Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Roeping

Ronald Hanko

 

Waar wedergeboorte (geestelik weer gebore) vergelyk kan word met met die plant van die saad van die die nuwe, opstandingslewe van Jesus Christus in ons harte, kan roeping vergelyk word met die reën en sonskyn wat op die saad val en dit laat groei en vrug dra.

Daar word na roeping verwys as "kragdadige roeping." Dit beteken dat die roeping ‘n kragdadige werk van God is, wat die deur God gewilde resultaat, die verlossing, bewerkstellig. Kragdadige roeping is in wese deel van "onweerstaanbare genade."

Wanneer ons in die heilsorde van roeping praat, verwys ons nie na die verkondiging van die evangelie aan almal, waardeur daardie roeping uitgaan en deur baie gehoor word sonder saligmakende krag nie. Mattheus 22:14 praat van geroep in daardie sin, waar Jesus sê, "Want baie is geroep, maar min uitverkies." Ons verwys naamlik na die werk van die Heilige Gees in die harte van hulle wat God uitverkies het, waardeur die prediking van die evangelie die heil bring en hulle daarin hou.

Dit moet beklemtoon word. Kragdadige roeping bring nie alleen die heil tot in ons nie; dit bewerk ook ons hele saligmaking. Dit roep ons kragdadig en onweerstaanbaar tot bekering (Matt. 9:130, geloof (Rom. 10:17), heiligheid (1 Twess. 4:7), gemeenskap met Christus (1 Kor. 1:9), vryheid (Gal. 5:13), hoop en volharding (Ef. 4:4) en finaliter, volmaakte heerlikheid in Christus (1 Pet. 5:10; Openb. 19:9). Die roeping kom daarom tot ons deur ons hele lewe. Dit kom nie alleen as ‘n roeping tot heiligheid en volharding nie, maar ook as roeping tot bekering en geloof. So lank as wat ons sondig, en swak is in die geloof, moet ons tot bekering en geloof geroep word.

Ons noem dit hier om ‘n algemene misverstand te weerlê. Daar bestaan by baie mense die gedagte dat die roeping net geld ten opsigte van dié wat nie gered is nie, sodat die predikant nie ‘n oproep het – niks te sê het – vir hulle wat reeds rered is nie, maar wat inderwaarheid net so ‘n behoefte het aan die roeping as die ander.

Ons wil graag beklemtoon dat dit Christus is wat roep (Joh. 10:3, 16, 17) met die stem van die Almagtige God (Rom. 4:17). Deur die werking van die Gees word die roeping vas in die harte van baie, sodat hulle Christus hoor roep, sy stem herken en na Hom toe kom soos skape na hulle Herder. Hoe wonderlik is dit nie?

Johannes 10:3 sê "Hy roep sy eie skape by hulle naam." Die roeping is nie algemeen nie, maar baie persoonlik. Christus ken sy skape, hulle is inderwaarheid aan Hom gegee voor die grondlegging van die wêreld (Ef. 1:4-6).

Wanneer Christus sy skape by name roep, hoor hulle nie hulle aardse name, Jan of Sannie, nie. Hulle hoor hule geestelike name, die name waarmee hulle deur die eerste daad van God se genade geroep is, soos hulle wat dors en honger het (Openb. 22:17; Jes. 55:1), hulle wat vermoeid en belas is (Matt. 11:28).

Inderwaarheid is dit die roeping wat die sondaar honger, dors, vermoeid en belas maak en daarom begerig om na Christus te vlug. Daarom word daarna verwys as ‘n kragdadige roeping. Die woord van die roeping van Christus is ‘n woord wat dit wat geroep word, verwesenlik.

Wat ‘n vreugde en ‘n seën om die stem van Christus te hoor en te weet dat ons na Hom geroep word.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 188-190.

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.