Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die boek Job en die menslike natuur (1)

Ds. Angus Stewart

 

Die boek Job, net soos die res van die Bybel, leer dat die mens 'n eenheidswese met twee "aspekte" of "dele" is: liggaam en siel, of gees (Matt 10:28; Luk. 16:22-23; 23:43, 46, 52). Elihu praat só van God wat sy Gees van die mens "terugtrek" en van die mens wie se liggaam "tot stof terugkeer": "As Hy op Homself ag sou gee, sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek, dan sou alle vlees tesame die asem uitblaas en die mens sou tot stof terugkeer" (Job 34:14-15).

Soos Prediker 12:7, 8 ("Voordat ... die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het") verwys Job ook na die ontbinding van die mens in sy twee samestellende "dele" waarmee hy volgens Genesis 2:7 oorspronklik geskape is: "En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword."

Die mededeling dat God "in sy neus die asem van die lewe geblaas" het, vind weerklank in Job 34:14 ("As Hy [die Here] ... sy Gees en sy asem na Hom sou terugtrek") en in besonder in die belydenis van Elihu, "Die Gees van God het my geskape, en die asem van die Almagtige maak my lewend" (33:4; lees ook 12:10) en Job se verwysing na sy neus en sy asem: "... my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus" (27:3).

Wanneer hy hom rig tot die mens se stoflike dimensie, bevestig Elihu: "Van klei is ek [soos Job en alle mense] afgeknyp" (33:6). Uit die aarde geskape, weet Job dat hy sal terugkeer na waaruit hy geformeer is: "Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?" (10:9). Net so praat hy van hulle "wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ‘n mot" (4:19). Elihu stel dit só: " ... die mens sou tot stof terugkeer" (34:15).

Hierdie leer in Job oor die fisieke aard van die mens is in volkome ooreenstemming met die eerste hoofstukke van die Bybel, want "die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde" (Gen. 2:7) en na die val sê Jehova vir Adam: "... stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer" (3:19). Die Skriftuurlike beskouing dat die mens, na sy stoflike aard, uit stof geskape is, in 'n liggaam van klei woon en na as sal terugkeer, is vir daardie geduldige ou heilige só fundamenteel dat hy selfs na die spreuke en argumente van sy drie "vriende" verwys as swak, soos die aardse natuur van die mens: "as" en "klei" (Job 13:12).

Kyk net na Job; uit stof geskape, sit hy in die as en krap homself met 'n potskerf van klei (2:7-8)! Sy gees is verwardi (17:1), hy stik in sy speeksel en snak na sy asem (7:19; 9:18), sy asem is selfs vir sy vrou hinderlik (19:17)! Dit is geen wonder dat daar in die boek Job so dikwels en so roerend met die weerklank van Genesis 2:7 oor die natuur van die mens gepraat word nie!

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953, AOV)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.

i AOV. Die Hebreeuse woorde ka‘as châbal beteken ook "asem" is "gedaan" en is dienooreenkomstig in die KJV vertaal - Vertaler.