Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Lam Neem die Boek (2)

Ds. Angus Stewart

 

In die vorige News het ons gesien dat Jesus Christus die boek neem en so die ewige raadsplan van God vir alle dinge volvoer (Openb. 5). Van Christus, die Lam, word gepraat as ‘n magtige "Leeu" om Johannes van Christus se oorwinning te verseker (5). Leeus het ‘n luide, skrikwekkende gebrul (vgl. 10:3; Amos 3:8). Leeus het lang skerp tande om hulle prooi mee te gryp en te verskeur (hulle blaf is nie erger as hulle byt nie!). Hulle kake is sterk en hulle greep is sterk. Die krag van leeus is spreekwoordelik (Spr. 30:30; Rigt. 14:18). Leeus ken hulle krag, daarom praat ons van iemand wat so "sterk is soos ‘n leeu" (Spr. 28:1). David het gesê dat hy vir Goliat kans sien omdat hy al ‘n leeu verslaan het (1 Sam. 17:34-37).

Leeus is koninklike diere (hulle brul en verskeur nie net nie, hulle regeer ook!) Is die leeu nie die koning van die diere nie? Koning Salomo het twee leeus weerskante en twaalf leeus op die trappe van sy troon gehad (1 Kon. 10:20). Jesus is ‘n afstammeling van die konings. Hy het gekom uit die koninklike stam as "die Leeu uit die stam van Juda" (Openb. 5:5). Toe daar oor Hom geprofeteer is as koning van Juda (Gen. 49:10), is Juda beskryf as ‘n leeu (9). Christus stam af van Israel se grootste koninklike figuur: "Dawid" (Openb. 5:5). Dawid was die eerste koning uit Juda, ‘n groot en seëvierende koning, hoof van ‘n dinastie wat oor 400 jaar gestrek het. Christus is ‘n ewig seëvierende koning.

Volgens die profesie van Jesaja 11:10 is Christus die "wortel" van die koninkryk in Jerusalem. Nie net is Christus uit die geslag of nakomeling van Dawid nie; Hy is "die Wortel van Dawid" (Openb. 5:5;22:16). Christus, nie Isai nie, is die oorsprong van Koning Dawid. Christus se Gees was in Dawid om hom soos Christus te maak. Dawid is tipe en beeld van Christus se koningskap. Christus se krag het Dawid op die troon geplaas en sy oorwinnings bewerk. Soos Dawid deur God op die troon geplaas is en sy wil uitgevoer het deur sy volk te beskerm en regeer en sy vyande te vernietig, so volkome regeer die Here Jesus in die koninkryk van God.

Christus se leeuekrag en vorstelikheid word vereis vir Hom om die boek te neem. Net ‘n koning pas in die omgewing van Openb. 5; God it op sy troon as universele heerser en selfs die 24 ouderlinge is koninklike figure met krone en trone. Net ‘n koning is vir die taak geskik. Die taak is ‘n koninklike opdrag van Hom wat op die troon sit. Dit behels sitting op ‘n koninklike troon (vgl. 22:1). Die taak behels koninklike heerskappy oor die ganse heelal in die uitvoering van God se allesomvattende soewereine raadsplan.

