Uitverkiesing, die Bronaar van die Kerk (2)
Rev. Angus Stewart
Efesiërs 1:3-5 is by verre nie die enigste gedeelte
in God se Woord waarin die Heilige Gees die kerke oor die kerk se
uitverkiesing in Jesus Christus leer nie.
Hoewel die gemeente van die Thessalonicense
waarskynlik maar ‘n paar maande oud was, wou Paulus hê dat hulle
seker moes wees van hulle ewige uitverkiesing toe hy aan die begin van
sy brief daaroor praat: "... ons weet van julle verkiesing,
broeders wat deur God bemin word" (I Thess. 1:4). Daar is vandag
gemeentes, grys van ouderdom, wat hierdie kennis nie besit nie en die
laaste ding wat hulle predikante hulle wil leer is onvoorwaardelike
uitverkiesing. Dit is ‘n skande en heeltemal strydig met apostoliese
Christenskap!
Vir geval die Thessalonicense dit in sy eerste brief
nie raakgelees het nie, verwys Paulus weer na hulle uitverkiesing in sy
tweede geïnspireerde brief aan hulle: "... ons moet God altyd oor
julle dank, broeders wat deur die Here bemin word, dat God julle van
die begin af verkies het tot saligheid in heiligmaking van die Gees
en geloof in die waarheid" (II Thess. 2:13). Die apostel dank die
Drie-enige God vir hulle uitverkiesing, in besonder in die verband (vv.
3-12), omdat dit net die genade is wat na ons kom deur uitverkiesing (v.
13) wat ons, anders as dié wat verlore gaan (v. 11), bewaar van die
afval, korrupte aanbidding, wonders van die leuen en valse leer van die
mens van sonde (vv. 3-4, 8-10) en van "die verborgenheid van die
ongeregtigheid [wat] al aan die werk [is]" (v. 7).
Petrus het óók die uitverkiesing van die kerk aan
die kerke geleer. Aan die begin van sy eerste geïnspireerde brief
spreek hy die heiliges in "Pontus, Galasië, Kappadocië, Asië en
Bithinië" (I Pet. 1:1) aan as "uitverkore volgens die
voorkennis van God die Vader" (v. 2). Hulle uitverkiesing "in
die heiligmaking van die Gees" (v. 2) maak hulle "vreemdelinge"
in hierdie wêreld (v. 1) en die ontvangers van "genade en vrede"
(v. 2). Petrus sluit dieselfde brief af deur hulle te herinner, nie net
aan hulle eie uitverkiesing nie, maar ook aan dié van die kerk in
Babilon: "Die mede-uitverkorenes in Babilon ... groet julle"
(I Pet. 5:13). In sy volgende brief wil Petrus dat hulle verseker word
van hulle uitverkiesing deur die vrugte van die kragdadige roeping in
hulle lewe te sien: "... julle [moet] jul des te meer beywer om
julle roeping en verkiesing vas te maak" (II Pet. 1:10).
Hierdie lewende en eenvoudige kennis van julle uitverkiesing, sê hy,
sal julle daarvan bewaar om "ledig," "onvrugbaar" of
"blind" te wees. In teendeel sal ons "die ingang in die
ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus" (v.
11) wyd oop sien deur ‘n gesonde, godverheerlikende geloof.
In Kolossense 3:12 leer die Heilige Gees ons dat die
bewussyn van ons genadige uitverkiesing ook genade by onsself bewerk:
"Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en
geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid,
sagmoedigheid, lankmoedigheid." Uitverkiesing is verre van ‘n
koue, droë, vreugdelose, liefdelose leerstuk. Dit is God se ewige,
onvoorwaardelike liefde vir, en keuse van ons! Weg met die lasterlike
praatjies van sommiges wat na God se geliefde en met bloed gekoopte volk
(Deut. 7:6-8; Joh. 3:16) verwys as "die gevriesde gekiesdes"—profane
taal geïnspireer deur Satan!
Paulus, daardie "bekwame boumeester" (I Kor.
3:10) wat God aangestel het "as prediker en apostel en leeraar van
die heidene" (II Tim. 1:11), het die kennis van die uitverkiesing
van die kerk as onmisbaar vir predikante beskou. Die ware "evangelie
na die krag van God" is dit: "[Hy het] ons gered en geroep ...
met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie
voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk
is" (vv. 8-9). Dit is die evangelie wat in die vleeswording, kruis
en opstanding van ons Saligmaker geopenbaar is (v. 10) en wat deur
Paulus en almal wat ware apostoliese opvolgers is, gepreek word (v. 11).
Hierdie evangelie van God se Woord, insluitend die kerk se uitverkiesing
(v. 9), is die "gesonde woorde" (v. 13) en die "goeie
pand" (v. 14) aan Christelike predikante, wat hulle moet "[h]ou
... in die geloof en liefde wat in Christus Jesus is" (v. 13) en
"[b]ewaar ... deur die Heilige Gees wat in ons woon"(v. 14).
Lateraan in dieselfde pastorale brief verduidelik die
apostel dat uitverkiesing noodsaaklik is om die afvalligheid van sekere
kerklike ampsdraers en lidmate te verstaan. Himenéüs en Filétus het
die preterisme aanvaar en geleer deur te sê "dat die [algemene]
opstanding al plaasgevind het" (2:17-18). Hulle kettery het soos
‘n kanker versprei (v. 17) "en hulle keer die geloof van sommige
om" (v. 18). Wat moes die heiliges verstaan van hierdie afval van
die twee leeraars en sommige van hulle medelidmate? Beteken dit dat ware
gelowiges werklik kan afval en verlore gaan? Kan ons wedergeboorte,
roeping, regverdiging en aanneming geloën word? Faal God se trou en sy
belofte? Is Christus se offer en middelaarskap vir ons swak en nutteloos?
NEE! "Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die
Here ken die wat syne is"(v. 19)!
Ander gedeeltes in die Nuwe Testamentiese briewe sou
ook behandel kon word, vernaamlik Romeine 8, 9 en 11. Ter wille van
bondigheid laat ek ook verwysings na ander Nuwe Testamentiese boeke en
die Ou Testamentiese Skrif agterweë. Ons volstaan deur te sê dat die
uitverkiesing van die kerk dwarsdeur die Bybel, van omslag tot omslag,
geleer word. Dit moet geglo, in verheug en gepreek word as deel van die
hele raad van God.
Volgende keer sal ons, DV, die praktiese betekenis en
troos van die uitverkiesing van die kerk behandel.
(Vertaal
deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die
Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.