Home C. R. News Books Articles Audio S. Wales Languages Contact
Services Faith Pamphlets Quotes Radio Limerick Search Links

Die Berymde Psalms in Gebruik

by die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

(www.gksa.org.za)

 

1:1
Welsalig hy wat op die spoor nie gaan
waar sondaars lok; wat op hul pad nie staan,
of neersit waar die spotglans in die oog is,
waar spotters vrolik spot met al wat hoog is;
maar wat Gods wet in stille mymering,
by dag en nag, weer in gedagt'nis bring.
1:2
Hy is 'n boom wat diep en vas geplant,
sy wortels uitsprei by die waterkant;
en mild versorg deur vrugb're lentelugte,
sy volle drag laat sien van somervrugte.
Geen onspoed wat hom in sy werk sal stuit:
wat hy begin, voer hy voorspoedig uit.
1:3
So is die sondaar nie; sy aardse tyd
is wisselspel en onbestendigheid.
Hy's soos die kaf aan stormwind prysgegewe;
in nietigheid, so eindig hy sy lewe;
hy hou nie stand waar God se volk Hom eer,
of waar die straf tot weervergelding keer.
1:4
God ken die pad waarop sy volk moet gaan;
sy oog is dit wat hulle gadeslaan
en met sy lig hul lewenspad bestraal het;
maar sondaarspad wat van Hom weggedaal het -
dit moet vergaan; onkeerbaar in hul spoed,
loop hul oplaas 'n afgrond tegemoet.

 

2:1
Wat dring en dryf die wilde heidendom,
dat volke raas in opgewondenheid?
Gedugte konings staan gereed alom,
en wêreldgrotes raadslaag vir die stryd,
om God almagtig na die kroon te steek
en saam teen sy Gesalfde op te staan.
Hul sê: "Kom nou, laat ons hul bande breek
en van hul juk vir altyd ons ontslaan!"
2:2
Maar God die Heer wat sy gedugte stoel
bo sterre stig, sien van sy hoogtes neer;
Hy lag en spot dat hul so vrugt'loos woel
en, magteloos, verniet hul krag verteer.
God sal sy wraak laat neerstraal voor hul oog;
dan gloei die lug van vlammmende-onweerslig.
Dis God wat spreek! Hy donder van omhoog
en jaag sy skrik hul in die aangesig.
2:3
"Durf jy dit waag om met my krag te twis?
Sal niet'ge stof My my gesag ontwring?
Of weerstand bied aan wie almagtig is?
Ontsien my toorn, verdwaasde sterweling!
Vergeefs wil jul my ryksbestel weerstreef.
Ek het my Vors gesalf - wee, wie Hom hoon! -
op Sionsberg van heiligheid omgeef,
waar Hy sal heers en ewig sit ten troon."
2:4
En Ek, die Vors, so hoog in mag en eer,
sal Gods besluit die wêreld oor laat klink:
"Ek self (sê God) het U gegenereer:
U is my Seun, uit wie my beelt'nis blink.
Spreek dan u eis, Ek skenk dit U gewis.
En dat u troon vir ewig vas mag bly,
gee Ek die volke tot u erfenis
en wêreldwydtes tot u heerskappy.
2:5
"Die trotsaards sal U met u ysterstaf
soos erdepotte slaan tot gruis en skerf;
U sal, as eers u hand ontwaak tot straf,
hul opstandslus tot in die grond verderf."
O konings, graag gehuldig en geëer -
laat nooit u hoogheid Gods Gesalfde hoon!
O regters, wat oortreders regstug leer,
aanvaar die tug wat u sy liefde toon.
2:6
Kom, dien die HEER en wees in Hom verblyd
met blydskap wat Hom huldig as die HEER,
en kus die Seun in onderworpenheid,
buig jul voor Hom met vrees en bewing neer.
Want ligt'lik kan Gods gramskap jul verteer
net soos 'n vuur, eers alte klein geag.
Welsalig wie Hom huldig as hul HEER,
wie by Hom skuil en op sy bystand wag.

 

3:1
Hoe groei my teenparty!
Hoe dring hul naderby!
Ek hoor al hoe hul laster:
"Hy het geen heil by God."
Hul hoon my met hul spot
en keer my altyd vaster.
Maar U sal hulle stuit;
U voer die oorlog uit,
my God, my skild, my ere!
U hef, trots hul gerug,
my hoof weer in die lug,
want U verhoor my, HERE!
3:2
Van God se trou bewus,
was slaap my veil'ge rus
tot ek versterk ontwaak het.
Ek sal hul nou nie vrees,
hoe sterk hul ook mag wees
wat my rondom genaak het.
Staan op, verlos my, HEER!
Verbreek hul tande weer!
U tem die oorlogsvolke!
Aan U die heil alleen!
Stort op u erf 'n seen
soos druppels uit die wolke.

 

4:1
Verhoor my, HEER, in donker dae,
God van my reg, send troos vir my!
U wat my voer uit hinderlae,
hoor my uit vrye welbehae.
O manne wat my nou bestry,
hoe lank nog word in teënhede
my eer in skande omgekeer?
Hoe lank is jul met nietighede,
met ydelheid en wind tevrede?
Word leuentaal deur jul begeer?
4:2
Weet dat die HEER vir Hom tevore
'n gunst'ling afgesonder het,
en dat hy, deur God self verkore,
nooit op sy swerftog is verlore,
maar dat die HEER hom hoor en red.
Beef dan, o dienaars van die sonde,
oortree nie teen sy heil'ge wil.
Deursoek jul hart in stille stonde,
as eensaamheid omsweef jul sponde,
verwag die HEER en wees net stil.
4:3
Wil jul aan Hom 'n offer gewe?
Die offer wat die HEER aanskou,
is in opregtheid reg te lewe,
en Hom alleenlik aan te klewe,
op Hom alleen jul hoop te bou.
Hoe baie vra terneergeboë:
Waar vind ons ooit die ware goed?
Verhef oor ons u Vaderoë,
sien op ons neer in mededoë,
verlig ons hart en ons gemoed!
4:4
U het my hart meer vreug gegewe
as ander smaak in volop-tyd,
as hul deur skyngeluk verhewe,
by mos en koring lustig lewe
en fees hou in kortstondigheid.
Ek sal gerus gaan slaap in vrede
en ongestoord lê ek my neer;
want U alleen verhoor my bede,
U waak oor my in teënhede,
dat ek kan veilig woon, o HEER!

 

5:1
O HEER, neem my gebed ter ore!
Kan ek die klare woord nie spreek -
U weet wat in my woel en smeek;
my sugte, -as spraak nog ongebore,
is nie verlore.
5:2
Ek roep om hulp, ek is onmagtig,
die vleuels van my siel geknot.
Maar U, my Koning en my God,
wees U my, arme, tog gedagtig, en reddingskragtig.
5:3
Wanneer die daglig straal oor rande
van skemerende berge neer,
dan bid en wag ek op die HEER.
Dan lê ek klaar my offerande
met will'ge hande.
5:4
O God, wat groot is van vermoë,
wat woon in smettelose lig,
U sal die goddeloosheid rig;
U kan die sondaar voor u oë
geensins gedoë.
5:5
U, HEER, verdelg die leuenspreker.
Hy wat sy hand met bloed bevlek
en gruwels met bedrog bedek -
hy terg, as snode wetverbreker,
die hoogste Wreker.
5:6
Maar ek, uit krag van u meedoë
mag ingaan in u heiligdom,
tot voor u tempelwoning kom
met ware Godsvrees, voor u oë
diep neergeboë.
5:7
Lei my in u geregtighede
om my verspieders wil, en baan
die pad waarop my voet moet gaan.
O hoor my pelgrimsmôrebede:
Bewaak my skrede!
5:8
Hul mond is altyd onwaaragtig,
hul binneste-is op kwaad bedag,
hul keel 'n ope graf wat wag;
hul gladde tong, in woorde magtig,
is leuenagtig.
5:9
Waarom, o HEER, met hul geduldig?
Dis hemeltergers wat daar woel!
Verdryf hul van u regterstoel.
Hul leef in misdaad menigvuldig:
Verklaar hul skuldig!
5:10
Maar laat in eewge blydskap lewe
wie by U skuil in veil'ge hut,
en laat hul juig, deur U beskut.
U Naam, grootmagtig en verhewe,
bied vreugdelewe.
5:11
Daar's vreugde, want u mag bekroon hul,
u seën is oor hul ryk en mild,
u sorg is om hul soos 'n skild,
u welbehae, HEER, beloon hul,
u guns verskoon hul.

