Uitverkiesing,
Fontein van Seëninge vir die Kerk (1)
Rev. Angus
Stewart
In die
afgelope drie uitgawes van die News het ons gesien dat
uitverkiesing die bronaar van die kerk is (Ef. 1:3-4). So het die
Reformatore die uitverkiesing die cor ecclesiae, die hart van die
kerk, genoem en Wycliffe en Hus het van Christus se kerk as die "gemeenskap
van die uitverkorenes" gepraat.
Nou sal ons
sien dat uitverkiesing nie net die bron van die kerk is nie; dit is ook
die fontein van al haar seëninge. Ons Heidelbergse Kategismus
verklaar die kerk as "ʼn
gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is" (V&A 54). Die Dordtse
Leerreëls bevestig dat "die uitverkiesing die fontein van alle
saligheid [is] waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende
gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan
voortvloei. Die apostel getuig immers: ‘Om heilig en sonder gebrek
voor Hom in liefde te wees’ (Ef. 1:4) en nie ómdat ons alreeds so was
nie" (I:9). Die woord "fontein" wat hier in die Leerreëls
en in die algemeen in die Gereformeerde geskiedenis gebruik word,
skilder vir ons ʼn baie
aantreklike prentjie. Ons kry voor oë hoedat die vele en ryke seëninge
van die kerk opborrel en oorvloei vanuit God se genadige en ewige
fontein van uitverkiesing. Hierdie wonderlike fontein bring alle
seëninge na jou, gelowige, en na elke ander lid van Christus se kerk!
Dit word in
Efesiërs 1:3-4 geleer, waar daar staan dat alle seëninge van die kerk
(v. 3) na ons kom "soos Hy ons in Hom [dit is Christus] uitverkies
het voor die grondlegging van die wêreld" (v. 4). Die eerste
seëning wat hier genoem word, is heiligheid (v. 4). God maak elke ware
lid van die kerk vas en seker heilig ooreenkomstig sy ewige
uitverkiesing. So word elke uitverkore gelowige geestelik van die
goddelose wêreld afgeskei en na siel en liggaam aan God geheilig. God
verwerklik die heiligheid van die uitverkorenes deur sy kragdadige
roeping waardeur hulle uit die duisternis na sy heerlike lig gebring
word; deur voortdurende heiligmaking gedurende hierdie lewe; en deur
volkome heiligmaking by die dood of by Christus se liggaamlike wederkoms.
Heiligmaking is nie die voorwaarde of oorsaak van ons uitverkiesing nie!
God het ons nie uitverkies omdat Hy voorsien het dat ons heilig sou wees,
soos wat die Armenianisme leer, nie. In teendeel, Hy het ons verkies om
ons heilig te maak. God het "ons in Hom uitverkies ... voor die
grondlegging van die wêreld om heilig ... te wees" (v. 4).
Heiligheid is die doel en resultaat van ons ewige en onvoorwaardelike
uitverkiesing in Christus.
Die tweede
seëning in Efesiërs 1:4 is om sonder gebrek voor God te wees. Sommige
neem dit op as ʼn godvresende en
opregte lewe (waarby God genadiglik al ons baie oorblywende oortredinge
vergewe). Ander sê dit verwys na ons vryspraak voor God ons regter,
gegrond alleenlik op die geregtigheid van Christus, ons plaasvervanger.
Welke dit ook al is, dit is ʼn
groot weldaad wat aan ons gegee word slegs op grond van ons
uitverkiesing.
Ons aanneming
is die derde seëning wat hier genoem word: "deurdat Hy ons
voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus
Christus, na die welbehae van sy wil" (v. 5). Ons het al die regte
en voorregte van seuns en dogters van God, as lede van sy geestelike
familie, met die Here Jesus as ons ouer broer. Niemand wat nie ewig
uitverkies is, is ooit of sal ooit deur God aangeneem word nie.
Vers 6 ken
aan ons ʼn vierde seëning toe:
begenadiging in Christus, God se geliefde. As u hieraan dink as ʼn
kleiner weldaad, dink dan aan hulle wat dit nooit ontvang nie, hulle aan
wie die Seun van God op die oordeelsdag sal sê, "Ek het julle
nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!"
(Matt. 7:23).
Efesiërs 1
noem ook ander seëninge: verlossing in die bloed van Christus (v. 7),
die vergiffenis van sonde (v. 7), die kennis van God se voorneme om
alles in die hemel en op die aarde in Christus te verenig (vv. 9-10),
ons ewige erfenis (v. 11), die verseëling met die Heilige Gees (v. 13)
en die opstanding van die liggaam op die laaste dag (v. 14). Verder is
ons die ontvangers van nog baie seëninge wat nie in Efesiërs 1 genoem
word nie maar elders in die Woord van God gevind word.
Ons moet ook
nie die apostoliese seëngroet vergeet nie: "Genade vir julle en
vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus" (v. 2).
Genade, barmhartigheid en vrede word nie aan die verworpenes gegee nie.
Hierdie geestelike seëninge (v. 3) word net aan die uitverkorenes gegee,
"soos Hy ons in [Christus] uitverkies het voor die grondlegging van
die wêreld" (v. 4).
Kom ons bring
nou hierdie seëninge wat ons uit God se oorvloedige fontein van
uitverkiesing kry in verband met die vyf punte van Calvinisme
("TULIP").* Volkome verdorwenheid
is nie ʼn seëning nie en is ook
nie besonder aan die uitverkorenes nie, maar gemeen aan alle gevalle
mense en behoort dus nie in hierdie bespreking nie. Die laaste drie
punte van Calvinisme (beperkte versoening, onweerstaanbare genade en die
volharding van die heiliges) is in ooreenstemming met, en vloei voort
uit die tweede punt, onvoorwaardelike uitverkiesing.
Dit word so
geleer in Efesiërs 1. Christus se verlossing (v. 7) is ʼn
seëning wat ons toekom "soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die
grondlegging van die wêreld" (v. 4). Dit leer beperkte versoening,
dit wil sê, besondere verlossing van die uitverkorenes alleen. God se
onweerstaanbare genade, "die uitnemende grootheid van sy krag vir
ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte" (v. 19),
vloei uit die fontein van genadige uitverkiesing. Die volharding van die
heiliges, wat berus op God se ontwyfelbare verseëling en bewaring van
ons vir ons ewige erfenis (vv. 11, 13-14), is ook ʼn
vrug van die uitverkiesing. So is God se onvoorwaardelike uitverkiesing,
die tweede punt van Calvinisme, die fontein van die seëninge van die
kerk van God, insluitend drie van die vyf punte van Calvinisme: Christus
se beperkte versoening, God se onweerstaanbare genade en die volharding
(en dus die bewaring) van die heiliges.
*
TULIP
is ‘n akroniem van
Total depravity (volkome
verdorwenheid)
Unconditional election (onvoorwaardelike
uitverkiesing)
Limited atonement (beperkte
versoening)
Irresistible grace (onweerstaanbare
genade)
Perserverance of the
saints (volharding van die heiliges)
(Vertaal deur
Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die
Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.