Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Ewige Verbond

Ronald Hanko

 

Die Skrif praat dikwels daarvan dat die verbond van God ‘n ewige verbond is. Dit is van ewigheid want dit is die verhouding tussen die drie persone van die Heilige Drie-eenheid. Maar dit is ook tot in ewigheid omdat God ons in daardie heerlike drie-enige verhouding opneem en ons deelgenote maak van die goddelike natuur (2 Pet. 1:4). Daar is nie ‘n einde aan daardie verhouding van gemeenskap en liefde nie. God sal ons God wees vir altyd en ewig en ons sal vir ewig sy volk wees (Openb. 21:4).

Terwyl ons dit glo, sien ons God se verbond nie as ‘n ooreenkoms of ‘n kontrak, soos dikwels geleer word, nie. Dit is nie ‘n ooreenkoms tussen die drie persone van die Drie-eenheid om saligheid vir God se volk te bring nie, ook is dit nie ‘n ooreenkoms tussen God en sy volk in Adam of in Christus nie.

Die verbond kan nie ‘n ooreenkoms wees nie.

‘n Ooreenkoms of kontrak is nie blywend nie. Wanneer die voorwaardes daarvan – wat dit ook mag wees – nagekom is, verval die kontrak en kan dit mee weggedoen word. Dit mag ‘n geval van ‘n geskiedkundige kuriositeit wees, maar dit bly nie van krag nie.

Effens anders gestel, is ‘n ooreenkoms of kontrak net die middel tot ‘n doel. ‘n Bottel medisyne is ook ‘n middel tot die doel van gesondheidsherstel. Wanneer ons weer gesond is, het ons nie meer die medisyne nodig nie en kan ons dit weggooi. As die verbond dan ‘n middel tot die doel van saligheid is, sou ons die verbond nie meer nodig hê wanneer on ons saligheid ontvang het nie.

Maar aangesien die Skrif ons leer dat die verbond ewig is, kan dit nie tot ‘n einde kom of oorbodig word nie. Dit is nie die middel nie, maar die doel in sigself. Dit is nie die weg tot saligheid nie, maar die saligheid self. Dit is nie ‘n kontrak wat wegval wanneer dit uitgevoer is nie, maar ‘n geseënde verhouding wat vir ewig duur – ‘n verhouding tussen God en sy volk in Christus.

Is die verhouding wat God met sy volk daarstel dan nie die wesentlike van die saligheid nie? Praat Openbaring 21:3 dan nie van die hoogste heerlikheid wanneer dit ‘n dag belowe waarin God ons God sal wees en ons sy volk nie? Dit, glo ons, is God se verbond. En daardie verbond is ewig.i

Ewige lewe, sê Jesus in Johannes 17:3, is om God te ken en Jesus Christus wat hy gestuur het. Ook dit is God se ewige verbond met sy volk. Daar kan waarlik niks heerliker wees nie. Selfs strate van goud kan nie daarmee vergelyk word nie. Die ewige verbond, en dit alleen, is die ware glorie van saligheid, van die hemel en van die ewige lewe.

Maar nie almal sal dit smaak nie. Net hulle wat in Jesus Christus geglo het sal God sien en Hom ken, want Hy is die weg na die teenwoordigheid van die Vader. Dit is waarom Johannes 17:3 nie net daarvan praat om God te ken nie maar ook om Jesus Christus te ken.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine according to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 62-63.

(Vertaal deur Nic Grobler
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

i In Die Kosbare Goud (Gereformeerde Geloofsleer), Red. D.N. Kotze, J.V. Coetsee. ( Potchefstroom 1942), op p. 107 verwys Ds. J.A. Schuttte na die verbond as ‘n "beskikking" van God.