 

6:1
Wil my, o HEER, nie straf nie,
wys my in toorn nie af nie,
sien my genadig aan;
laat in my teëspoede
'n alte strenge roede
my nie met gramskap slaan!
6:2
Laat, HEER, u oog in strakheid
nie neersien op my swakheid.
Genees my, merk tog hoe
die smart my siel beswaar het,
die skrik in my gevaar het
tot in my beend're toe.
6:3
My siel, deur skrik bewoë
smeek om u mededoë;
my hart keer om en om.
In my verbrysling kla ek,
o HEER, hoe lank nog, vra ek,
voor daar verligting kom?
6:4
Keer weer tot my bevryding,
verlos my uit my lyding,
straal goedheid op my af.
Want daar's geen lofgedagte vir U in dood se nagte,
geen lofstem in die graf!
6:5
Hoe moeg is al my lede,
daar ek in bangighede
van geen verposing weet.
Die ganse nag deurweek ek
my bed met trane, smeek ek
om redding uit my leed.
6:6
My oog is deur my kwale
verdof en sonder strale,
verouderd van geween;
daar ek in my ellende
verdruk word deur 'n bende
van haters om my heen.
6:7
Wyk weg in julle broosheid,
o werkers van godd'loosheid,
want God kom naderby.
In my geween en smeking,
verbrys'ling en verbreking
verhoor die HERE my.
6:8
Waar is my teenpartyders?
'n Skrik het my bestryders
verstom en om laat keer.
Hul hoogheid lê aan bande,
'n oogwink - en hul skande
daal op hul koppe neer.

 

7:1
HEER, my God, by wie ek skuiling,
redding soek - my teenparty
wat my jaag op al my spore,
dring gedurig naderby.
As u hand my nie verlos nie,
sal hul lewend my verslind,
soos 'n leeu die arme skaaplam
wat hy sonder herder vind.
7:2
HEER, my God, wat is my sonde?
Het die skuld my aangekleef
dat ek kwaad hom aangedoen het
wat met my as vriend wou leef?
Nee, ek het die hand van vriendskap
reddend na hom uitgesteek,
ook al was die band van vriendskap
deur sy vyandskap verbreek.
7:3
As ek met 'n valse weegskaal
leed vir guns en kwaad vir goed
aan my vyand toegeweeg het -
laat sy wraak my dan ontmoet.
Laat hom my dan jaag en inhaal
en my lewe nie verskoon,
my vertrap, my eer verneder
en my in die stof laat woon.
7:4
HEER, ontwaak en keer sy gramskap
met die vuurskerm van u wraak!
Daag hom voor u regtersetel;
laat my tot my reg geraak!
Straal u vonnis voor die oë
van die volke op hom neer!
Keer dan majesteitlik, HERE,
na die eewge hoogtes weer.
7:5
Hoor, o Regter van die volke!
Doen aan my, o God, tog reg!
Bid ek wél, o hoor my bede
na die waarheid van my weg!
Straf die goddelose bende,
stel hul boosheid perk en paal!
Help my, U wat hart en niere
met u kennislig deurstraal.
7:6
Soos 'n held met skild gewapen
aanstap sonder kommernis,
so voel ek by God my veilig
wat my skild en helper is.
Want Hy is die hoogste regter
wat die lyder reg verskaf;
elke dag ontvlam sy wraakvuur
wat die onregwerkers straf.
7:7
As die vyand in sy oormoed
hom nie in sy loop laat stuit,
dan ruk God, hoewel lankmoedig,
eindelik sy slagswaard uit.
Dan span Hy sy boog en mik Hy
met sy pyle, skerp en spits;
en die vyand voor hy neerplof,
sien die dodelike blits.
7:8
Want hy was van onreg swanger,
moeite-en leu'ns het hy versin;
en nou stort hy self, die grawer,
in sy eie vangkuil in.
Sal ek dan die HEER nie loof nie
en sy Naam nie hulde bring?
Vir sy groot verlossingsdade
sal 'k die Allerhoogste sing.

 

8:1
Daar is geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o HEER, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid -
of orals blink u Naam en majesteit.
8:2
U het, o HEER, wat troon oor alle dinge,
uit kindertaal en stem van suigelinge
u mag gegrond, sodat die mens moet swyg
wat, hoog van hart, uit wraakbegeerte dreig.
8:3
As ek, o HEER, u nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan -
8:4
wat is die mens dan dat U hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!
Met eer en heerlikheid is hy gekroon,
skaars minder as die eng'le om u troon.
8:5
U laat hom heers. Tot aan die verste strande
gebied hy oor die werke van u hande.
U het, o HEER, dit onder hom gestel,
dit hoor sy stem en beef voor sy bevel.
8:6
Die os en skaap en wat in wildheid lewe,
die voëls wat deur hoë lugte swewe,
al wat deurkruis die paaie van die see -
tesaam het U dit in sy mag gegee.
8:7
Ja, daar's geen land so ver of woes geleë,
geen strand, o HEER, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid -
of orals blink u Naam en majesteit.

 

9:1
Ek sal van ganser harte, HEER,
u wonders groot maak en U eer.
Ek sing omdat ek in U bly is,
aan wie my lofsang toegewy is;
9:2
omdat my vyand, hoe gedug,
teruggewyk het en gevlug;
omdat hy voor u aanskyn wég is,
en, HEER, my saak deur U besleg is.
9:3
As Regter 't U die troon bestyg,
U het die heidendom gedreig,
sodat die sondaars uitgedelg is
en daar van hul geen stam of telg is.
9:4
Die vyande het omgekom;
hul stede is nou stil en stom,
kliphope waar geen pad of spoor is,
dis al wat van hul grootheid oor is.
9:5
Maar bo wat wissel en vergaan,
bly ewig God se rykstroon staan.
Hy vel sy vonnis uit die wolke,
regverdig oordeel Hy die volke.
9:6
Die HEER sal, soos 'n rotsskans, dek
wie hier getrap word op die nek.
Hy is 'n vesting hoog verhewe,
en sal in nood hul nooit begewe.
9:7
Die HART van hul wat U bely,
sal IN U NAAM STANDVASTIG BLY.
Dié wat U soek in stil vertroue,
is by U veilig en behoue.
9:8
Psalmsing Hom wat op Sion troon,
vertel sy roem waar volke woon!
Geen bloedskuld waar Hy nie van weet nie,
of hulpgeroep wat Hy vergeet nie.
9:9
Bewys aan my genade, HEER,
en sien op my ellende neer!
U, wat my aan die dood ontruk het,
kyk, hoe my haters my verdruk het!
9:10
Dan vind my tong weer nuwe stof,
in Sions poort meld ek u lof.
Dan sing ek bly van u genade,
so groot in nuwe reddingsdade.
9:11
Die heid'ne, deur hul waan mislei,
stort in die kuil vir my berei;
die strik wat hul vir my bestem het,
is dié wat nou hul voet omklem het.
9:12
O oordeel vol geheimenis,
wat meld dat God regverdig is!
Hoe raak verstrik in eie nette
wie geen ontsag het vir Gods wette!
9:13
Die goddelose moet weer wyk,
teruggaan na die doderyk;
die grafkuil wat God wyd gemeet het,
daarin versink wie Hom vergeet het.
9:14
Nooddruftiges wat kwyn in leed,
sal God nie eindeloos vergeet;
Hy sal die hoop van hul bestendig
wat hier verdruk is en ellendig.
9:15
Staan op, o HEER; die mens word sterk!
Vergeld die heid'ne na hul werk!
Verskrik hul, groot in goddeloosheid,
maar nietig voor U in hul broosheid!

 

10:1
Waarom, o HEER, bly U so ver weg staan?
Waarom is U verborge in die nood -
terwyl die trotsaard, in sy oormoed groot,
dring met geweld op die verdrukte aan?
10:2
Laat hom gevang word wat 'n lis beraam;
wat juig wanneer sy plan hom sal geluk,
wat prys wanneer die woekeraar verdruk,
maar God verag en grootspreek teen sy Naam.
10:3
Die goddelose wandel in sy waan:
hoogwys het hy sy neus omhooggesteek,
vermetel het sy mond dit uitgespreek:
"Daar is geen God!" En rustig stap hy aan.
10:4
Hy is voorspoedig waar sy voetstap gaan:
"Hoog in die hoogte, eind'loos ver, " dink hy,
"is Gods gerig: geen loon of straf vir my."
En hy verag al wie hom teëstaan.
10:5
Hy roem dat hy sal standhou vir altyd,
en dat hy nooit, nooit in die kwaad sal kom.
Hy vloek, bedrieg, gaan met verdrukking om;
sy tong spreek noeite-en ongeregtigheid.
10:6
Net soos 'n leeu wat loer, lê hy gereed. Hy vang sy prooi deur aan sy net te trek
en sleep hom weg, diep in sy wegkruipplek;
die arme slag hy daar - wie sal dit weet?
10:7
Hy smaad die HEER en dink: "God het vergeet.
Hy sluit sy oog en sien dit nimmermeer."
Tree toe, en wil die arme red, o HEER;
dis ons genoeg as U maar sien en weet.
10:8
Ons gee dit oor in al ons kommernis
aan U, o HEER, die helper van die wees.
Verbreek die arm van hom wat U nie vrees,
vergeld die kwaad totdat daar niks meer is.
10:9
Die HEER is Koning, ewig en altyd;
geen heidendom of 't moet voor Hom vergaan.
maar die geroep hoor Hy goedgunstig aan
van wie ootmoedig op sy bondstrou pleit
10:10
God sal hul hoor en sal die hart verkwik
van arme-en wees aan wie Hy reg verskaf,
maar op verdrukkers daal sy strenge straf,
hul brose arm sal niemand meer verskrik.

