Uitverkiesing, die bronaar van die Kerk (1)
deur Rev. A Stewart
"Uitverkiesing" is ‘n ryk, troosvolle
woord vir die kind van God. Hulle wat die Bybel lees, verstaan en
liefhet verstaan ook die herhaling en betekenis van woorde soos "uitverkiesing,"
"uitverkies," "uitverkorenes," "kies,"
"verkorene," "predestineer," "predestinasie,"
"van tevore geken," "verordineer" en "geliefde."
Die waarheid en troos van uitverkiesing word in die besonder in
Gereformeerde kerke geken en omhels, want dit is in die sestiende-eeuse
Reformasie herontdek en kragtig verkondig en duidelik uiteengesit in die
gereformeerde belydenisskrifte, vernaamlik in die Dordtse Leerreëls,
in besonder in die eerste hoofstuk van die leer (oor die Goddelike
Uitverkiesing en Verwerping).
Ons dink gewoonlik aan die uitverkiesing van
individue: God se keuse van bepaalde sondaars vir ewige lewe in Christus.
Dit is waar en onontbeerlik, maar dit is nie die geheel van die
uitverkiesing nie want uitverkiesing is ook gemeenskaplik. Die Bybel
leer die uitverkiesing van individuele persone en die
uitverkiesing van die kerk, die liggaam van Christus: God het "...
ons (die kerk) in Hom (Christus) uitverkies ... voor die grondlegging
van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees"
(Ef. 1:4).
Watter verband lê ons dan tussen God se verkiesing
van individue en sy verkiesing van die kerk? Eerstens, slegs uitverkore
individue is lede van die die uitverkore kerk. Tweedens, die
uitverkiesing van individuele perone dien die uitverkore kerk;
die individuele dien die gemeeskaplike. Soos die uitverkiesing van
individue die uitverkore kerk dien, so dien die uitverkiesing van die
kerk die uitverkore Christus (want Hy is in alles die eerste; Kol 1:18)
en die uitverkiesing van Christus dien die heerlikheid van die
uitverkiesende God: die Vader, die Seun en die Heilige Gees.
Mense wonder soms waarom daar hoegenaamd ‘n wêreld
bestaan. Waarom is daar iets, in plaas van niks? Die antwoord is skepping:
God het na sy vrye wil die heelal gemaak.
Hier is nou ‘n soorgelyke vraag: Waarom is daar
hoegenaamd ‘n kerk? Waarom is, in die lig van die sondeval, alle mense
nie, kop vir kop, ongelowiges nie? Waarom is sommiges weergebore mense
wat die ware God dien? Meer nog, waarom is daar ‘n kerk oor alle eeue?
Waarom is daar ‘n ware kerk op sommige plekke en nie op ander nie?
Waarom is die kerk so groot as wat dit is en nie groter of kleiner nie?
Waarom bestaan dit uit sekere mense en nie uit ander nie? Die antwoord
op al die vrae is uitverkiesing! Uitverkiesing bepaal die bestaan
van die kerk, haar voortgang, haar plek, haar grootte en haar
lidmaatskap. Van bo tot onder word die kerk beheer en gevorm deur God se
genadige, onvoorwaardelike uitverkiesing in Christus. So het die
Gereformeerde kerke gepraat van uitverkiesing as die cor ecclesiae,
wat Latyn is vir die hart (cor) van die kerk (ecclesiae).
"Hart" word hier gebruik as die bron of die oorsprong. (Dink
aan Spreuke 4:23: "... want daaruit [jou hart] is die oorspronge
van die lewe"). Uitverkiesing is die hart of bron van die kerk,
ingeslote haar bestaan en voortgang, haar plek, grootte en lidmaatskap.
So kry ons van uitverkiesing selfs ‘n definisie van
die kerk: die gemeenskap van die uitverkorenes. Wycliffe en Hus (voortbouend
op Augustinus) het hierdie waarheid in hulle stryd met die Roomse Kerk
gebruik. Hierdie kerkbeskouing is deur die Reformatore en hulle
opvolgers geneem en ontwikkel tot vandag toe. Is dit nie ‘n heerlike
naam vir die Kerk van Christus nie? Die gemeenskap van die uitverkorenes!
Dit is die kerk waaraan alle ware gelowiges behoort. Verheug julle,
geliefde lidmate van die kerk, omdat "julle name in die hemele
opgeskryf is" (Luk 10:20).
Kom ons demonstreer nou dat uitverkiesing die cor
ecclesiae is uit die openingsverse van Efesiërs 1. In vers 1 word
die kerk in Efese aangespreek as "die heiliges wat in Efese is ...
die gelowiges in Christus Jesus." Hierdie kerk is "geseën ...
soos [God] ons in Hom [Christus] uitverkies het voor die grondlegging
van die wêreld (vv. 3-4). Vers 5 sê ook dat Hy ons "voorbeskik"
het. Waarom dan was daar ‘n kerk in Efese? Waarom was dit so groot as
wat dit was en met die lidmatetal wat dit gehad het? Dit was alles
ooreenkomstig die ewige uitverkiesing van God. Uitverkiesing was die
bron en hart van daardie kerk, net soos dit die bron en hart is van elke
ware kerk in alle eeue en alle lande.
Ons moet nie die kanonieke betekenisvolheid van
Efesiërs by ons laat verbygaan nie. Die tema van hierdie brief is die
kerk as liggaam van Christus. Hierdie heerlike onderwerp word dwarsdeur
die ses hoofstukke van Efesiërs ontwikkel. Hoe begin hierdie grootse
brief oor die kerk as die liggaam van Christus, na die opskrif en groet?
Dit seën God wat sy kerk ooreenkomstig sy ewige uitverkiesing geseën
het, want ons is "in Hom [Christus] uitverkies ... voor die
grondlegging van die wêreld" (v. 4) en "voorbeskik" (v.
5). Met ander woorde, die brief begin met die waarheid van die
uitverkiesing as die hart van die kerk (cor ecclesiae). Dit is
die eerste ding wat die kerk in Efese (en die Nuwe Testamentiese kerk in
die algemeen) van haarself moet weet: dat sy in Christus uitverkies is.
Alles oor Christus se kerk in Efesiërs vloei voort uit, en moet gesien
word in die lig van, haar ewige uitverkiesing. Ja, in al ons lees van
die Bybel en in al ons denke oor die kerk, is die kerk se uitverkiesing
in Christus fundamenteel, want dit is haar bronaar en hart.
(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van
1933/1953)
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.