Christus verskyn hier as ‘n geslagte Lam, want só het Hy die oorwinning aan die kruis behaal. Die ouderlinge spreek van ‘n Leeu (5:5), en kyk, in plaas van ‘n brullende, verskeurende koninklike leeu, sien ons ... ‘n Lam. ‘n Lam is ‘n klein, wit, wollerige skepseltjie, die toonbeeld van hulpeloosheid en swakheid. Net ‘n "geslagte" lam het minder krag as ‘n klein lammetjie (Openb. 5:6). ‘n Lam is ‘n skerp teenstelling van ‘n leeu. Almal is bang vir leeus; niemand is bang vir lammers nie. Leeus is wilde vleiseters, lammers is mak planteters. Lammers eet gras; leeus eet lammers. Maar Christus is nie somaar enige Lam nie. Hy is die Lam wat in die Ou Testament afgeteken is. Hy is die Paaslam wat die swaard van die engel van wraak teëgehou het. Hy is die Lam van Jesaja 53:7 wat ‘n deel kry as die Grote (12). Kort gestel, Hy is die sondelose Lam van God wat die sondes van die wêreld weggeneem het (Joh. 1:29). As die Lam "wat geslag is", is Hy die offerlam. So het God Hom gestel reeds vóór die grondlegging van die wêreld (Openb. 13:8). God het al die sondes van sy volk aan Hom toegereken en Hy het die toorn van God oor ons ongeregtighede in ons plek gedra en ons met sy bloed vrygekoop (5:9). Die kruis was die Lam se geskiedkundige, beslissende en onherroeplike oorwinning. Daar het Christus die uitverkorenenes gekoop, Satan en die wêreld verslaan en die hart van die Drie-enige God verheug! Hy is nou die verhoogde Lam. Die geslagte Lam leef deur sy opstanding uit die dood. Die Lam wat op die aarde geslag is, staan in die hemel te midde van die troon, die diere en die ouderlinge, deur sy hemelvaart.

Christus moet én Leeu én Lam wees om die boek oop te maak. Die verhewe, koninklike Leeu moet eers die nederige, priesterlike Lam word. Die seëvierende Leeu se mag kom deur die Slagofferlam se swakheid. Die stilte van die Lam breek uit in die brul van die Leeu. Christus is waardig om die boek te neem want, as die Leeu het Hy die mag, en as die Lam wat sy bloed vir ons gestort het, het Hy die reg. Geen wonder niemand anders kon die boek opmaak nie!

Die nederige, swak Lam het koninklike eienskappe. Die Lam het "sewe horings" – alvermoë (6). Die Lam het "sewe oë" – alwetendheid (6). Die Lam het die Heilige Gees in al sy verbondsvolheid ontvang (6). Die Lam kom en neem die boek en heers oor die heelal (7)! Almal in die hemel aanbid die enigste Een wat waardig is om die boek oop te maak (8-14)!

Hierdie Woord van God gee aan ons ‘n heerlike visioen om ons te help in vervolging en in nood. Openbaring is oorspronklik geskryf aan ‘n volk wat deur die tipiese Romeise Ryk verdruk is. Hoewel die finale Anti-Christelike ryk vandag nog nie in sy volheid hier is nie (Openb. 13), voel ons reeds sy invloed. Ons word verlei om geld, plesier en stoflike gerief bo die koninkryk van God te stel. Ons is onder druk om die waarheid van Christus af te water ter wille van vals ekumenisiteit en sinkretisme. Op verskeie maniere word ons ter wille van die Woord van God verdruk.

Agter al die dinge is die hemelse heerskappy. Ons kyk dikwels vas teen aardse gebeure, maar ons moet opkyk, en bly opkyk, na die uitsigte op ‘n beter wêreld. Die boek is die bron van al wat gebeur. Die mens en aardse rampspoed is net middele. Die grondoorsaak van alle dinge is die ewige raadsplan van die Drie-enige God. Die seëvierende Lam is op die troon; ons Saligmaker voer God se raad uit! As die priesterlike Lam het hy medelye met ons swakhede. Dieselfde Lam wie se liefde Hom daartoe gelei het om sy bloed vir ons te stort, het ons steeds lief. Hy wat vir ons gesterf het, sal ons bewaar. Ons kan, en sal, persoonlik en gesamentlik in verskeie strydperke verloor, maar ons deel in die finale en alomvattende oorwinning van die Lam. Die "toorn van die Lam" (6:16) sal hulle wat sy kerk wat Hy met sy bloed gekoop het, aanval, vernietig.

So lank as wat ons dit nie glo nie, sal ons "baie ween" – trane van verydeling. Ons sal nie moed hê vir die stryd nie. Ons sal maklik onder ons beproewinge swig. Christus het aan die kruis oorwin en heers oor alles: "Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof" (12)!

(Vertaal deur Nic Grobler.
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)