Die Amp van Herder/Leeraar
Rev. Angus Stewart
Anders as die ampte van apostel, profeet en evangelis
(wat ons in die vorige News behandel het), is die amp van herder
en leeraar (die ander kerklike amp wat in Ef. 4:11 genoem word) nie ‘n
buitengewone amp nie (hoewel dit ‘n besondere amp is). Eerstens het
die buitengewone ampte (apostel, profeet en evangelis) die volgende of
sommige daarvan betrek: ‘n buitengewone roeping, direkte openbaring en
wonderwerke. Nie een van hierdie buitengewone gawes is deel van die amp
van herder/leeraar nie. Tweedens is die buitengewone ampte tydelik, en
met die apostoliese era afgesluit, terwyl die amp van herder/leeraar (soos
die ampte van ouderling en diaken) permanent is en duur tot met Christus
se wederkoms (vgl. I Tim. 3; 6:14). Derdens behels die buitengewone
ampte gesag oor die kerke in die algemeen (en het gewoonlik reisendheid
ingesluit), terwyl herders/leeraars deur ‘n besondere kerk geroep
word.
Die hoofsaaklike ooreenkoms tussen die drie
buitengewone, tydelike ampte en die besondere, permanente amp van
herder/leeraar—en die rede waarom van hierdie vier ampte in Ef. 4:11
gepraat word—is dat al hulle almal leerampte is. Jesus Christus,
die opgevare hoof van die kerk, het ruim voorsiening gemaak vir die
toerusting en opbouing van sy mense (vv. 11-16). In die apostoliese tyd
is apostels, profete en evangeliste, sowel as plaaslike herders/leeraars,
geroep om die kennis van Christus te versprei. In die na-apostoliese tyd
word amptelike prediking van die Woord aan herders/leeraars opgedra.
Daar is nie hier of elders in die Heilige Skrif melding van, of
voorsiening vir, of behoefte aan ‘n pous wat onfeilbaar ex cathedra
spreek, laat staan nog ander onbybelse en teenbybelse ampte soos
aartsbiskoppe en kardinale, nie.
Die amp van herder/leeraar is nie net te onderskei
van die buitengewone ampte van apostel, profeet en evangelis nie, maar
dit is ook onderskeie van die besondere, permanente ampte van (regeer)ouderling
en diaken. Diakens bedien hulp en ouderlinge regeer, terwyl die essensie
van die amp van die herder is om te leer. Nietemin regeer leerouderlinge
ook, en het regeerouderlinge leergawes ten einde in die kerk te kan
regeer (vgl. "bekwaam om te onderrig;" I Tim. 3:2). Die
bybelse onderskeid tussen ‘n leerouderling—herder/leeraar in
Efesiërs 4:11 en "engel" of "boodskapper" in
Openbaring 2-3—en ‘n regeerouderling, word gemaak in I Tim. 5:17.
Dit is dus duidelik dat die Bybel vereis dat daar
besondere ampte in die kerk as instituut sal wees. Dit is nie ‘n geval
van dienstigheid, of natuurlike ontwikkeling of menslike bedenksel nie.
Die kerklike ampte van herder/leeraar, ouderling en diaken is deur God
verordineer vir die hele Nuwe Testamentiese tyd. Om kerklike ampte te
verwerp is om jouself wyser as God te ag, want een van die heerlike
doeleindes van Christus se hemelvaart (Ef. 4:8) is om ampsdraers te gee
om sy liggaam op te bou (v. 11).
Nie almal is besondere ampsdraers is God se kerk nie.
Kinders, klaarblyklik, ontbreek die vermoë en Christus verbied vroue
ampsdraers. "Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee [dit
is, ‘n vrou kan nie ‘n herder/leeraar wees nie] of oor die man te
heers [as herder/leeraar, ouderling of diaken, want al drie behels gesag
oor die man] nie, maar sy moet haar stil hou" (I Tim. 2:12). Ook
word nie alle manne nie, maar net sommiges geroep en bevestig in die
besondere ampte.
Dít doem alle verwerping van kerklike ampte by die
Anapbptiste en die broederisme met hulle allemansbediening en
allemansprediking. Hulle beskouing kyk net na gawes en nie ook na
roeping en amp nie. In die kerke van die Reformasie is dit gebrandmerk
as "fanatisisme" en "dwepery," want Christus het net
spesefieke "ander" as herders en leeraars gegee ("ander"
word bepaal deur "sommige" in Ef. 4:11). Die opgevare Christus
wat "ander as herders en leeraars" gegee het, verbind
amptelike prediking aan die amp van herder/leeraar (vgl. die Westminster
Larger Catechism, V. & A. 158).
Dit moet ook genoem word dat, hoewel daar "ongelykheid"
onder gelowiges is, wat betref die besondere ampte, ons almal gelyk
staan in die amp van die gelowige (Ef. 4:7). Die weg waarlangs ons in
ons van God gegewe amp as gelowige groei, sluit in dat ons nie ons doel
verbystrewe as lekepredikers nie. Ons groei eerder in genade deur te
berus in die plek in die kerk wat God ons aangewys het, en gehoorsaam te
wees aan die getroue prediking deur ware herders wat deur die opgevare
Christus vir ons opbou gegee is (vv. 11-16). Dit is ook die manier om
bybelse eenheid in die kerk te bewaar (vv. 1-6).
As "herder" (v. 11) is ‘n Christelike
predikant ‘n geestelike skaapherder. ‘n Skaapherder wys die kudde
wat Christus aan hom toevertrou het die pad aan, laat hulle wei, regeer
hulle, lei hulle en beskerm, tel en ken hulle. Hy moet dit wyslik,
sagkens en voortdurend doen. Sy sorg is daarin geleë dat afgedwaalde
skape nie verlore gaan nie, kwetsbare skape teen roofdiere beskerm word,
siek skape van siekte genees word en honger skape met goeie weiding
gevoed word. As "leeraar" (v. 11) pas hy die kudde op deur
getroue verklaring en toepassing van die Woord van God.
Jesus Christus is, as die "groot Herder van die
skape" (Heb. 13:20), die voorbeeld vir alle herders/leeraars. Hy is
die "goeie herder" wat sy lewe vir die skape afgelê het (Joh.
10:11) en wat hulle "vir Hom ... deur sy Gees en Woord ... vergader,
beskerm en onderhou" (Heidelbergse Kategismus, A. 54).
Hierdie "Herder ... van ons siele" (I Pet. 2:25) gee
onderherders en rus hulle toe as herders en leeraars, uit liefde vir die
kudde. Ons eer Hom deur op hulle ag te gee.
(Vertaal
deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die
Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.