Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die twee en veertig maande

Ds. Angus Stewart

 

Baie mense wonder oor die twee en veertig maande in die boek Openbaring (11:2; 13:5). Is dit letterlike maande, of figuurlik? Wanneer begin hulle? Wanneer eindig hulle?

Hoofstukke 11-13 van Openbaring bevat vyf verwysing na verskillende tydsverloop, wat ek aanhaal in die volgorde waarin hulle in die geïnspireerde teks voorkom. “Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap” (11:2). “En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer” (11:3). “... die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ʼn tyd en tye en ʼn halwe tyd” (12:14). “En ʼn mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande lank te doen” (13:5).

U sal merk dat in die drie hoofstukke daar drie tydperke genoem word: 1,260 dae, wat twee maal genoem word (11:3; 12:6); 42 maande, wat ook twee maal genoem word (11:2; 13:5) en ‘’n tyd, tye en ‘’n halwe tyd, wat een maal genoem word. (12:14).

Kom ons kyk noukeurig na hierdie drie tydperke. Eerstens, wanneer ons reken dat daar 30 dae in ‘’n maand is, hoeveel dae is daar dan in 42 maande? Die antwoord is 1,260 dae! Tweedens, hoeveel jare is 42 maande? As daar 12 maande in ‘’n jaar is, is 42 maande 3 ½ jaar, wat gelyk is aan “ʼn tyd [1], tye [2] en ‘’n halwe tyd [½]” (12:14). Hierdie drie tydperke is dus dieselfde! Die 1,260 dae is gelykstaande aan 42 maande, wat weer gelyk is aan 31/2 jare of tye.

Is daar enige aanduiding in Openbaring 11-13 dat hierdie drie tydperke dieselfde en gelyklopend is? Ja. Eerstens word, in Openbaring 11, die 42 maande in vers twee genome en direk daarna in vers 3, die 1,260 dae. Tweedens word die vrou, die kerk, in Openbaring 12 in die woestyn versorg vir 1,260 dae en in ‘’n parallelle stelling in hoofstuk 14, dat die vrou op haar plek in die woestyn versorg word vir “ʼn tyd en tye en ʼn halwe tyd,” dit wil sê, 3 ½ tye of jare.

Nou dat ons weet dat die 1,260 jaar die 4 maande, die 3 ½ jaar of 3 ½ tye is, kan ons kyk wanneer dit begin en wanneer dit eindig.

In Openbaring 12 het die vrou ʼn manlike kind gebaar wat die nasies regeer, Jesus Christus, en wat na sy troon in die hemel opvaar (vs. 5). Wat gebeur met die vrou na Christus se hemelvaart en regering vanuit die hemel? “En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ʼn plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend twee honderd en sestig dae lank” (vs. 6). Die 1,260 dae begin dus met die hemelvaart van Christus toe Hy gaan sit aan die regterhand van God.

Hierbenewens is en tye van die hemelvaart van Christus na sy troon, Satan uit die hemel gewerp (vs. 9-10, 13) en vervolg die vrou vir 3 ½ tye of jare (vs. 13-14). Dit is duidelik dat die 1,260 dae en die 3 ½ jare of tye op dieselfde tydstip begin, naamlik met die troonbestyging van Christus in die hemel.

Wanneer kom die 1,260 dae of 3 ½ tye of jare tot hulle einde? Ons kan vra, wanneer hou die duiwel op om die vrou, die kerk, aan te val? Wanneer hou God op om die vrou, die kerk, te bewaar, te voed en te versorg? Die antwoord is by die wederkoms van ons Here Jesus Christus, wanneer die duiwel in die poel van vuur gewerp sal word en die hele algemene of universele kerk verheerlik sal word!

Ons sien dieselfde waarheid aangaande die einde van die 1,260 dae of 42 maande of 3 ½ tye, in Openbaring 11. Die twee getuies profeteer vir 1,260 dae (vs. 3). Daarna breek die ewige heerskappy van Christus oor alle koninkryke aan in die nuwe hemel en die nuwe aarde (vs. 15), wat op die opstanding van die dooies en die laaste oordeel volg en wat die beloning van God aan sy heiliges insluit (18). Uit hierdie studie van die 1,260 dae in Openbaring 11 sien ons weereens dat ons tydperk afsluit met die liggaamlike wederkoms van die vleesgeworde Seun van God.

As ons dus alles saamneem, wanneer begin die 1,260 dae of 3 ½ tye in Openbaring 11-13? Met die hemelvaart en troonsbestyging van die Here. Wanneer eindig die tyd? Met die wederkoms van Christus, wanneer die “koninkryke van die wêreld die eiendom van onse Here ... en van sy Christus [geword het], en Hy ... as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

In Christologiese terme verloop die 1,260 dae, die 42 maande of 3 ½ tye vanaf die hemelvaart en troonsbestyging van Christus tot sy wederkoms aan die einde van die tyd. Kragtens jare sou die tydperk ongeveer vanaf 33 n.C. tot vandag, ongeveer 2000 jaar later. Met ander woorde die 1,260 dae, 42 maande of 3 ½ tye verloop tesaam met die “laaste dae”, ‘’n ander belangrike uitdrukking wat vir die tyd tussen die troonsbestyging van Christus en sy wederkoms op die wolke, gebruik word.

Daarom moet ons nou die vraag beantwoord of die 1,260 dae of 432 maande of 3 ½ tye letterlik of simbolies is. Dit is ooglopend nie letterlik nie, want baie meer as 42 maande het verloop sedert die hemelvaart van Christus! Die tydperk is simbolies, soos ons kan verwag in ‘’n boek wat ons in die heel eerste vers al sê dat die waarheid wat dit bevat te “kenne gegee” (voorgeteken of geopenbaar) is (Openbaring 1:1). Dit stem ooreen met ander simboliese getalle in die laaste boek van die Bybel, soos die 24 ouderlinge, die 7 seëls, basuine en goue skale, die 144,000 heiliges, ens.

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.