 

11:1
Ek skuil by God in al my onweersdae.
Hoe sê jul dan in kleingeloof vir my:
"Vlug soos 'n duif met snelle vleuelslae
na die gebergt' van vrees en vyand vry!"
11:2
"Hul span die boog; die pyle-is op die snare,
om die opregte heimlik om te bring.
Wat kan hy doen as die geweldenare
die reg verbreek en uit die land verdring?"
11:3
Daar is 'n God, 'n God wat hoog verhewe
uit sy paleis - sy bouwerk is so skoon! -
die oog het op wie laag op aarde lewe;
sy oordeel vel Hy van sy hoë troon.
11:4
Die HERE toets hul wat regverdig lewe,
maar haat hom wat vir geen gewelddaad vrees;
hy word aan strikke-en vuurgloed oorgegewe,
'n gloeiwind sal sy straf vir onreg wees.
11:5
Die HEER is reg, regverdig is sy handel.
Hy min die reg en bly daaraan getrou.
Opregtes vind die uitkoms van hul wandel:
hul sal die aangesig van God aanskou.

 

12:1
Red, red, en hoor, o HEER,
geen vrome is daar meer;
getrouheid, in die land reeds klein,
het nou daaruit verdwyn.
12:2
Die mens spreek onopreg,
'n woord met leu'ns deurvleg;
die taal wat van hul lippe gly,
is enkel vleiery.
12:3
Mag God die lip uitroei
waarvan die vleitaal vloei,
die tong wat vry en onbewaak
vermetel is van spraak.
12:4
Hul sê: "Ons tong is sterk,
in slimheid onbeperk,
Ons lippe is aan ons getrou;
wie kan ons dan weerhou?"
12:5
"Oor wie verkwyn in druk
en sug in ongeluk,
sal Ek nou opstaan in verweer,
hul uitred, " sê die HEER.
12:6
Die woorde van die HEER
is rein, gelouterd meer as allersuiwerste metaal,
gereinig sewe maal.
12:7
Die HEER sal in gevaar
sy volk altyd bewaar;
as lis en laagheid triomfeer
dan waak en sorg die HEER.

 

13:1
Hoe lank is ek van hulp ontbloot,
my God, in u gedagte dood?
Hoe lank sal ek in donkerhede
geen antwoord hoor op my gebede,
en ongetroos wees in die nood?
13:2
Hoe lank, o HEER, sal sorg en smart
hul laer opslaan om my hart?
Hoe lank sal die vyand met behae
my aansien in my angs en plae -
my siel mistroostig en benard?
13:3
O HEER, my God, sien my tog aan,
wil my ellende gadeslaan;
verlig die donker van my oë,
en wil tog nimmermeer gedoë
dat ek in doodslaap ondergaan.
13:4
Laat hulle wat in oormoed my
vervolg en met hul swaard bestry -
laat hul nie roem op meerd're kragte,
of smalend sê in hul gedagte:
"Ons het oorwin, daar struikel hy!"
13:5
O HEER, ek sal U nooit laat gaan
My hoop bly op u goedheid staan
My hart sal oor u redding bly wees,
my lofgesang U toegewy wees,
want U het aan my welgedaan.

 

14:1
Vermeetle dwaas wat hoogwys spot,
sê in sy hart: "Daar is geen God."
Hul dade is afskuw'lik sleg,
geeneen wat goed doen in sy weg.
14:2
God het die mens se werk betrag
uit hemelhoë-en helder dag,
of Hy ook by die mensekind
verstand mét ware Godsvrees vind.
14:3
Maar almal het tot groter kwaad
in hul ontaarding God verlaat.
Van almal is hul dade sleg,
geeneen wat goed doen in sy weg.
14:4
Is daar dan by die sondaarskind,
hul wat my volk soos brood verslind,
geen kennis van die waarheid meer,
dat hulle God nie soek en eer?
14:5
Maar skielik het hul skrik gekom:
God slaan hul deur sy oordeel stom.
Maar oor sy volk, tot spot gemaak,
het Hy regverdig opgewaak!
14:6
Hy is 'n rots om in te vlug
vir wie, ellendig, tot Hom sug.
Mag maar die bede nooit verstom:
"Laat Isr'els heil uit Sion kom!"
14:7
As Isr'els God in hul ellend
sy volk se lotgeval wil wend,
sal Jakob jubel bly van gees,
en Israel sal vrolik wees.

 

15:1
Wie styg so hoog in heil en eer,
dat hy met U, die grote Koning,
met U, die allerhoogste HEER,
kan op u heil'ge berg verkeer
en intrek in u heil'ge woning?
15:2
Dié wat, opreg in sy gemoed,
na Gods verhewe eis wil handel,
hom vir bedrog en leuen hoed;
en is dit voor- of teëspoed,
die waarheid spreek in hart en wandel.
15:3
Dié wat nie steun op agterklap,
geen kwaad doen aan sy metgesel nie;
nie uit verborge vyandskap
met laster op die lippe stap,
en dit nie aanhoor of vertel nie.
15:4
Dié wat hom van die manne keer
wat God en sy bevel nie vrees nie;
maar die godvrugtiges wil eer,
en in sy eed nie valslik sweer,
of aan sy woord ontrou wil wees nie.
15:5
Dié wat geen hoop op roof wil stel
en woekerwinste nie begeer nie,
geen omkoopgeld hom af laat tel
om wie onskuldig is, te kwel -
hy sal nie wankel immermeer nie.

 

16:1
Bewaar my tog, o God, op wie 'k vertrou!
Ek skuil by U, my toevlug in die lewe.
Daar is vir my, in wat die oog aanskou,
geen goed bo U, so eind'loos hoog verhewe.
En wie op aarde-U ken en vrees, o HERE,
húl noem ek groot, hul is my roem en ere.
16: 2
Wie hier 'n ander god met gawes eer,
dié sal homself met baie smarte pynig.
Ek sal sy offers uitgiet nòg begeer;
sy afgodsnaam sal nie my mond ontreinig.
My erfdeel is die HEER, my vreugdebeker,
my lot is in sy hand vir ewig seker.
16:3
My erfdeel is op aarde skoon vir my;
die meetsnoer val in plekke lief en lustig.
Ek loof die HEER wat deur sy raad my lei;
selfs in die nag as alles sluimer rustig,
dan wek opnuut my niere die verlange
om God te dank in stille lofgesange.
16:4
'n Yd'le vrees beklem my nou nie meer:
ek stel die HEER gedurig my voor oë.
My hart is bly, en juigend meld my eer:
"Sy regterhand sal nooit my val gedoë."
Ook sal my vlees, as hier my stryd gestry is,
nog veilig woon, omdat die HEER naby is.
16:5
U sal my siel nie oorgee in die dood,
my pad buig op langs skone heuwelrye.
U sal nie toelaat dat u gunsgenoot
verderwing sien in donker doodsvalleie.
By U is ewig vreugde-en volle vrede,
en in u hand 'n snoer van lieflikhede.

