Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Wat die Gereformeerde Wêreldbeskouing is

David J. Engelsma

 

Hoewel die woord “wêreldbeskouing” nie in die Bybel voorkom nie en vir gelowiges filosofies, en daarom ietwat intimiderend, voorkom, is die werklikheid wat deur die woord uitgedruk word wel Bybels. Dit is ook vir elke Christen van belang.

‘n Mens se wêreldbeskouing is presies wat dié woord sê: sy beskouing van die wêreld in die geheel – die oorsprong van die wêreld, die geskiedenis van volke en nasies, die doel en betekenis van die wêreld en van sy eie plek in die wêreld. Wêreldbeskouing is die groter raamwerk waarbinne elkeen van ons sy eie klein plekkie moet sien en dienooreenkomstig bepaal hoe sy lewe ‘n wyse, ware lewe met waardes moet wees.

Dit is ooglopend hoe belangrik wêreldbeskouing vir ons lewe en optrede is. Veronderstel ‘n jongmens met die lewensbeskouing van ateïsme, naturalisme, evolusionêre sciëntisme – die wêreldbeskouing wat by miljoene jongmense oor die wêreld, deur staatskole en die populêre media gekweek word. Daar is geen God nie. Alles het onvoorsiens per toeval ontstaan. Die mens is die toevallige produk van biologiese ontwikkeling van primate wat toevallig sterker as ander diere was. Die einde van iedere menslike wese is dood, ontbinding en ewige uitwissing. Die toekoms van die heelal sal óf ‘n verbysterende ontploffing (of inploffing) óf geleidelike afkoeling, maar in iedere geval vernietiging, wees. Die lewe van so ‘n jongmens is dus, soos die van alle ander mense, betekenisloos en geheel en al sonder hoop.

Met so ‘n lewensbeskouing kies sommige ‘n onverantwoordelike en plesierbehepte lewe – dronkenskap, dwelmmiddels, seksuele losbandigheid en sinnelose geweld. Sou hulle hoegenaamd dink, is hulle mentaliteit dié van “Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons”.

Ander, wie se denke nie wesenlik hiervan verskil nie, hoewel hulle lewe meer respektabel mog wees, wy hulle daaraan om voluit aards te lewe en die laaste druppel plesier en gemak uit die lewe te pers. Hierdie lewenswyse is deur Jesus in die beskrywing van die tye wat sy koms voorafgaan, voorspel: “... dae ... toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het” (Matt. 24:38). ‘n Drankadvertensie het die wêreldbeskouing wat tot hierdie vleeslikheid, hierdie beheptheid met die natuurlike en en tydelike verkondig: “Jy lewe net een keer”.

Ander, oënskynlik meer edel, maar in werklikheid net so selfsugtig soos hulle aardse maats, jaag roem na, sodat hulle naam hulle kan oorleef. Die optrede wat uit so ‘n naturalistiese wêreldbeskouing spruit is deur die Psalmis in Psalm 49 só beskryf: “Hulle binneste gedagte is: hul huise sal vir ewig wees, hul wonings van geslag tot geslag; hulle noem die lande na hul name”.

Ander jongmense wil, soos baie dit ook doen, selfmoord pleeg.

Wanneer ‘n jongmens se wêreldbeskouing egter is dat die God en Vader van Jesus Christus alles gemaak het en alles regeer, dat hyself deur God geskape is en deur Jesus Christus gered is; dat sy lewe ‘n doel het – die eer van God, deur sy Koninkryk te soek; en dat sy einde, na liggaam en siel, die ewige lewe in ‘n nuwe skepping is – die wêreldbeskouing van die Christelike jongmens – dan sal hy, soos dit in Prediker 12:13 beskryf word, al die dae van sy lewe God vrees en sy gebooie onderhou – ‘n lewe wat voortkom uit ‘n vroom wêreldbeskouing.

Bybels

Die Bybel gebruik wel nie die term “wêreldbeskouing” nie, maar dit sit wel ‘n wêreldbeskouing uiteen. Dit vorm ‘n wêreldbeskouing in elke gelowige verstand. My ouers het nooit die woord gebruik nie. As ek die woord in my kollege-dae in gesprekke met hulle sou gebruik, sou hulle waarskynlik agterdogtig wees en gedink het dit is een of ander idee van ‘n kollege of universiteit wat sy Gereformeerde grondslag kwytgeraak het. Hulle het ewewel ‘n wêreldbeskouing gehad, al het hulle nooit ‘n kollege kursus gevolg nie en, in my vader se geval, nie eens hoërskoolopleiding gehad nie. Hulle wêreldbeskouing was dié van die Bybel. Hulle het dit aan al hulle kinders oorgedra en dra dit steeds aan hulle kleinkinders en agter-kleinkinders oor.

