Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Verbond met Abraham

Ronald Hanko

 

Die Skrif wys duidelik dat die verbond met Abraham dieselfde is as die verbond met Israel. Toe God sy verbond met Abraham opgerig het, het Hy dit ook met sy nageslag opgerig (Gen. 17:7), en toe God sy verbond met Israel opgerig het, het Hy dit duidelik gemaak dat Hy die verbond wat Hy reeds met Abraham, Isak en Jakob opgerig het, gestand doen (Eks. 3:15-16).

Dit is belangrik, want dit beteken dat wat vir Abraham waar was in die verbond ook vir Israel waar was. En aangesien almal wat glo die ware saad en kinders van Abraham is, is wat waar is vir Abraham ook waar vir ons.

Die verbond met Abraham het verkeie merkwaardige kenmerke. Die eerste en mees belangrike is dat die verbond met Abraham, en dus ook met Israel, by uitstek ʼn verbond van genade is. Die groot openbaring van die verbond in Genesis 15 toon dit aan.

Om Genesis 15 te verstaan moet ʼn mens weet dat in daardie dae ʼn menslike verbond nie gesluit is deur ʼn kontrak op te stel en dit regtens te laat attesteer nie, maar deurdat diegene wat die verbond sluit saam tussen die verdeelde stukke van ʼn dier of diere deurloop. Jeremia 34:18 beskryf ook hierdie plegtige seremonie, wat net vir belangrike sake gebruik is en ʼn waarskuwing was dat enigeen wat die verbond verbreek verdien om in stukke gesny te word en dat sy liggaam as aas vir die diere en voëls gewerp word. God het Israel hiermee gedreig toe hulle ʼn verbond wat hulle onderling gesluit het, verbreek het (Jer. 34:19, 20).

Aangesien ʼn menslike verbond tussen gelykes gemaak word, is dit ook ʼn ooreenkoms – ʼn bilaterale of tweesydige verbond – en daarom het almal wat by die verbondsluiting betrokke was tussen die stukke van die diere deurgeloop. God se verbond is anders, want God en die mens handel nooit as gelykes in die verbond nie. Die verbond tussen God en Abraham was, volgens Genesis 15, by uitstek ʼn eensydige (unilaterale) verbond, opgerig deur God alleen. Toe God met Abraham verbond gesluit het deur tussen die stukke van die diere deur te loop, was Abraham vas aan die slaap. Abraham het niks te doen gehad met daardie verbondsluiting nie. In geen opsig was dit van hom afhanklik nie. Dit was waarlik ʼn verbond van genade.

Deur tussen die stukke van die diere deur te gaan, het God simbolies verklaar dat Hy alleen die gevolge sou dra van verbondsverbreking, wat Hy inderdaad gedoen het deur die dood van sy Seun (Jes. 53:8; Gal. 3:13). Vir ons sondes in die verbond het God in Christus die straf gedra deur afgesny en uitgewerp te word. Christus het dit uitgedruk toe Hy uitgeroep het "My God, my God, waarom het U My verlaat?" So is die genadeverbond wat aan Abraham geopenbaar is, in Christus vervul.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (2004, Reformed Free Publishing Association, Grandville, MI, VSA), pp. 170-171.

(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.