikwels as julle hierdie brood eet en hierdie beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom. Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. Maar die mens moet homself beproef en so van die brood eet en uit die beker drink. Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink 'n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.

Om tot ons troos die nagmaal van die Here te kan hou is dit ten eerste nodig dat ons ons vooraf reg sal ondersoek en, ten tweede, dat ons dit sal hou soos Christus beveel het, naamlik tot sy gedagtenis.

Selfondersoek

Die ware selfondersoek bevat hierdie drie hoofpunte:

Ten eerste: Elkeen moet nadink oor sy sonde en vervloeking, sodat hy homself kan mishaag en hom voor God kan verootmoedig; want die toorn van God teen die sonde is so groot dat Hy dit, eerder as om dit ongestraf te laat bly, aan sy geliefde Seun, Jesus Christus, met die bittere en smadelike kruisdood gestraf het.

Ten tweede: Elkeen moet sy hart ondersoek of hy die vaste belofte van God glo dat al sy sondes hom alleen op grond van die lyding en dood van Jesus Christus vergewe is en dat die volkome geregtigheid van Christus hom as sy eie toegereken en geskenk is, ja, so volkome asof hy in eie persoon vir al sy sondes betaal en alle geregtigheid volbring het.

Ten derde: Elkeen moet sy gewete ondersoek of hy van voorneme is om van nou af met sy hele lewe ware dankbaarheid aan God te betoon en opreg voor Hom te wandel; ook om eerlik alle vyandskap, haat en nyd te laat vaar en voortaan in ware liefde en eensgesindheid met sy naaste te lewe.

Almal wat so gesind is, wil God in genade aanneem en as waardige tafelgenote van sy Seun, Jesus Christus, beskou. Maar die wat, aan die ander kant, hierdie getuienis nie in hulle hart ondervind nie, eet en drink 'n oordeel oor hulleself. Volgens die bevel van Christus en van die apostel Paulus vermaan ons dan ook almal wat weet dat hulle met die volgende aanstootlike Sondes besmet is, om nie die nagmaal van die Here te gebruik nie, en ons verkondig aan hulle dat hulle geen deel aan die ryk van Christus het nie: alle afgodsdienaars; almal wat afgestorwe heiliges, engele of ander geskape dinge aanroep, en die wat beelde vereer; alle towenaars en waarsêers wat diere of mense of ander dinge besweer en die wat aan so 'n beswering glo; alle veragters van God en sy Woord en die heilige sakramente; alle Godslasteraars; almal wat skeuring en oproer in kerk en staat wil veroorsaak; almal wat vals sweer(Levitikus 19:12) en wat hulle ouers en owerhede ongehoorsaam is; alle moordenaars en twissoekers en die wat in haat en nyd teen hulle naaste lewe; alle egbrekers, hoereerders, dronkaards, diewe, onwettige winsmakers, rowers, dobbelaars, gierigaards en almal wat aanstootlik lewe (I Korintiërs 5:11; Efesiërs 5:5; Eksodus 20:12-17; Sagaria 8:17). Hulle almal moet, solank hulle in sulke sondes volhard, hulle van die nagmaal onthou, wat Christus alleen vir sy gelowiges ingestel het, sodat hulle oordeel en verdoemenis nie nog swaarder word nie.

Maar, geliefde broeders en susters in die Here, die bedoeling is nie om die verslae harte van die gelowiges kleinmoedig te maak nie, asof slegs die wat sonder enige sonde is, na die nagmaal van die Here mag kom. Ons kom tog nie na die nagmaal om daarmee te kenne te gee dat ons in onsself volmaak en regverdig is nie; inteendeel, ons kom juis omdat ons ons lewe buite onsself in Christus soek, en daarmee bely ons dat ons deur ons misdade dood is. Dit is wel so dat ons nog baie ellende en gebreke in onsself vind, byvoorbeeld dat ons nie 'n volmaakte geloof het nie; dat ons God ook nie met so 'n ywer dien as wat ons verskuldig is nie; dat ons daagliks moet stry teen die swakheid van ons geloof en ons sondige drifte. Waar ons egter deur die genade van die Heilige Gees oor sulke gebreke van harte berou het en opreg begeer om volgens al die gebooie van God te lewe, mag ons daarvan heeltemal seker wees dat geen sonde of swakheid wat teen ons wil in ons oorgebly het, kan verhinder dat God ons in genade aanneem en hierdie hemelse voedsel en drank waardig en deelagtig maak nie.