 

17:1
0 HEER, verleen my tog gehoor;
my saak - U weet dit - is regverdig.
En wil my smeking nou verwerdig
dat dit kan opklim in u oor.
Alleen deur waarheidsdrang bewoë
beef van my lippe die gebed:
ag, as U maar my saak wou red,
U wat geen onreg wil gedoë.
17:2
U weet wat in my hart is nou,
want dikwels in die stille nagte
het U my hart en my gedagte
tot in my diepste grond deurskou.
My oog, verhelderd deur u rede,
staar nou die mens se doen verby; deur U geleer, sal ek vermy
die paaie van ongodd'likhede.
17:3
My treë hou vas aan u spoor,
en dat my voet nie weg sou gly nie,
is my geen helper so naby nie!
Ek roep; ag, wil my tog verhoor.
U is my redder - niemand anders!
Verleen my guns en onderstand,
wanneer ek wegskuil by u hand
vir alte sluwe teëstanders.
17:4
Net soos die appel van die oog,
bewaar my so, Getroue-en Sterke!
Oordek my met u eewge vlerke,
met u bewaring van omhoog;
sodat die skaar wat my omring het,
vergeefs na my sal soek, o God,
vergeefs sal jubel oor my lot
as hul al amper my bespring het.
17:5
Niks wat hul meegevoel meer wek,
en niks weerhou hul trotse rede.
Alreeds omsingel hul ons skrede
en wil hul op die grond ons strek.
Geen leeu is slimmer in sy planne
as hul wat op my lê en wag;
geen ondier, vinnig op die jag,
is sluwer as die sluwe manne.
17:6
Staan op, o HEER, en wil hul stuit!
Verlos my van die goddelose;
u hand, u swaard, laat dit die bose
terneer werp; manne wie se buit
as toornskat nie met hul sal sterwe,
maar wat dit as 'n sondesaad
weer aan hul kinders agterlaat,
wat dit húl kinders weer laat erwe.
17:7
'n Beter lot is dan my deel:
as ek ontwaak, ná my benouing,
sal ek U sien in klare-aanskouing,
versadig met u beeld geheel.

 

18:1
Ek het U hart'lik lief, o HEER!
U is my sterkte-en teëweer.
Die HEER 's my rots, my vesting stterk,
my redder wat my heil bewerk,
my rots wanneer die stormwind huil,
my skild, die weerkrag van my heil,
my vesting op die bergkrans steil,
by wie ek vas en veilig skuil.
18:2
Tot U, van wie my lofsang is,
roep ek in my benouenis,
en - van my vyand word ek vry!
Want bande van die dood het my
omring en strome van verderf,
wat aanstorm uit die donker wyk
van kuil en graf en doderyk,
met kwellings waar die hart by sterf.
18:3
Deur donker magte, troep aan troep,
omsingel, het ek uitgeroep;
ek het in doodsangs uitgebteek
en God, my God, om hulp gesmeek.
Hy het geluister, my verhoor:
my stem het luid omhooggerys,
het deurgedring in sy paleis,
en opgeklim tot in sy oor.
18:4
Toe het die aard' se ingewand,
die berge in hul vaste stand
gebeef, gesidder skrik-verras,
omdat die HERE toornig was.
Rook in sy neus het opgegaan,
vuur wat verteer na alle kant,
het uit sy lippe voortgebrand,
en kolegloed het uitgeslaan.
18:5
Die hemel het ontsag betuig
en by Gods neervaart neergebuig;
en donkerheid van watervloed,
'n onweersnag was om sy voet.
'n Gerub was sy oorlogswa.
Hy het gevlieg en aangesweef
terwyl dit om Hom skud en beef -
op vleuel van die wind gedra.
18:6
In duisternis het Hy genaak,
in donker nag wat Hom bewaak:
in waterduisternis alom
en diktes van die wolkkolom.
Deur glanse voor Hom, om Hom heen,
wat gans sy gloriewese-oordek,
het swaar sy wolk verbygetrek
met onweersvuur en haelsteen.
18:7
Die HEER 't laat dreun die hemel oor,
die hoogste God sy stem laat hoor,
sy stem mét vuur en haelsteen,
die drie tesaam en wild deureen.
Hy het sy pyle uitgestuur
en húl verstrooi wat my beveg,
sy bliksems deur hul heen gevleg
en hul verwar in onheilsuur.
18:8
In beddings waar die waters loop,
raak rotse tot hul wortels oop.
Die see wyk uit sy stille skoot
en sleep die aard' se grondves bloot.
So 't God die wêreld, stomverbaas,
laat sidder van sy dreigement,
Hom bulderend omlaag gewend
as Hy 'n storm van gramskap blaas.
18:9
Sy hand het Hy van bo gestrek,
gegryp, uit dieptes my getrek,
my vyande, te sterk vir my,
gebreidel in hul raserny.
Hul 't aangestorm. 'n Dag van nood!
Maar God, my helper, was naby;
in ruimtes is ek uitgelei,
want sy behae-in my was groot.
18:10
Die HEER het my, trots hul geweld,
na my geregtigheid vergeld;
en na die reinheid van my hand
doen Hy sy woord aan my gestand.
Ek het nie, aan sy stem ontrou,
sy pad verlaat, aan hul gelyk,
wat goddelooslik af wou wyk,
maar het my aan sy spoor gehou.
18:11
Sy ordening, dié was voor my,
ek het sy woord getrou gebly.
Ek was opreg van hart voor Hom
en wou op onregspad nie kom;
sodat die HEER, sy trou tot prys,
en na die reinheid van my hand,
sy woord gegee het as my pand
en my my reg het toegewys.
18:12
Barmhartig, vol van derenis,
is U vir wie barmhartig is;
en wie opreg is, U sal hom
ook met opregtheid teëkom.
By hul wat reinheid rein bemin,
hou U, die Heil'ge, U ook rein;
maar vir wie leef in valse skyn,
is U ook self verkeerd van sin.
18:13
Die HEER verlig die harde juk
van wie hier sug in leed en druk;
maar Hy verneder dié wat hoog
en ydel is van hart en oog.
My lamp brand in die donker uur;
God het my donker opgeklaar!
Met God storm ek 'n leërskaar
en met Hom spring ek oor 'n muur!
18:14
Gods weg is gans volmaak soos Hy,
sy woord van al wat smet is, vry,
soos goud, gelouter sewe maal.
Hy is 'n skild van keurmetaal
vir almal wat op Hom vertrou.
Want wie's daar buiten U, o HEER!
U is die Rots, geen ander meer,
op wie ons altyd weer kan bou.
18:15
God het met krag my aangegord;
deur Hom 't my weg gelyk geword.
Hy laat my voete op dié baan
so maklik soos die herte gaan,
en lei my na die hoogtes dan
van seëpraal en heerskappy;
my hande leer Hy om te stry,
dat ek 'n koperboog kan span.
18:16
Die skild van redding gee U my,
u regterhand was my naby;
u goedheid het tot my genaak
en my uit kleinheid groot gemaak.
My voet was deur u guns weer vry,
my enkels het my nie gefaal;
ek het my vyand ingehaal,
verdelg, geeneen het oorgebly.
18:17
Ek het hul gans en al verslaan,
van hul 't geeneen weer opgestaan.
U het my aangegord met moed,
gestruikel het hul voor my voet.
My teëstanders het geval,
U het my vyand weg laat vlug;
vir haters was ek so gedug
dat hul verslaan is, gans en al.
18:18
Hul het geroep, geen hulp gekry,
ook tot die HEER - Hy't stilgebly.
Toe het ek hul vergruis, verjaag,
soos straatslyk hulle weggevaag.
God red my as my dienaars twis,
en maak dat uit die heidendom
die nasies na my voetbank kom
en aan my onderdanig is.
18:19
Hul was gehoorsaam as hul oor
net van my roem en dade hoor.
Hul het al kruipende gekom;
uit vestings skuif hul kragt'loos, krom.
Die HERE leef! Lof aan my Rots!
Die HEER, my heil, sy groot gemaak!
Hy gee my op my vyand wraak
en breek die volke in hul trots.
18:20
U wat my red, my hoog verhef,
die vyand fnuik, tiranne tref -
U wil ek loof, U singend eer,
U by die nasies groot maak, HEER,
en U vir groot verlossings prys!
Aan u gesalfde-is guns bewys,
aan Dawid en sy nageslag:
U sy die eer en roem en krag!

