Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Heerlike dinge word van die kerk gesê (2)

Ds. Angus Stewart

 

Die heerlike verhoging, magtige vesting en onwankelbare vastigheid van Jerusalem (Ps. 87:1) verwys na Jesus Christus, die fondament van die kerk, "Want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat daar gelê is nie, dit is Jesus Christus" (1 Kor. 3:11). Die kerk is gevestig in die bloed van haar Hoof en Verlosser. Die kerk se onwrikbaarheid lê ook vas in haar ewige uitverkiesing in Christus, want Christus en uitverkiesing is onlosmaaklik (Ef. 1:4). Die kerk is in die Here Jesus verkore en staan daarom onwankelbaar vas in God se uitverkiesende raadsplan. "Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is ... " (II Tim. 2:19).

Die kerk is ook gegrondves in die ewige genadeverbond van God met sy uitverkorenes in Christus. Dit was die wil van die Vader, die Seun en die Heilige Gees om die ryke gemeenskap van die Drie-eenheid met 'n volk, verlos in die bloed van ons Saligmaker, te openbaar. Dit is "‘n ewige verbond ... wat in alles gereël en verseker is" (IISam. 23:5). God het belowe en 'n eed gesweer, om vir ewig ons God, én die God van ons nageslag ná ons, te wees (Gen. 17:7; Hand. 2:39).

God se ewige uitverkiesing en verbond in Christus is gewortel in die ewige natuur en eienskappe van God. Die kerk is dus gegrondves op die eindelose en ewige genade, trou, geregtigheid, mag, heiligheid, liefde, wysheid en waarheid van God!

Wat 'n fondament vir die kerk! Hoe hoog is die berge waarop sy gebou is: die verhewe plekke van die ewigheid in Christus; in die hart en siel van onse God – oneindig hoog! Veel hoër as die ydele spekulasies van die grootste filosowe!

Wat 'n bolwerk is hierdie berge nie! Die kruis van Christus is ons toevlug en ons sterke toring! Ons verdedigingswerke is die waarheid en goedheid van God! Ons word beskerm deur 'n onvoorwaardelike verbond in Christus. God belowe sy kerk, "Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie" (Heb. 13:5) en "Hy alleen is my rots en my heil, my rotsvesting" (Ps. 62:2,6).

In die geloof verwonder ons ons aan die standvastigheid van die kerk. Sy word versamel en beskerm vanaf Genesis 3 tot vandag en tot die wederkoms van Christus en sy sal ewig lewe by die Die-enige God. Wêreldryke het geval – die Babiloniese ryk, Die Medo-Persiese ryk, die Griekse ryk, die Romeinse ryk, die Mongoolse ryk, die Britse ryk, die Napoleontiese ryk, en so meer – maar die kerk bly staan met groter vastigheid as al die berge van die wêreld.

En dit ten spyte daarvan dat die kerk van die Here Jesus groot vyande het: die wêreld, die sondige natuur van die mens, en die duiwel; heidense godsdienste, die valse kerk en anti-Christelike regerings, kettery en skeurmaking. God se ewige verbondsraad met Christus in sy kerk staan vas. "Welgeluksalig is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel uitgekies het" (Ps. 33:12)!

"Heerlike dinge word van u gesê, o stad van God!" (87:3). "Heerlik" beteken gewigtig, gelaai met betekenis en belangrikheid. Dit dra ook die betekenis van skittering en glans wat die Goddelike lig in ons hart en sinne laat skyn. Die belang en die glans of heerlikheid van die kerk is eienskappe wat afgelei word van haar Hoof, Jesus Christus, in wie se aangesig die heerlikheid van God skyn (II Kor. 4:4,6).

"Die HERE het die poorte van Sion lief bo al die wonings van Jakob" (Ps. 87:2). Die Here het geen liefde vir die verworpe bose nie: "Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet" (11:5). Teen húlle word "die toorn van God ... van die hemel af geopenbaar" (Rom. 1:18). Maar God het sy volk Israel lief, in Naftali en Issaskar en Juda en Ruben, ens., van Dan tot in Berséba. Maar nie elke individuele etniese Jood nie, "want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie" (9:6). In die dae van die Nuwe Testamentiese katolieke of algemene kerk het Jehovah sy uitverkorenes in Christus lief, waarookal hulle is, hetsy Jood of heiden.

In die Ou Testamentiese beeld van Psalm 87 het die Here Jerusalem en Sion meer lief as enige stad of berg in Israel (2), laat staan die res van die wêreld. Jerusalem/Sion is verhewe en besonder heilig (1). Dit was in besonder deur God gekies as die hoofstad en plek van die troon van Dawid en die tempel met die ark, priesterskap, offers en aanbidding (78:67-72). Deur die "poorte" van Jerusalem/Sion het die volk op hulle bedevaart ingekom om saam die Here te kom loof en aanbid.

In die dae van die Nuwe Testament is God se liefde toegespits op sy heiliges waar hulle in openbare erediens op die Dag van die Here saamkom – méér so as in ons huise, by die werk of universiteit, en meer as op ander dae. Waarom? Omdat in die kerk se Sabbatsdiens al die heiliges tesaam is met dié een groot doel om, in gemeenskap met mekaar, ons Verbondsgod te loof. Die Woord van God word gelees en deur 'n geroepe ampsdraer eerbiedig verkondig. Die hele gemeente is saam in gebed deur ons Middelaar, Jesus Christus. Ons bring ons offergawes vir die uitbreiding van Christus se koninkryk en die versorging van medegelowiges. Die deur God geïnspireerde Psalms word met blydskap en insig gesing. Tesame bely die gemeente sy sondes en ontvang in die geloof die ryke seën van God. Genadegawes word gebruik en ons en ons kinders nader tot Jehovah in aanbidding. Dit is dus nie vreemd dat "Die HERE ... die poorte van Sion lief(het) bo al die wonings van Jakob. Heerlike dinge word van u gesê [deur Jehovah, deur Christus, deur die heilige engele en deur die heilige gelowiges], o stad van God" (87:2-3)!

Dit is geen wonder dat Satan die kerk (as instituut) so in die besonder aanval nie. Hy streef daarna om die kerk te verswak deur Bybelse en gereformeerde prediking, leer, belydenisse, erediens, kerkregering en tug te ondermyn. Hy soek afvalligheid en omverwerping van getroue kerke, want hy weet dat die kerk die "pilaar en grondslag van die waarheid" is (I Tim. 3:15), en dat sy God se heerlike Woord in Jesus Christus, dra en leer.

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.