In ‘n boekie met die titel, “The Reformed Worldview on Behalf of a Godly Culture”, definiëer en beskryf ek wêreldbeskouing só:

... ‘n omvattende eenheid van die beskouing van die hele skepping en geskiedenis, óf in die lig van die kennis van die drie-enige, een, ware en lewende God wat in Christus geopenbaar is, óf in die lig van die ongelowige verwerping van hierdie God. Hierdie beskouing van alle dinge bepaal hoe ‘n mens sy of haar hele aardse lewe in hierdie wêreld lewe. Die krag van ‘n wêreldbeskouing lê daarin dat dit die raamwerk van ‘n mens se hele lewe vorm.1

Die Gereformeerde, Christelike wêreldbeskouing, so ryk soos die skepping en so geheimenisvol en vol wonder soos die geskiedenis en ‘n mens se eie lewe, is eenvoudig die beskouing van die skepping wat deur die drie-enige God gemaak is ter wille van sy eie eer in Jesus Christus. God verwerklik sy voorneme deur die geskiedenis te regeer – sy voorsienigheid – met ten doel die liggaamlike koms van Christus in die laaste dae om die dode op te wek, die laaste oordeel uit te voer en in heilige gemeenskap met sy uitverkore kerk te lewe in ‘n nuwe skepping, waaruit die sonde, dood en droefnis verdryf sal wees.

Wat ek sopas beskryf het, is die wêreldbeskouing van die Bybel. Die Christelike wêreldbeskouing word gesaghebbend – en duidelik – in die geïnspireerde Skrifte aan alle gelowiges bekend gemaak. Die wêreldbeskouing van die Christen is God se eie beskouing van die wêreld, die geskiedenis en elkeen van ons se plek in die “groter prentjie”. Ons mag nie ons eie wêreldbeskouing uitdink nie. Doen ons dit, is ons wêreldbeskouing vals. Die gevolge van ‘n valse wêreldbeskouing is noodlottig vir onsself én vir almal wat ons daarmee mislei.

Die wêreldbeskouing van die Bybel begin noodwendig by die oorsprong van die wêreld. Die Bybel verwys soms na die geskape heelal as “die wêreld” (Joh. 3:16) en soms as “alle dinge” (Kol. 1:16-18, 20). Die oorsprong van die wêreld, alle dinge, is die skepping van God in ses dae (Gen. 1-2; Heb. 11:3).

Die doel van God met die skepping van die heelal – die volgende fundamentele aspek van ‘n ware wêreldbeskouing – was sy eie eer deur Jesus Christus. In die besonder was die voorneme van God die verlossing van ‘n uitverkore kerk deur Jesus en die versoening van alle dinge met Christus by die wederkoms van Christus. Want “alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” naamlik vir “die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed” (Kol. 1:13-14, 16). Die welbehae van die Vader met die skepping was dat “die ganse volheid” in Jesus Christus sou woon (vs. 19).

Deur sy voorsienende sorg en krag laat die drie-enige God sy wil in die geskiedenis van die wêreld geskied. Elke skepsel en elke beweging van elke skepsel, of dit die groot gebeurtenis van ‘n wêreldoorlog of die klein gebeurtenis van ‘n haar wat van ons hoof val, is, dien God se groot voorneme met alle dinge. Die HERE God het Kores, die koning van Persië en sy ryk – ‘n groot figuur en ‘n groot mag in die geskiedenis – “ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene” (Jes. 45:1-6) laat verrys. Maar ook mossies is by die “alle dinge” wat God vir Christus en sy kerk geskape het, ingesluit. Daarom gebeur so ‘n onbeduidende ding soos ‘n mossie wat op die aarde val “nie sonder julle Vader nie” (Matt. 10:29).

Die raad van God oor die wêreld sluit sy besluit oor die sondeval van die menslike geslag in Adam in. Dit blyk uit Kolossense 1:16 waar geskryf is dat God alle dinge, nie vir Adam nie, maar vir Christus in wie ons die vergiffenis van sonde het, geskape het.

Die grondslag van die voorneme van God met alle dinge en die kern van sy ewige raadsbesluit was die sterwe van Christus.

“Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind” (Hand. 4:26-28).

In noue verband met Kolossense 1:13-20 leer Efesiërs 1:11 dat God sy een, groot besluit om alle dinge in Christus te versamel, uitvoer deur alle dinge in die geskiedenis streng ooreenkomstig sy raad uit te voer: “ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil”.

In die Christelike wêreldbeskouing het die skepping en die geskiedenis ‘n doel en betekenis. In die Christelike wêreldbeskouing het die lewe van elke Christen, hoe onbeduidend ook al volgens menslike standaarde, ‘n doel en betekenis.

God is die betekenis en doel van die wêreld!

Die doel en betekenis van die lewe van elke Christen is dat hy sy God sal verheerlik deur Hom te bely en te dien.

Wêreldbeskouing is Godbeskouing!

En die God wat beskou word, is nie maar een of ander god, nie enige god, nie ‘n groter krag, nie ‘n opperwese, nie ‘n afgod – sy dit Baäl, die Natuur of Allah – nie.

Die God van die Christelike – en enigste ware – wêreldbeskouing is die drie-enige, een, ware en lewende God wat in die Heilige Skrif geopenbaar word, soos dié Skrif in die Gereformeerde belydenisskrifte verstaan en uiteengesit word. Hy is die God en Vader van sy vleesgeworde Seun, Jesus Christus en, ter wille van Jesus, die God en Vader van elke uitverkore gelowige.

1 David J. Engelsma, “The Reformed Worldview on Behalf of a Godly Culture” Grandville MI: Faith and Grandville Protestant Reformed Evangelism Committees (2005) p 7.

(Vertaal deur Nic Grobler,
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.