Gedagtenis

Laat ons nou verder oordink vir watter doel die Here vir ons sy nagmaal ingestel het, naamlik dat ons dit tot sy gedagtenis moet doen. Dit beteken dat ons Hom daarby soos volg moet gedenk:

Ons moet van harte glo dat Jesus Christus—volgens die beloftes wat van die begin af aan die aartsvaders gegee is—deur die Vader in hierdie wêreld gestuur is; dat Hy ons vlees en bloed aangeneem het en die toorn van God, waaronder ons ewig moes versink het, van die begin van sy menswording af tot aan die einde van sy lewe op aarde vir ons gedra het; dat Hy in alle gehoorsaamheid aan die Goddelike wet die geregtigheid vir ons volbring het, veral toe die las van ons sonde en van die toorn van God Hom bloedsweet in Getsémané ontpers het (Lukas 22:44); dat Hy Hom laat bind het om ons te ontbind en daarna ontelbare smaadhede gely het, sodat ons nooit meer in skande sou geraak nie; dat Hy onskuldig tot die dood veroordeel is, sodat ons voor die gerig van God vrygespreek kan word; ja, dat Hy sy geseënde liggaam aan die kruis laat spyker het om die skuldbrief van ons sonde (Kolossense 2:14) daaraan vas te heg; dat Hy so ons vervloeking op Hom gelaai het om ons met sy seën te vervul; dat Hy Hom aan die kruishout, na liggaam en siel, tot in die allerdiepste smaad en angs van die hel verneder het, toe Hy hardop geroep het: My God, my God, waarom het U My verlaat? (Matteus 27:46; Markus 15:34)—sodat ons tot God geneem en nooit meer deur Hom verlaat sou word nie; dat Hy aan die einde met sy dood en bloedstorting die nuwe en ewige testament, die verbond van genade en versoening, bevestig het toe Hy gesê het: Dit is volbring (Johannes 19:30).

Dat ons vas kan glo dat ons tot hierdie genadeverbond behoort, het die Here Jesus toe Hy die nagmaal ingestel het, die brood geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit gebreek, aan sy dissipels gegee en gesê: Neem, eet; dit is my liggaam wat vir julle gebreek word; doen dit tot my gedagtenis. Net so het Hy na die ete die beker geneem, en nadat Hy gedank het, het Hy dit aan hulle gegee en gesê: Drink almal daaruit; hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle en vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis. Dit wil sê, so dikwels as wat julle van hierdie brood eet en uit hierdie beker drink, sal julle daardeur, soos in die geval van 'n blywende aandenking en pand, herinner en verseker word van hierdie hartlike liefde en trou van My teenoor julle. Dit blyk daaruit dat Ek vir julle, wat anders die ewige dood moes sterwe, my liggaam aan die kruishout in die dood gee en my bloed stort en julle hongerige en dorstige harte met my gekruisigde liggaam en uitgestorte bloed tot die ewige lewe voed en verkwik. Julle word hiervan verseker deur die brood wat voor julle oë gebreek word, die beker wat aan elkeen gegee word, en die feit dat julle dit tot my gedagtenis met die mond eet en drink (I Korintiërs 11:23-25).

Uit hierdie instelling van die heilige nagmaal van ons Here Jesus Christus sien ons dat Hy ons geloof en vertroue op sy volmaakte offer rig, wat eenmaal aan die kruis volbring is, as die enigste grondslag van ons saligheid. Daardeur het Hy die ware voedsel en drank van die ewige lewe vir ons hongerige harte geword; want deur sy dood het Hy die oorsaak van ons ewige honger en kommer, naamlik die sonde, weggeneem. So het Hy vir ons die lewendmakende Gees verwerf, sodat ons deur die Gees—wat in Christus as die Hoof en in ons as sy lede woon—ware gemeenskap met Hom kan hê en aan al sy rykdom, die ewige lewe, geregtigheid en heerlikheid deel kan kry.

Verder word ons ook deur dieselfde Gees onderling as lede van een liggaam in ware broederlike liefde saamgebind, soos die apostel sê: Omdat dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons het almal deel aan die een brood (I Korintiërs 10:17). Net soos uit baie graankorrels een meel gemaal en een brood gebak word en uit baie druiwekorrels, as hulle gepars word, een wyn vloei, so moet ons almal wat deur die geloof in Christus ingelyf is, een liggaam wees. Ter wille van ons geliefde Saligmaker, wat ons eerste so uitnemend liefgehad het, moet ons broederlike liefde nie alleen met woorde nie maar ook met die daad teenoor mekaar bewys. Mag die almagtige, barmhartige God en Vader van ons Here Jesus Christus deur sy Heilige Gees ons daartoe help. Amen.