 

19:1
Die hoë hemelrond vertel met blye mond
Gods heerlikheid en eer,
en, wonderbaar deurglans, vermeld die wye trans
die werke van die HEER.
Die dag roep orals luid en duisendstemmig uit
dié loffelike sprake;
die nag se stille stap meld kunde-en wetenskap
deur al sy donker wake.
19:2
Hoe goddelik en skoon / en wonderbaar die toon
wat deur die skepping gaan!
Geen volk so onbegaaf, / geen oor so onbeskaaf,
wat nie dié taal verstaan.
Die prag van hemellyn / wat deur die wydtes skyn,
spreek daar so luid en kragtig
dat nêrens hart of oor / dié skeppingstaal nie hoor -
tot roem van God almagtig.
19:3
Hy 't in die wonderbou / van eewge hemelblou
die son se tent gestig.
Dié 's soos 'n bruidegom / wat uit sy slaaptent kom
met glansende gesig.
Hy wandel soos 'n held / blymoedig in die veld
van hoë hemeltranse,
en het sy swaai en spoor / die ganse wêreld oor
wat blink van gloed en glanse.
19:4
Die HEER se heil'ge wet / is rein en onbesmet,
en sal die hart bekeer;
sy woorde sal gewis / aan wie eenvoudig is,
die ware wysheid leer.
Sy regte heerskappy / dié sal ons hart verbly en onreg nooit gedoë;
en wat sy wet berig / is suiwer soos die lig
wat afstraal op die oë.
19:5
Die HEER se vrees is rein, / dit open 'n fontein
van heil wat ewig bly.
Die wette van die HEER / is waarheid immermeer,
regverdig net soos Hy.
Hul's soos die fynste goud - / ja, fyner duisendvoud -
geen glans wat so kan straal nie;
geen heuning is so goed, / geen heuningdrup so soet -
daar's niks wat daarby haal nie.
19:6
Hoe word, deur U vermaan, / my weg 'n helder baan,
en my verwagting skoon!
Hy wat u wet bemin, / die vind, o HEER, daarin
'n groot genadeloon.
Wie kan van voor af aan / sy dwalinge verstaan
en al wat hom ontbreek het?
HEER, reinig U my tog / van sondes wat daar nog
diep in my hart bly steek het.
19:7
Bewaar my vir die kwaad / dat ek met trotse daad
u heil'ge wil weerstreef;
laat nie die sonde my / oorheers, dan sal ek vry
van groot oortreding leef.
Laat tog my tong en mond, / my hart se diepste grond,
o HEER, op wie 'k vertrou het,
U welbehaaglik wees / wat in my hart kan lees -
my Rots, op wie 'k gebou het.

 

20:1
O, mag die HERE u verhoor
in dag van nood en stryd!
En mag die Naam van Jakobs God
u dek in oorlogstyd!
20:2
Mag Hy sy heil en bystand stuur
uit hoë heiligdom,
en u uit Sion ondersteun,
van waar u hulp sal kom.
20:3
Mag Hy aan al u offers dink
van fynste spys, en nou
u offerbrand wat voor Hom geur,
met welgevalle-aanskou!
20:4
Mag Hy, die ryke God, u gee
al wat u hart verlang!
Vervulling van wat u beraam -
mag u dié guns ontvang!
20:5
Ons wil oor u oorwinning juig -
die vaandels jubel mee!
Ons loof die Naam van onse God.
Mag Hy u wens u gee!
20:6
Nou weet ek dat die HERE sy
gesalfde sal verhoor;
uit heil'ge hemel antwoord Hy,
tot magsdaad aangespoor.
20:7
Daar is wat op hul strydwaens roem,
op oorlogsperde trots;
maar ons sal ons beroem in God,
ons toeverlaat en rots.
20:8
Hul almal 't inmekaargesak,
geval, voor ons geswig;
maar ons het kragvol opgestaan
en ons weer opgerig.
20:9
Verlos die koning, troue HEER,
en sterk hom in die stryd!
Verhoor ons as ons tot U roep
in druk en oorlogstyd!

 

21:1
U maak, o HEER, die koning bly,
omdat u arm so sterk is, sy heil deur u bewerk is.
Sy wens het hy van U verkry;
U het wat hy begeer.
geweier nòg geweer.
21:2
U kom hom vriend'lik tegemoet
met stroom van goeie dinge
en gulde seëninge.
U het 'n kroon van fynste gloed,
van voorspoed en geluk,
hom op die hoof gedruk.
21:3
Hy het van U, o God, begeer
die onverwelkb're lewe.
U het dit hom gegewe.
So word sy dae altyd meer,
so leef hy eindeloos,
vir ewig en altoos.
21:4
Hoe hoog is deur u hulp sy staat:
U 't majesteit en ere
op hom gelê, o HERE.
Sy seën ken geen tyd of maat;
en van u aangesig
straal vrolikheid en lig.
21:5
Die vors vertrou in vrede-en stryd
op God se alvermoë,
Hom seën die Alhoë;
en deur sy goedertierenheid
sal, hoe dit ook mag gaan,
sy voete vas bly staan.
21:6
U hand sal wis u haters vind;
vir hul is u verskyning
verbranding en verdwyning.
Die toorn van God sal hul verslind,
'n wraakvuur van die HEER
sal hulle gans verteer.
21:7
Hul somervrug, hul lenteblom,
hul kroos sal U verderwe;
U sal hul weg laat sterwe.
Ons vind van hul, waar ons ook kom,
geen spoor of teken meer -
só het U hul verteer.
21:8
Met onheil het hul U omring,
teen U hul slinkse planne
vergeefs gesmee, die manne
wat U nou tot die vlug sal dwing;
u pyle, wèl gerig,
skiet U in hul gesig.
21:9
Verhef U in u sterkte, HEER,
en laat u groot vermoë
gesien word voor die oë
van almal wat U roem en eer!
Ons buig ons voor u mag
en prys u heldekrag.

 

22:1
My God, my God, waarom verlaat U my,
terwyl'k alleen my sware stryd moet stry,
alleen moet kerm wanneer 'k my lyde ly?
Op al my vrae
kan ek van U, deur al my lydensdae,
geen antwoord kry; deur donker lydensnagte
bly ek nie stil; maar daar's geen heil te wagte,
geen woord vir my.
22:2
Tog sprei U, HEER, u reddingsglans ten toon
waar U, die Heil'ge, by u volk wil woon
en op die vleuels van hul lofsang troon.
Die jammerklagte
het U gehoor van verre voorgeslagte;
hul is gered! In stille Godsbetroue
het hul ontvlug, gehandhaaf en behoue
op hul gebed.
22:3
Maar ek, ek is 'n wurm - 'n man nie meer,
'n smaad van wie deur spotsug my onteer.
"Laat dit maar oor, " so roep hul, "aan sy HEER!"
my heilsverwagting
krenk hul met hoofgeskud en diep veragting
van lipgebaar. "Wat klaag hy so verslae?
Laat God hom red. Hy 't mos in hom behae.
Vertrou Hom maar!"
22:4
Die lewenslig het U my laat aanskou;
aan moedersbors het U my laat vertrou,
verwagtingsvol die oog op U laat hou.
My ganse lewe
was aan u sorg blymoedig oorgegewe;
daar was by my, as suigling by my moeder,
geen vrees, want U, my helper en behoeder,
was my naby.
22:5
Wees dan my hulp, hou U nie ver van my!
My knel die nood, benoudheid is naby;
daar's buiten U, terwyl 'k so bitter ly,
geen hulp te wagte.
Die Basanstiere met hul reusekragte
omsingel my. Hoe wild en ongebonde
dring hul soos leeus met oopgespalkte monde
al naderby!
22:6
Ek 's uitgestort en vloei soos water weg;
daar is geen been wat aan sy been meer heg;
my hart, al klein, smelt uit my binnest' weg.
My krag versterwe
soos glans en kleur verdwyn uit erdeskerwe
al droog en dof. My tong verstom en klewe
was aan my mond; U lê my, uitgelewe,
dood in die stof.
22:7
Om my staan honde wat my wil bespring:
'n bende skenders staan om my 'n kring.
Hul staal het my deur hand en voet gedring.
Met welgevalle
sien hul die skouspel aan wat, gans vervalle,
my vlees hul bied. My klere die verdeel hul;
oor my gewaad werp hul die lot; so speel hul
met my verdriet.
22:8
Maar U, o HEER, wees U nie ver van my!
U is my krag, kom tot my hulp naby,
en maak my siel, my enigste, weer vry
van kloue-en tande,
van oorlogswaard en greep van moord'naarshande
Tog is dit goed met my; in die beklemming
van buffelshorings ruis die reddingstemming
deur my gemoed.
22:9
Ek wil, o HEER, u Naam my loflied wy,
in broederkring verkondig en bely
hoe goed U my gewees het, hoe naby.
Nakomelinge
van Jakob, volk van soveel seëninge,
en Israel, geslag van gunstelinge -
laat wie God vrees uit altyd wyer kringe
sy lof vertel.
22:10
Die HEER het nooit in die bekommernis
verag, verfoei hom wat ellendig is:
toe hy geroep het, was sy antwoord wis.
HEER, álle dinge -
my liefde, lof en soetste mymeringe,
uit U is 't ál. Al my geloftes bring ek,
en waar u volk vergader is, daar sing ek
met lofgeskal.
22:11
Sagmoediges sal aansit saam met my;
dié wat God soek, sal dan sy Naam bely.
Vir hul sal God áltyd sy dis berei.
Versprei die tyding:
"Die volke sal, in altyd voller wyding,
tot God hul keer; hul kom, die mensgeslagte
en konings met hul koninklike wagte,
om Hom te eer."
22:12
Die wêreldgrotes eet hul offermaal,
bid saam met hul wat in die stof moet daal,
met wie, verswak, nog nouliks asemhaal,
so klein van kragte;
wat leef en nog sál leef, 'n reeks geslagte,
húl kondig aan: "Groot is Gods reddingsdade.
Die HEER alleen, wat groot is van genade,
het dit gedaan!"

