Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

'n Vergelyking tussen die Ou en die Nuwe Verbond

Ronald Hanko

 

Ons het uit Hebreërs 8:6-13 aangetoon dat die ou en die nuwe verbonde nie twee afsonderlike en verskillende verbonde is nie. In alle wesentlike opsigte is hulle dieselfde.

Die verskille tussen hulle is net wat ons noem administrasie of administratiewe besonderhede. Dit is net wat betref hierdie besonderhede dat die een "oud" is en die ander een "nuut" en dat die oue verouder en verdwyn. ʼn Nuwe President (in die VSA – vertaler) is ʼn verandering in administrasie, en is in daardie beperkte sin ʼn nuwe regering, maar nie ʼn verandering van regeringsvorm of die grondwet nie.

Hoe dan verskil die ou en die nuwe verbond? Volgens Hebreërs 8 op drie maniere:

Eerstens is daar ʼn verandering in middelaar (v. 6). Christus kom in die plek van Moses. Dit is egter nie ʼn wesenlike verandering nie, want Moses was ʼn tipe van Christus. In Hebreërs 3:5 word Moses selfs genoem "’n dienaar om te getuig van wat nog gespreek sou word." Net so praat Moses self in Deuteronomium 18:15 van Christus as "’n Profeet ... soos ek is." Hierdie verskil is dus net administratief.

Tweedens is daar ook ʼn verskil in die wyse waarin die wet geskryf word (Heb. 8:10). Ons het reeds daarop gewys dat die wet nie weggeneem word nie; dit word eenvoudig op die vleestafels van die hart geskryf in plaas van op kliptafels. Dit is ook net ʼn administratiewe verandering, hoewel dit van groot betekenis is vir die Nuwe Testamentiese gelowige. Iets wat herskryf is, is nie iets wat verskillend is en afsonderlik van wat voorafgegaan het nie.

Hierdie tweede punt is besonder belangrik, want in beide Deuteronomium 4:13 en Hebreërs 8:10 word die gee van die wet die gee van die verbond genoem. ʼn Mens kan dus nie argumenteer dat, hoewel die wet dieselfde is, die verbonde verskil nie. Hulle word in beide Deuteronomium en Hebreërs as dieselfde beskou.

Derdens bring die nuwe verbond ʼn voller en meer volledige openbaring. Dit is waarvan Hebreërs 8:11 praat. Hierdie voller openbaring is sodanig dat God se volk die Middelaar direk ken en nie langer deur die tussenkoms van aardse middelaars nie. Daar is nie onder die nuwe verbond behoefte aan leraars soos die priesters en Leviete van die Ou Testament nie (kyk in Mal. 2:6-7 vir bewys dat hulle, in besonder, die leraars van die Ou Testament was).

Dit is ook ʼn administratiewe verandering. Die nuwe verbond bring nie ʼn nuwe (verskillende en afsonderlike) openbaring van God nie, maar ʼn beter openbaring (Heb. 8:6), naamlik een wat volmaak is en wat die werklikhede wat onder die ou verbond net geprofeteer is, openbaar.

Daar is net een, ewige verbond van God.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 181-182.

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.