Uitverkiesing, die bronaar van die Kerk (3)
deur Rev A. Stewart
Kennis van die uitverkiesing van die kerk (waarby ons
as lewende lede van Christus ingesluit is) is noodsaaklik, nie die
minste nie vir ons gevoel van waar ons hoort. Gelowige, jy behoort
geheel en al aan die Drie-enige God—nou, en vanaf jou wedergeboort tot
aan die einde van jou dae hier, en deur alle ewigheid in die nuwe hemel
en die nuwe aarde. Jy het aan Christus aan die kruis behoort, want jy
was in Hom en het met Hom die sonde afgesterwe (Rom. 6:2-6; Kol. 2:20).
Verder het jy in ewigheid aan die Vader behoort, want jy is in Christus
uitverkies voor die grondlegging van die wêreld (Ef. 1:4). Jy is in Hom
geliefd en word vir ewig besit deur die Drie-enige God! Laat ons sy lof
verkondig!
Jy en ek, en al die heiliges op aarde, en al die
gelowiges wat voor ons gesterf het, en al die uitverkorenes wat nog
kragtig in die toekoms geroep sal word, behoort saam aan God in
Christus. Die ewige staat sal aan ons die wonderlike seën hiervan
openbaar. In die ewige verlede is die hele kerk saam in Christus
uitverkies. In die ewige toekoms sal die hele kerk saam die vrugte van
ons uitverkiesing van voor die grondlegging van die wêreld geniet.
So behoort die uitverkore heiliges in hierdie laaste
dae saam in ware Gereformeerde kerke. Hulle wat as deel van die kerk as
organisme uitverkies is, behoort aan gelowig gevestigde gemeentes. Dit
sluit ons uitverkore kinders in. Die kerk in Efese, wat aangespreek word
as "geseën" en "uitverkies" (vv. 3-4), sluit die
kinders van gelowiges in (6:1-4). Natuurlik is nie alle fisiese kinders
van gelowiges uitverkies nie: "Jakob het Ek liefgehad en Esau het
Ek gehaat" (Rom. 9:13). Uitverkore verbondskinders behoort
ewigdurend in God se kerk en behoort daarom in ‘n Gereformeerde
gemeente wat die drie kenmerke van die ware kerk dra. Families met hulle
kinders en individue moet in ‘n bybelse kerk bly, of dit opsoek en
daarby aansluit, en daar die prediking van God se Woord hoor en
gehoorsaam, deelhê aan die sakramente en hulle aan die kerkregering en
(waar nodig) aan die kerklike tug onderwerp (Nederlandse
Geloofsbelydenis 28-29).
Kennis van die uitverkiesing van die kerk is ook
noodsaaklik vir evangelisasie. Die ware kerk is oortuig dat die
hoofsaaklike middel vir die bekering van ongelowiges die prediking van
God se Woord is—nie handpoppe, "liedere-boodskappe" of ander
foefies nie. Ons is oortuig dat God die middele wat Hy daartoe bestem
het, gebruik en seën om sy uitverkore kerk te vergader. Met hierdie
vertroue getuig ons van Christus teenoor ongelowiges en streef om hulle
onder die verkondiging van die evangelie van Christus te bring
"want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo"
(Rom. 1:16), naamlik die uitverkorenes.
Wanneer ongelowiges hulle bekeer, is dit daarom nie
tot eer van die prediker of die kerk nie. Die lof kom die Drie-enige God
toe wat, onweerstaanbaar maar vriendelik, húlle roep wat Hy van voor
die grondlegging van die wêreld in Christus uitverkies het.
As min hulle bekeer, moenie wanhoop nie, "Want
baie is [uiterlik] geroep, maar min uitverkies" (Matt. 22:14). Noag,
"die prediker van geregtigheid" (II Pet. 2:5), en Jeremia het
ook min bekeerlinge gehad. Die Here sê: "my woord ... sal nie leeg
na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees is
alles waartoe Ek dit stuur" (Jes. 55:11). Die Skrif maak dit
duidelik dat "almal wat verordineer is tot die ewige lewe,"
gelowig word (Hand. 13:48) en dat almal wat nie verordineer is tot die
ewige lewe nie, nie glo nie, maar verhard word (Eks. 4:21; Rom. 9:18).
As die kerk klein of selfs baie klein is, moet ons
onthou dat God se waarheid oor die kerk nie op sigwaarde bely word nie.
"Ek glo aan ‘n heilige, algemene kerk"—omdat die Bybel so
sê. Dit is nie ‘n saak van ondervinding of waarneming nie, maar van
openbaring. Dit is wat Elia moes leer in dae van afvalligheid en
vervolging (I Kon. 19): "Ek het vir Myself seweduisend manne laat
oorbly wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie. Net so is daar dan
ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die
verkiesing van die genade" (Rom. 11:4-5).
Nou is ons in staat om die dwaasheid te sien in
predikante en kerke wat die uitverkiesing van die kerk ignoreer. Hulle
weet nie waar die kerk vandaankom, waarom dit so groot is as wat dit is,
of waarom dit versamel moet word op die wyse wat die Bybel vra nie!
Daarom is hulle in hulle evangelisiasie oop vir allerhande onbybelse
nuutjies om mense te oorreed om "Christus julle Saligmaker te laat
word."
Verder ruk predikante en kerke wat die uitverkiesing
van die kerk loën, die hart uit die kerk uit, want uitverkiesing is die
cor ecclesiae (die hart van die kerk). Sulke valse leeraars val
die kerk aan; hulle val die kerk aan by sy oorsprong: uitverkiesing. As
dit uitverkiesing loën, kan die kerk net ‘n vrywillige samekoms van
mense wees en nie die tempel en liggaam van Christus, wat die
Allerhoogste van ewigheid af beplan en in Sy genade gevorm het nie. Die
kerk van Jesus Christus is uitverkies voor die grondlegging van
die wêreld en nie na die goedkoop besluite van sondaars nie.
Laat ons dan die waarheid van God se Woord omhels en
God loof vir sy uitverkiesing van sy kerk. Hierdie leer lei ons daartoe
om Hom te loof, want dit is "tot lof van die heerlikheid van sy
genade" (Ef. 1:6; vgl. vv. 12, 14). Onvoorwaardelike uitverkiesing
sal inderwaarheid ‘n einde maak aan baie "lofprysingsdienste"
met hulle "lofprysingsleiers," "lofprysingsgroepe"
en "Christelike rock." Soos Calvyn dit stel, "Hulle wat
nie van predestinasie will praat of selfs huiwerig is om van
predestinasie te praat is doodsvyande van God se lof." Net die
uitverkiesing van die kerk lei tot ware aanbidding en ootmoed voor God:
"Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons
geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus,
soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld
om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees" (vv. 3-4).
(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van
1933/1953)
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.