 

23(Totius)
23:1
Net soos 'n herder uittrek met sy skape
en hul laat neerlê in die veld van milde groen,
met sagte hand hul lei langs stille waters -
so is die HEER, so het Hy ook aan my gedoen:
Hy laaf my siel en lei my swakke skrede
in vaste spoor van sy geregtighede.
23:2
En is ek soos 'n skaap in doodsgevare,
wat in die velde as 'n prooi vn wolwe gaan,
en moet ek in die doodsdal, diep n donker,
van alle hulp ontbloot, in my alleenheid staan -
dan nog ken ek geen doodsvrees of verskrikking
omdat u staf my troos is en verkwikking.
23:3
U bring vir my die tafel in gereedheid,
my hoof druip olie en my beker vloei van wyn,
'n bron van goedheid stroom vir my gedurig;
dit is my gees 'n vreug, my vyande 'n pyn;
dit kroon my lewe met u welbehae;
en in u huis, daar bly ek al my dae.

23(GBA Gerdner)
23:1
Die HERE is my herder, Hy behoed my;
niks sal m'ontbreek, sy ryke volheid voed my.
So sag en soet is sy alwyse leiding
langs frisse waterstroom en groene weiding.
Hy sterk my siel en plant my swakke skrede
op vaste voet in sy geregtighede.
23:2
Ek vrees geen kwaad, al kom die skadu's nader,
wat in die doodsvallei om my vergader;
U bly in al my teëspoede by my,
u stok en staf vertroos altyd en lei my.
Waar haters loer, stel U tot my beskikking
'n tafel tot versading en verkwikking.
23:3
U salf my hoof, U maak my hart blymoedig
en vul my beker met u heil oorvloedig.
U goedheid, so onfeilbaar en weldadig,
omring my op my lewenspad gestadig
totdat ek eenmaal in Gods heil'ge woning
die troue Herder ewig eer as Koning.

 

24:1
Die ganse aarde, land en meer
met al wat leef, is uwe, HEER!
U het die waters in hul woede
beteuel in die skeppingstond
en het die aarde vas gegrond
op wye seë-en watervloede.
24:2
Wie sal die Godsberg op kan gaan,
en wie sal op sy top kan staan,
omskitter deur Gods heilighede?
Die man wat rein van hart en weg,
sy siel aan nietigheid nie heg,
en trou is aan sy woord en ede.
24:3
Geregtigheid daal op hom neer;
'n seën verkey hy van die HEER,
wat stil Hom volg op al sy skrede.
Dit is die ware Israel,
die volk wat vra na Gods bestel,
en wat Hom soek in hul gebede.
24:4
Verhoog, o poorte, nou die boog;
rys, eewge deure, rys omhoog,
want Hy klop aan, die Erekoning!
Wie is die Vors, vol majesteit?
Die HEER, geweldig in die stryd -
dis Hy wat opstrek na sy woning.
24:5
Rys op, o poorte-en deure! Rys!
Wie is die Vors wat dit kom eis?
Hy, wat oordek met roem en ere,
sy tien en tien maal duisend tel
as Hy sy leërorde stel -
Hy is die Vors, die HEER der here!

 

25:1
Tot U hef ek hart en hande;
op U, HEER, verlaat ek my;
laat die vyand oor my skande,
oor my val, hom nooit verbly.
Ja, U sal hul nooit verlaat
wat in u vertroue wandel,
maar U dek hul met u smaad
wat hier trouelooslik handel.
25:2
Leer my, HEER, u regte weë,
wys die regte pad my aan;
maak my hart daartoe geneë,
om met lus daarop te gaan.
Wil my deur u waarheid leer,
lei my dwalende gedagte;
want u is my heil, o HEER!
U is ek altyd te wagte.
25:3
Dink aan my in mededoë
as ek biddend voor u pleit;
milde hande, vriend'like-oë
is by U van ewigheid.
Dink nie aan die sondes meer
van 'n yd'le jonkheidslewe;
wil tog, om u goedheid, HEER,
ál my sondes my vergewe!
25:4
God is goed in al sy handel,
en sy pad is enkel reg;
daarom laat Hy sondaars wandel
in die waarheid van sy weg.
Hy sal met sy hand hul lei
wat verdwaal was en verlore;
wie sagmoedig is, laat Hy
wandel op sy regte spore.
25:5
Ja, Gods weg is goedheid, klaarheid,
en sy weg altyd getrou
vir wie wandel in sy waarheid
en op sy beloftes bou.
Wil my dan, u Naam ter eer,
al my sondeskuld vergewe;
want ek het teen U, o HEER,
swaar en menigmaal misdrewe!
25:6
Wie's die man wat hier benede
in Gods vrees sy weg wil gaan?
God sal self sy wank'le skrede
voortlei in die regte baan.
Al wat goed is, sal Gods hand
hom in stilheid laat verwerwe;
en die lank beloofde land
sal sy nageslag beërwe.
25:7
Gods geheim'nis is die lewe
vir wie wandel in sy vrees;
en Hy 't sy verbond gegewe
om vir hul 'n lig te wees.
'k Hou my oë op die HEER
wat my so getrou gelei het,
want Hy voer my voete weer
uit die net wat hul gesprei het.
25:8
O my God, ontferm U oor my
in my diepe ongeluk;
eensaam is ek - o verhoor my! -
gans ellendig en in druk.
Om my heen, aan alle kant,
is die skrik van duisend dode;
laat dan, HEER, u regterhand
my verlos uit al my node.
25:9
Slaan op my ellende u oë,
hoor my, HEER, uit medely;
neem my sondes uit meedoë
almal weg, vergeef dit my!
HEER, aanskou die leërmag
wat om my vermenigvuldig,
want hul lê op my en wag -
vol van haat en ongeduldig.
25:10
Red my van geweldenare;
'k steun op U in teëspoed.
Laat opregtheid in gevare,
met die onskuld, my behoed.
Red u volk, o troue HEER,
uit die hand van sy bestryder,
en wees Isr'el immermeer
'n genadige bevryder!

 

26:1
O HEER, doen aan my reg!
Ek wandel as u kneg
en wil opreg met U verkeer.
Op U alleen vertrou ek;
op U, my Rotssteen, bou ek,
ek sal nie wankel, troue HEER!
26:2
Beproef my van omhoog,
deurstraal my met u oog;
want op u guns verlaat ek my.
Deurgrond al my verlange
en toets my in my gange,
want dis u waarheid wat my lei.
26:3
Ek sit nie by die man
wat listig smee sy plan
en heim'lik voer sy raadslag uit.
Met dié wat in hul lewe
u woord en wet weerstrewe,
sal 'k geen verbond of vriendskap sluit.
26:4
Ek was, aan U verpand,
in onskuld nou my hand;
ek sal, as ek my offer bring,
verskyn voor u altare,
en fees hou met die skare
wat vrolik van u wonders sing.
26:5
Vol blydskap is my siel
wanneer ek voor U kniel
want woon waar aardse lig verdwyn.
Hoe lief het ek u woning,
die plek, o Hemelkoning,
waar U in heerlikheid verskyn.
26:6
O HERE, ruk u kneg
nie met die sondaars weg
en met die manne van geweld!
Daar is in hulle hande
die daad van skade en skande
saam met die glans van omkoopgeld.
26:7
My God, doen aan my reg!
Ek wandel in u weg.
Verlos my, hoor my smeking aan!
U liefde en lof verklank ek,
in u vergaadring dank ek,
U het vir my die pad gebaan.

