Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Verbond met Adam

Ronald Hanko

 

Daar is net een gedeelte van die Skrif wat uitdruklik praat van ʼn verbond met Adam en dit is Hosea 6:7: "Maar hulle het soos Adam die verbond oortree, daar het hulle troueloos teen My gehandel."1 Die woord "men" in vers 7 (in die KJV - vertaler) kan of "mens" of "Adam" beteken (dit is dieselfde woord in Hebreeus). Hoe dit ook vertaal word, die vers praat van ʼn verbond met Adam deur te verwys na ʼn verbond wat Adam in persoon oortree het of wat die mensheid in hom oortree het.

Ons glo dat hierdie verbond met Adam nie ʼn afsonderlike verbond was nie, maar wel die eerste openbaring van die een, ewige genadeverbond. Seer seker kan, as die verbond ewig is, daar net een verbond wees en Adam was ook in daardie verbond.

Die eerste openbaring van die verbond wys waaroor die verbond gaan. Daarin het God openbaar dat Hy die heilige Vriend van sy mense is en dat Hy in geseënde gemeenskap met hulle verkeer. In die eerste openbaring van die verbond het God die mens se roeping geopenbaar, ʼn roeping om in dankbare, nie verdienstelike, gehoorsaamheid te lewe.

Dat dit net ʼn openbaring van die een verbond was, blyk duidelik uit die feit dat die Skrif praat van ons versoening met God nadat Adam oortree het (II Kor. 5:18). Die woord versoening is by uitstek ʼn verbondswoord en impliseer nie alleen ʼn vorige verhouding wat geskend is nie, maar impliseer ook dat die verhouding nie totaal vernietig is nie. Dit is slegs moontlik om van versoening te praat waar die vroeëre verhouding nie heeltemal vernietig is nie en waar dit herstel en vernuwe word.

As dit nie so was nie, sou ons moes sê dat God gekortwiek is en moes verander. Sy eerste verbond en doel sou heeltemal geruïneer wees, Hy sou verydel wees, gedwing om sy voorneme te verander en oor te begin met ʼn nuwe verbond.

Hoe kon die verbond met Adam—voordat hy in sonde geval het—ʼn genadeverbond wees? Ons moet onthou dat genade onverdiende guns is. Alles wat Adam was en alles wat hy had, was deur die onverdiende guns van God. Wat het Adam gedoen om enigiets te verdien toe God sy verbond met hom opgerig het? Wat kon hy ooit gedoen het om enigiets van God te verdien wanneer hy sy hele bestaan aan Hom te danke gehad het?

Dit was ook genade wat die verbondsverhouding in stand gehou het en verseker het dat dit nie deur Adam se val vernietig sou word nie. Toe Adam in sonde val, kom God na hom toe en stel vyandskap tussen die duiwel en die vrou en herstel daarmee die verbondsverhouding van vriendskap tussen homself en Adam (Gen. 3:15). Ons "eerste voorouers" het die vriendskap van die duiwel gekies, maar God wat hulle as sy eie gekies het, het hulle nie toegelaat om as vriende van Satan voort te gaan nie. Ten einde dat Sy verbond met hulle sal voortbestaan, klee Hy hulle met die velle van diere, offerende daarmee die eerste offer wat heenwys na Christus wat sou kom (v. 21).

God se handeling met Sy mense is altyd en alleen uit genade. Daar is geen ander grondslag waarop die ewige God met ons kan handel nie.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 168-169.

1In die King James vertaling van die Bybel (KJV) wat deur die outeur gebruik is lui Hosea 6:7 soos volg: "But they like men have transgressed the covenant: there have they dealt treacherously against me."

(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

 

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.