Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Oorsprong van die Skrif (2)

Ds. Angus Stewart

 

In die vorige artikel oor die hamer van God het ons aan die feit van die goddelike oorsprong van die Bybel aandag gegee: “geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie,” maar deur die wil van God. Ons wil nou aandag gee aan die middele wat God gebruik het om sy Woord te skryf: “deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:21).

Wat in die Skrif geskrywe staan en die woorde wat daarvoor gebruik is, is deur die wil van God bepaal. Die Bybel het ewewel nie uit die hemel geval nie en die Skrif self sê dat Jesaja, Dawid en ander die woorde van die Bybel geskryf het. Daarom moet ons oor die rol van die heilige skrywers wat, “deur die Heilige Gees gedrywe, ... van God gespreek” het, besin. Die woord “gedrywe” is 'n baie sterk uitdrukking. Dit beteken letterlik dat hulle nie net soos hulle deur die Heilige Gees gelei en aangewys is, geskryf het nie, maar soos deur die Heilige Gees ‘voortgedra,’ dieselfde Griekse woord (pherō̄) wat in Handelinge 27:15, 17 gebruik word vir Paulus se skip wat (op die seestrome) wegdrywe. Dat hierdie manne deur die Heilige Gees gedra is, beteken dat hulle as ‘t ware deur die Heilige Gees opgeneem is en bekragtig is om die woorde van God neer te skryf presies soos God bedoel het dat hulle moet skrywe.

Die soewereine beheer van God oor die skrywers het nie hulle persoonlikhede negeer of van hulle robotte gemaak nie. Dit impliseer nie dat Paulus Openbaring kon geskryf het en dat Johannes Handelinge kon geskryf het nie. God het vooruit dié mense bestem om te skryf wat Hy wil. Hierdie vroom skrywers word “heilige mense” (2 Petrus 1:21) genoem, nie soseer vanweë hulle persoonlike heiligheid nie, maar om aan te dui dat hulle afgesonder is en toegerus is om besondere boeke van die Woord van God neer te skryf. God het in sy ewige raad en soewereine voorsienigheid die verskillende manne voorberei om die Skrif te skrywe. God het, byvoorbeeld, bepaal dat Jeremia 'n priester sal wees, gebore in Anatot, wat met 'n godsdienstige opvoeding 'n bepaalde literêre styl en emosionele benadering sou hê. God het verordineer dat hy enkellopend sou wees, 'n vriend met die naam Barug sou hê en dat hy in sy lewe die vernietiging van Jerusalem sou aanskou. Op die manier het God Jeremia voorberei om sy Woord só te skryf dat woordkeuses, sinskonstruksie ens. dié van Jeremia sou wees. God het inderdaad elkeen van sy skrywers gebruik om bepaalde boeke te skryf in ooreenstemming met die besondere persoonlike styl wat Hy in sy ewige raad en voorsienigheid aan hulle gegee het. Die daarstelling van die Heilige Skrif is inderdaad 'n groot wonder: “o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!” (Romeine 11:33).

In u Bybelstudie, gelowige, kan u absoluut seker wees dat die Bybel die Woord van God is. Maak dié waarheid die eerste beginsel by die verstaan van die Heilige Skrif, dat: “julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ʼn saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ʼn mens voortgebring nie; maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:21, 22).

(Vertaal deur Nic Grobler. Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.