 

27:1
God is my lig, my heil; ek sal nie vrees nie;
Hy is die HEER wat hulp verskaf in nood;
my lewenskrag, 'k hoef nie vervaard te wees nie,
want by die HEER is uitkoms teen die dood.
As bendes my omring, 'n wilde hoop
in woeste vaart op my kom aangeloop,
dan struikel hulle wat my vlees wou eet,
en stort terneer omdat hul God vergeet.
27:2
Al bou 'n leër om my heen sy walle
om my te vang, alreeds ten dood gewy;
al kom 'n oorlog met sy duisendtalle,
ek sal nie vrees; op God verlaat ek my.
Een ding, dit het ek allermees begeer:
om in u huis so lank ek leef, o HEER,
te woon, en daar in stilheid wag te hou,
te peins waar ek u lieflikheid aanskou.
27:3
In tyd van onspoed is U my bevryder;
U berg my in die skuilplek van u tent.
Hoog, op 'n rots, staan ek bo my bestryder,
U het my pad deur dieptes heen gewend.
Dus bring ek U my offers van geklank,
en sing, o HEER, u Naam 'n psalm van dank.
O hoor my stem wanneer ek tot U skrei,
wees my genadig tog en antwoord my!
27:4
My hart sê my, omring deur donkerhede:
"O soek die HEER, die bron van lig en krag."
Ek soek u aangesig in my gebede;
verberg dit nie wanneer ek op U wag.
Wys tog u kneg nie af, dat ek, o HEER,
die glans van u genade nooit ontbeer.
U is my hulp, die God van heil op wie
ek vas vertrou - begeef, verlaat my nie!
27:5
Verlate 's ek van vader en van moeder;
tog weet ek dit: die HERE neem my aan.
U is, o HEER, my Vader en Behoeder,
wat my wil leer om op u weg te gaan.
Wil my dan langs die regte paaie voer,
omdat verspieders op my gange loer.
Verlos my van 'n wrede teenparty,
en wil my van die valse tong bevry.
27:6
As ek op aard, deur soveel smart omgewe,
omring deur droefenis en dood en rou,
nie meer sou glo dat ek in hierdie lewe
die goeie van Gods hand nog sal aanskou-
dan het ek lankal in my druk versmag.
Wees sterk, my siel, wees altyd sterk en wag!
Die HEER sal hoor en op jou roepstem merk,
Hy sal jou weer met nuwe krag versterk.

 

28:1
Ek roep U aan, o HERE, hoor!
Verleen my bystand, neig u oor,
dat ek nie word, daar 'k U moet mis,
soos die wat in die grafkuil is.
28:2
O hoor as ek, my stem al week,
om hulp U aanroep in gesmeek,
my hande hef na heil'ge plek
waar donkerheid u bondskis dek.
28:3
Ruk my nie weg in jammmerstaat
met al die werkers van die kwaad,
wat al hul woorde glad vernis,
maar in hul hart is haat en twis.
28:4
Vergeld hul nou hul bose daad,
die vrug van selfgebroude kwaad;
beloon hul na hul werk en sin,
en skink hul eie drank hul in.
28:5
Omdat hul op die HEER se werk,
die hoogheid van sy hand nie merk,
sal Hy wat alle werk deurskou,
hul afbreek en hul nie meer bou.
28:6
Geloofd sy God, Hy het sy oor
geneig en weer my stem gehoor;
my sterkte en my hulp is Hy,
'n skild my altoos dig naby.
28:7
Dus steun my hart net op u mag,
en jubel ek met al my krag.
U is ons sterkte en teëweer,
'n rots vir u gesalfde, HEER!
28:8
Verlos ons uit benouenis,
en seen hul wat u bondsvolk is;
wees hul 'n herder vir altyd,
en dra hul tot in ewigheid!

 

29:1
Eng'lemagte, loof die HEER,
gee die HERE sterkte en eer!
Al die duisende tesaam -
sing die ere van sy Naam!
Eng'le, trone, heerskappye -
laat dit opklink uit jul rye!
Dien God, groot deur almagsdade,
in die skoonste feesgewade!
29:2
Dis sy stem wat, hooggedug,
rol en ratel deur die lug
as die onweerstorme woed
bo die donker watervloed;
en dit klink met groot vermoë
majesteitlik deur die boë;
alles beef en staan verwonder
as die God der ere donder.
29:3
Dis die HEER se stem wat spreek
as die trotse seders breek;
as hul spring soos kalwers op
Libanon se hoë top.
Berge kom saam in beroering:
Sirjon spring van skrikvervoering,
Libanon, met sederbosse,
huppel soos die wilde osse.
29:4
Dis die HEER se stem wat vuur
uit die donderwolke stuur;
bliksempyle skiet Hy neer,
Kades bewe van dié weer.
Bosse word ontbloot, en reë
word oorval deur skrik en weë.
In die tempel van sy ere
sê hul almal: Dis die HERE!
29:5
Onweerstorms het uitgewoed.
God sit bo die watervloed;
soos die kleur'ge reenboogkrans
sweef daarbo sy vredeglans;
en die grote wêreldstigter,
Hy, die sterke onweersrigter,
Hy laat op sy erf benede
druppels daal van seen en vrede.

 

30:1
Ek sal met hart en mond, o HEER,
u roem verkondig en u eer;
U het in guns na my gebed
geluister en my uitgered,
sodat die man wat my bestry het,
nie oor my smart hom kon verbly het.
30:2
My God, U het my op my klag
genees, en al my smart versag;
U het my siel, deur angs beroer,
diep uit die graf weer opgevoer,
U het my om die wederstrewer
nie aan die grafkuil oorgelewer.
30:3
Sing nou, Gods gunsgenote, bly,
'n danklied aan die HEER gewy.
Spreek lof, bring in gedagtenis
sy Naam wat hoog en heilig is!
Al laat Hy ons 'n oomblik bewe,
sy goedheid duur ons ganse lewe.
30:4
Die droefheid wat ons hart verskeur,
* wanneer ons saans mistroostig treur
en uitbreek in ons jammerklag -
sal, soos die pelgrim, net vernag;
want nouliks blink die môreglore
of jubelsange word gebore.
30:5
Ek het gesê in voorspoedstyd:
"Ek wankel nie in ewigheid."
Want, HEER, u guns het my bewaak,
U het my rotsberg vasgemaak.
Maar sluit U net vir my u oë -
dan beef my berg, van skrik bewoë.
30:6
Toe was, o HEER, my hart weer week;
ek het geroep en U gesmeek:
"Moet ek dan sterf? Sal ooit my stof
die mond kan open tot u lof?
Sal dit die luister van u waarheid
ooit kan verkondig in sy klaarheid?"
30:7
Hoor, HEER; betoon u guns aan my!
Hoor, troue Helper, wees naby
wanneer ek biddend op U wag!
Toe het die HEER my rougeklag
verander in die jubelreie
van sangers op hul feesgetye.
30:8
In plaas van rou en harteleed
het U met blydskap my omkleed;
my sak het U ontbind, my weer
met vreugde omgord, sodat my eer
nie swyg: U bring ek al die ere,
U sal ek ewig loof, o HERE!

 

31:1
Net soos 'n rots, gesterk, gestewig
teen storm en ongety,
is U, o HEER, vir my.
Maak my tog nie beskaamd vir ewig.
Bevry my, hoor my bede
na u geregtighede.
31:2
O neig u oor en red 'n lyder,
wees my by stormgerug
'n rots om in te vlug!
Wees my 'n vesting, o bevryder,
wat op 'n berg verhewe,
my veiligheid kan gewe!
31:3
U is my eewge rots, o HERE!
Diep in u veil'ge sy
sal ek genestel bly.
U sal my lei, u Naam ter ere,
tot ek die net verby is
wat voor my voet gesprei is.
31:4
Ek gee my gees oor in u hande,
my Redder, wat my trou
in veil'ge hoede hou.
Ek haat hul wat met offerbrande
hul neerbuig voor die gode.
Ek steun op God in node.
31:5
In U, my God, wil ek weer bly wees;
die guns wat U my bied,
wil 'k lofsing in my lied.
U was dit wat my wou naby wees,
wat my in guns aanskou het
toe ek op U gebou het
31:6
U het my nimmer oorgegewe
aan vyande wat wreed
getrag het na my leed.
Deur U, bevryder van my lewe,
kan ek met vrye skrede
nou wandel in u vrede.
31:7
Toon tans, o HEER, u mededoë,
verhoed my ondergang;
ek is beklemd en bang!
'n Swaar verdriet deurknaag my oë,
my siel is mat van klagte,
my liggaam sonder kragte.
31:8
'n Bitter smart verteer my lewe;
my tyd word deur geklag
verslyt die ganse dag.
Ek voel my kragte my begewe.
My ongeregtighede
deurwoel my kranke lede.
31:9
Ek word bespot, beskimp vanweë
my haters; van my smaad
hoor ek die bure praat.
Selfs vriende is my ongeneë;
my, reeds in smart verlate,
ontvlug hul op die strate!
31:10
Ek is vergeet soos een wat dood is;
ek is - wie dink daaraan? -
soos iets wat al vergaan.
Hul skinder nou dat ek in nood is,
en daar is geen verkwikking,
maar onrus en verskrikking.
31:11
Terwyl hul raad hou teen my lewe
en teen my samespan
met heimelike plan,
het ek my aan U oorgegewe.
Op U alleen staan my verwagting
by smaadtaal en veragting.
31:12
HEER, in u hande is my tye;
ek steun in al my leed
op U alleen wat weet
die maat en einde van my lye.
Red my, o sielsverblyder,
van vyand en bestryder.
31:13
Onthou my nie u wonderlig nie:
blik in u goedheid neer,
en red my tog, o HEER!
Laat my nie voor my haters swig nie.
Laat nooit verleë sug nie
wie biddend tot U vlug nie.
31:14
Beskaam, verskrik die goddelose,
laat hul in skande kom.
Laat in die dood verstom
die valse lippe van die bose,
hul wat my heilsverwagting
bespot het met veragting.
31:15
Hoe groot is, HEER, u seënstrome
vir wie opreg van gees
wil wandel in u vrees!
Hoe groot die vreugde van die vrome,
as almal klaar bemerk het
die heil wat U bewerk het.
31:16
U steek hul weg, al u vereerders;
daar's berging in die lig
van God se aangesig.
U steek hul weg vir samesweerders,
en hoed u gunstelinge
vir tong- en twisgedinge.
31:17
Geloofd sy God vir sy genade,
so wonderbaar en groot
aan my, sy gunsgenoot.
Sy oog slaan my in liefde gade;
Hy lei my na 'n veste
in veiliger geweste.
31:18
In moedeloosheid neergeboë,
het ek, deur vrees gejaag,
weleer te gou geklaag:
"Ek het verdwyn, wég van u oë."
Ook dan is voor u ore
my roepstem nie verlore.
31:19
Bemin die HEER. sy gunstelinge!
Hy sal jul nooit verlaat,
maar straf die trotse daad
deur goddelike regsgedinge.
Wees sterk dan, en behoue,
in stille Godsbetroue.