Laat ons nou, om dit alles te verkry, ons voor God verootmoedig en Hom met waaragtige geloof om sy genade aanroep:

Gebed

Barmhartige God en Vader,

In hierdie nagmaal herdenk ons die heerlike gebeurtenis van die bittere dood van u geliefde Seun, Jesus Christus. Ons bid U dat U deur u Heilige Gees 'n opregte vertroue in ons harte sal bewerk om ons al meer aan u Seun oor te gee, sodat ons belaste en verslae harte met sy liggaam en bloed, ja, met Hom, waaragtige God en mens, die enige hemelse brood, deur die krag van die Heilige Gees gevoed en verkwik word en ons nie meer in ons sondes lewe nie maar Hy in ons en ons in Hom. Laat ons so waarlik deel hê aan die nuwe en ewige testament en verbond van genade, sonder om te twyfel dat U ewig ons genadige Vader is wat ons ons sondes nooit toereken nie en ons as u geliefde kinders en erfgename na liggaam en siel met alle dinge versorg. Verleen ons ook u genade om getroos ons kruis op te neem, onsself te verloën, ons Heiland te bely en onder alle droefheid met verlange ons Here Jesus Christus uit die hemel te verwag, waar Hy ons sterflike liggame aan sy verheerlikte liggaam gelyk sal maak en ons tot in ewigheid by Hom sal neem. Verhoor ons, o almagtige God en barmhartige Vader, deur Jesus, wat ons geleer het om so te bid:

Ons Vader wat in die hemele is,

laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom;

laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;

gee ons vandag ons daag1ikse brood;

en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;

en lei ons nie in versoeking nie maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid (Matteus 6:9-13). Amen.

Daarna se die bedienaar van die Woord:

Hartverheffing

Om dan nou met die ware hemelse brood, Christus, gevoed te word moet ons nie met ons harte aan die sigbare tekens van brood en wyn verkleef bly nie maar ons harte ophef na die hemel, waar Jesus Christus ons Voorspraak aan die regterhand van sy hemelse Vader is, soos ons ook in die Artikels van ons Christelike geloof bely. Laat ons ook nie daaraan twyfel nie dat ons lewe net so werklik deur die werking van die Heilige Gees met sy liggaam en bloed gevoed en verkwik word as wat ons die brood en drank tot sy gedagtenis ontvang.

Formule

As die brood gebreek en uitgedeel word, sê die bedienaar:

Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van Christus. Neem, eet; gedenk en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gebreek is tot 'n volkome versoening van al ons sondes.

En as hy die beker aangee:

Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is die gemeenskap met die bloed van Christus. Neem, drink almal daaruit; gedenk en glo dat die kosbare bloed van ons Here Jesus Christus vergiet is tot 'n volkome versoening van al ons sondes.

Na die bediening sê die bedienaar:

Lofverheffing

Geliefdes in die Here, aangesien die Here ons siele nou aan sy tafel gevoed het, laat ons almal saam sy Naam met dankbaarheid prys en in ons hart soos volg sê:

Loof die HERE, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die HERE, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie! Wat al jou ongeregtigheid vergewe, wat al jou krankhede genees, wat jou lewe verlos van die verderf, wat jou kroon met goedertierenheid en barmhartighede. Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie. Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos 'n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees (Psalm 103:1-4, 8-13).

Hy het selfs sy eie Seun nie gespaar nie maar Hom vir ons almal oorgegee en ons alles genadiglik met Hom geskenk (Romeine 8:32). Aangesien God reeds sy liefde vir ons daarin bewys het dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was, soveel te meer sal ons deur Hom van sy toorn gered word nou dat ons in sy bloed geregverdig is. As ons, terwyl ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons met Hom versoen is (Romeine 5:8-10). Daarom sal my mond en hart die lof van die Here verkondig van nou af tot in ewigheid. Amen.

Gebed

Almagtige, barmhartige God en Vader, Ons dank U met ons hele hart dat U uit grondelose barmhartigheid u eniggebore Seun aan ons as 'n Middelaar en offer vir ons sondes en as 'n spys en drank van die ewige lewe geskenk het. Ons dank U ook dat U ons 'n opregte geloof gee, waardeur ons hierdie weldade deelagtig word, en dat U ook tot versterking van die geloof vir ons die nagmaal laat instel en verorden het. Ons bid U, getroue God en Vader, dat U deur die werking van u Heilige Gees die gedagtenis van ons Here Jesus Christus en die verkondiging van sy dood bevorderlik wil laat wees vir ons daaglikse vooruitgang in die regte geloof en in die salige gemeenskap.

Dit bid ons deur Hom, u geliefde Seun, Jesus Christus. Amen.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.