Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Gees as Onderpand (1)

Ds. Angus Stewart

 

Nadat die apostel Paulus in Efesiërs 1:13 na die Heilge Gees verwerwys het wat ons “verseël”, noem hy Hom ‘n “onderpand”: “die onderpand ... van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid “ (vs. 14). 2 Korinthiërs 1;22 en Efesiërs 1:13-14 lê ‘n verband tussen die Gees as seël en die Gees as onderpand. Hierdie twee aspekte van die Gees moet tesame verstaan en met vreugde ervaar word deur almal wat in Christus geregverdig is. Maar wat is ‘n pand? Drie punte kan gemaak word.

Eerstens is ‘n onderpand, paaiement of deposito, ‘n waarborg vir volle betaling wanneer dit tyd is. Dit is die gedagte in menslike finansiële sake: een mens skuld die ander ‘n bedrag geld en hy betaal ‘n onderpand (paaiement of deposito) as belofte van volle betaling wanneer dit tyd is. Efesiërs 1:14 leer dat God wil om ons in sy groot genade die rykdom van hemelse heerlikheid te gee en Hy wil hê dat ons seker moet wees, heeltemal daarop kan staatmaak, dat Hy dit aan ons sal skenk.

Hy doen daarom twee dinge. Hy gee aan ons beloftes in die Skrif, soos die woorde van Christus, “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matt. 5:5) en “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon” (Openb. 3:21). Hierdie beloftes is waar en seker; hulle is in Christus “ja” en “amen” (2 Kor. 1:20). Maar ons is swak – sondig en vol twyfel – en die objektiewe belofte, op sigself genome, is buite ons begrip. Daarom doen God meer. Hy gee nie alleen die beloftes in die Skrif nie; Hy gee ook aan elke gelowige die onderpand van die Gees in sy hart, waarmee Hy aan die gelowige die waarborg gee van toekomstige heerlikheid, op God se tyd, en hom deur die Woord verseker dat sy beloftes waar is en ook vir hom geld. Gelowige, die heerlikheid van die toekomende wêreld en al die seëninge daarvan is ook vir jou! Terwyl jy hier lees, getuig die Gees in jou, persoonlik en inwendig: “Jy het ‘n plek in die nuwe hemel en die nuwe aarde. Jy sal die aangesig van Christus, jou Verlosser, aanskou en saam met die hele kerk en die uitverkore engele sy lof besing!”

Ons kan dus sien waarom twee van die drie verwysings na die Heilige Gees as onderpand – die ander een is 2 Korinthiërs 5:5 – onmiddelike volg ná die verwysing na Hom as ‘n seël (2 Kor. 1:22; Ef. 1:13-14). As seël stempel die Gees ons as die eiendom van God: “Jy behoort aan God! Jy is sy eiendom!” As onderpand verseker die Gees ons: “Die hemel is vir jou! Dit behoort aan jou in Jesus Christus!” As seël verseker die Gees ons dat ons aan God behoort – van vóór die grondlegging van die wêreld in ons ewige uitverkiesing in Christus, nou en vir altyd. As onderpand verseker die Gees ons met die oog op die toekoms, dat die ewige heerlikheid aan ons behoort. Verstaan u dit? Die Gees as seël én die Gees as onderpand gee, deur die Woord van God, sy inwendige, persoonlike getuienis in ons harte. Die verskil lê daarin dat die Gees as seël getuig dat ons aan God behoort (verlede, hede en toekoms), terwyl die Gees as onderpand getuig dat die hemel aan ons behoort (toekoms).

Tweedens is ‘n onderpand nie alleen ‘n waarborg van volle betaling nie; dit is ook déél van die betaling. Hier kom dus iets by. Ons het nie alleen die objektiewe beloftes van God en die Gees se waarborg dat dit waar is en dat dit op ons persoonlik van toepassing is nie, maar deel van die betaling is reeds aan ons gegee. Ons “erfdeel” (Ef. 1:14) is nie net in die toekoms nie: God gee ons nou reeds ‘n voorsmaak van die heerlikheid om ons te verseker, ons te versterk en ons laat verlang na meer. As dit wat ons nou het net ‘n deel, ‘n klein fraksie, is, hoeveel meer sal die volle erfenis nie wees nie?

Derdens is ‘n onderpand nie alleen die waarborg van volle betaling, en ‘n deel van die volle betaling, nie; dit is ook in dieselfde betaalmiddel as die volle som. Laat my illustreer. Kom ons sê jy skuld R1000. Jy kan waarborg om die volle som te bataal deur deel van die volle betaling met iets anders as kontant te gee. Jy kan, byvoorbeeld, jou stereo-stel aan die skuldeiser gee, wat hy aanvaar vir ‘n waarde van R400. Jou stereo-stel is dus ‘n waarborg en gedeeltelike betaling, en jy sal die uitstaande R600 later betaal. Die Heilige Gees wat in ons as onderpand is, egter, is dieselfde betaalmiddel as die volle betaling. Hy is nie, om dit so te stel, die ekwivalent van die stereo (met die kontant wat later gegee sal word) nie. Die onderpand van die Gees in ons is die kleiner weergawe van die volle erfenis. Hy is die voorsmaak van die heerlikheid, want die onderpand en die erfenis is van dieselfde soort. Nou het ons net die “eerstelinge van die Gees” maar ons sal in die toekomende wêreld die volheid van die Gees besit (Rom. 8:23).

Ons leer hieruit dat ons erfenis ‘n geestelike erfenis is. Ons ewige staat is een waarin die vrug van die Gees volkome in al die kinders van God geopenbaar sal word (lees Gal. 5:22-23) en “al [ons] geestelike seëninge” met heerlike glans sal skyn.

Omdat die Heilige Gees, ons onderpand, die Gees van Christus is en sy werk om die Here Jesus te verheerlik (Joh. 16:14), is Christus self, en alle dinge in Hom, ons erfenis. Dit is ook die verband van Efesiërs 1. Die erfenis van Christus is alle dinge in die hemel en op die aarde (vs. 10). Vers 11 voeg by: “in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het” want ons het “alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (vs. 3). Kolossense 1:27 sê “Christus [is deur die Heilige Gees] onder julle, die hoop van die heerlikheid”. Só verseker die Gees van Christus ons dat ons die aangesig van Christus sal aanskou en soos Hy sal wees. Die hele aarde sal met sy heerlikheid vervul wees en ons sal in die ryk van Immánuel die knegte van die Lam wees!

(Vertaal deur Nic Grobler,
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.