Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Wet en die Verbond

Ronald Hanko

 

Die unieke kenmerk van die verbond met Israel was natuurlik die gee van die wet op die berg Sinai. Wat is die verhouding tussen die wet en die verbond?

Galasiërs 3:17-21 is grondliggend aan die begrip van hierdie verhouding. Hierdie gedeelte wys, eerstens, dat die verbond met Abraham vierhonderd jaar voor die gee van die wet, dié verbond is wat "in Christus ... bekragtig is", dit wil sê die een ewige verbond van God; en, tweedens, dat die gee van die wet nie die verbond kragteloos kon maak nie (v. 17). In der waarheid is die wet nie eens teen die verbond nie (v. 21).

Eksodus 24:7 gaan sover as om die wet die "boek van die verbond" te noem, die boek waarin God sy verbond met sy volk bekend maak. As die verbond waartoe die wet behoort die verbond is wat in Christus bekragtig is—dieselfde verbond waartoe ons behoort – dan is die wet steeds die boek van die verbond, alhoewel baie sedertdien by daardie boek gevoeg is.

Volgens Galasiërs 3:19 is hierdie geskrewe wet by die verbond gevoeg weens die oortredinge, totdat Christus sou kom. Dit beteken dat die wet, deur die sonde te openbaar, ons behoefte aan Christus toon. Dit was "ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof" (v. 24) in Hom.

Romeine 10:4 sê baie dieselfde. Dit sê nie dat Christus die einde van die wet is in die sin dat Hy die wet wegneem nie, maar wel dat Hy die einde van die wet is omdat Hy die wet se doel en oogmerk is. Die wet is gegee met Christus as die doel, en dit verwesenlik die oogmerk wanneer dit, deur die sonde te openbaar, die ware Israel hulle behoefte aan Christus en aan regverdigmaking deur geloof in Hom toon.

Paulus wys duidelik in Romeine 7:7 dat die wet steeds hierdie funksie verrig:"... ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie." Galasiërs 3 bewys dit ook wanneer dit sê dat die wet nie net die tugmeester van die Jode was nie, maar ook van ons. (vv. 23-24).

Ons het dus geen probleem om te sê dat die wet deel is en was van die verbond nie. Dit was seker deel van die verbond in die Ou Testament, soos Galasiërs 3:19 ons dan ook herinner. Dat dit steeds tot die verbond behoort is duidelik uit die feit dat dieselfde wet steeds ons tugmeester na Christus toe is. Wat verander het is ons, die verbondsvolk, se verhouding tot die wet, maar dit is ʼn ander onderwerp, die onderwerp van Galasiërs 4:1-7.

Hiermee word nie ontken dat daar "eerste beginsels van die wêreld" en elemente wat bloot seremonieel is aan die wet verbind word nie (Kol. 2:20-23). Hierdie het opgehou, maar selfs in die Ou Testament was hulle deel van die verbond daarin dat hulle na Christus heengewys het en vir Israel ʼn "tugmeester" na Christus toe was.

Die tersaaklike is dat daar net een verbond is, ʼn verbond wat nie in botsing is met die wet nie, ʼn genadeverbond in Christus waaraan die hele ware Israel behoort. God se wet was nie, is nie en sal nooit teen God se verbond wees nie.

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine according to Godliness (2004, Reformed Free Publishing Association, Grandville, MI, VSA), pp 175-176.

(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.