 

32:1
Welsalig wie van skuld en straf onthewe,
die woord mag hoor: jou sondes is vergewe.
Want God wat groot is in barmhartigheid,
het hom vergewe en skeld die skuld hom kwyt.
Welsalig wie die HEER geen enkel stonde
toereken wil die boosheid van die sonde
en wie se gees, van alle valsheid vry,
voor God ootmoedig al die skuld bely.
32:2
Toe ek voor U al worst'lende verstom het,
geen boetgebed my uit die hart gekom het,
het my gebeent', verskrik deur my geklag,
verswak en uitgeteer die ganse dag.
U hand het swaar gedruk op al my lede:
bedags geen rus, en snags geen stem van vrede;
my krag het weggedroog van uur tot uur
soos velde deur die somersonnevuur.
32:3
Ek het bely, o HEER - in sielerou nie
my hart gegrendel of my mond weerhou nie.
Ek het bely wat my van U vervreem,
U het my skuld genadig weggeneem.
Dus kom Gods volk, dus kom al sy bemindes
om Hom te soek terwyl sy guns te vind is;
die lewensee mag met sy golwe slaan,
dit deer hul nie, dit raak hul selfs nie aan.
32:4
U is dit, HEER, wat tot my hulp gereed is,
'n skut en skerm in alle angs en leed is,
in nood my red, met jubels my omring,
en in my gees weer vreugde laat ontspring.
Maar nee, o God, u goedheid reik nog verder!
U sê: Ek wil jou oppas soos 'n herder,
en wil jou voet op veil'ge pad laat gaan,
waarop my oog jou altyd gadeslaan.
32:5
Wil soos 'n perd nie wees wat opwaarts steier;
Of soos 'n muil wat ons sy dienswerk weier,
wat mensehand moet dwing met toom en tuig
tot hy sy krag in diensbetoon moet buig.
Die goddelose man het baie smarte;
maar wie op God vertrou van ganser harte,
hom sal gewis, ook onder kruis en druk,
die guns van God 'n krans vleg van geluk.
32:6
Regverdiges, laat hoor die blye tyding!
Sing voor die HEER 'n lofsang van bevryding,
'n sang wat juig oor skuldvergiffenis.
Sing, wie opreg van hart en wandel is!

 

33:1
Sing vrolik, hef die stem na bowe;
regverdiges, verhef die HEER!
Dit pas opregtes God te lowe
en uit te jubel tot sy eer.
Laat die psalmgesange - stem van sterk verlange
om die HEER te dank -
by die smeltend-skone harp- en sitertone,
liefde en lof verklank!
33:2
Sing nuwe sange, nuutgebore
uit aandrif van die skoonste kuns;
trompetgeklank deur tempelkore
moet danksê vir Gods nuwe guns.
Wat ons toegeseg is / in Gods Woord wat reg is,
het ons hart verbly;
en Gods almagsmerke / sien ons op sy werke -
waar en reg soos Hy.
33:3
Hy min die reg in alle dinge,
want enkel waar en reg is Hy;
tot by die aard' se verste kringe
sien ons sy goedheid uitgesprei.
In sy alvermoë / het Hy hemelboë
deur sy woord gestig;
deur sy Gees 'n ganse / leërskaar van glanse
skitt'rend aan laat lig
33:4
Hy laat die wilde wêreldseë
geweldig aanswel tot 'n hoop;
in voorraadskuur, omlaag geleë,
stuit Hy die waters in hul loop.
Voor Hom, Skepper-HERE van die see en mere,
van wat is en leef,
moet die verste strande, volke in al die lande
skrikverslae beef.
33:5
Die HEER se woord is skeppingsmagtig
wat lewe uit die dood gebied.
Hy spreek - dit staan daar lewenskragtig,
Hy roep net en dit het geskied.
Nasies en tiranne / smee verniet hul planne
in die vlam van haat.
Hy wat groot van mag is, / weet wat daar bedag is
en verbreek hul raad.
33:6
Die HEER se raad word nooit gekeer nie;
dit sal bestaan in ewigheid.
Teen sy besluit is geen verweer nie;
bestendig duur dit vir altyd.
Salig wie tevore / deur Hom is verkore
as sy erf en lot;
wie so hoog geëer is, / dat dié HEER húl HEER is
en dié God húl God/
33:7
Die HEER wat bo die wentelkringe
van son en maan sy rykstroon stig,
aanskou die mense en alle dinge -
daar's niks bedek voor sy gesig.
Uit sy vaste woning / waar Hy heers as Koning,
sien Hy, Skepper-HEER,
uit oneindig hoë / blou-deurglansde boë
op sy skepsel neer.
33:8
Die HEER skou uit die hoë hemel
en sien die mensekinders aan;
Hy ken hul hart, oor hul gewemel
laat Hy sy heil'ge oë gaan.
Magtige oorlogsvolke, / boë, skilde, dolke,
blinkende oorlog-staal -
duisende uitgestelde / manne, stryders, helde
baring geen seëpraal.
33:9
Die oorlogsperd kan nie behou nie,
hoe hy ook aanstorm met geweld;
hy red nie met sy ysterklou nie
wat grimmig neerdreun op die veld.
Maar die HEER se oë / straal met mededoë
op wie, klein van krag,
voor Hom stilverslae / in hul donker dae
op sy goedheid wag.
33:10
Sy arm ontbloot Hy uit die hoogte
en red hul siele van die dood.
Hy sorg vir hul by somerdroogte,
in sware tyd en hongersnood.
In die grootste smarte / bly nogtans ons harte
op die HEER vertrou.
Hy, ons skild, Hy wyk nie, / en ons hulp beswyk nie
waar ons hart op bou.
33:11
In God, dié God wat ons beveilig,
voel nou ons hart opnuut verblyd;
en op sy Naam, ontsaglik heilig,
vertrou ons tot in ewigheid.
Goedertieren Vader,
hoor ons as ons nader
met 'n diep ontsag;
slaan ons gunstig gade,
skenk ons u genade
as ons op U wag!

34:1
In weelde en ongeluk,
altyd sal ek die HERE prys;
altyd vir Hom my lof laat rys,
in voorspoed en in druk.
Hom sal'k die ere skenk,
tot roemtaal kragtig aangespoor.
Sagmoediges, hul sal dit hoor
en aantree op my wenk.
34:2
Kom, maak die HERE groot!
Laat ons sy Naam 'n lofsang wy,
aan Hom wat groot is en naby,
die helper in die nood.
Ek het in my gebed
Die HEER gesoek en Hy het my
in antwoord op my noodgeskrei,
uit al my vrees gered.
34:3
Hul oog was op die HEER,
en - vreugde 't van hul uitgestraal;
nou wek by hul geen smaderstaal
'n blos van skaamte meer.
Ellendiges maak Hy
- wanneer hul in verdrukking kerm,
en niemand hom oor hul ontferm -
uit hul benoudheid vry.
34:4
Gods sterke Engel wil
'n laer van beskutting wees
óm almal wat die HERE vrees.
Hy maak hul onrus stil.
Ervaar dan en aanskou
hoe waaksaam God is en hoe goed.
Hoe salig is 't in my gemoed
as ek op Hom vertrou!
34:5
O heil'ge volk van God,
geheilig om sy volk te wees,
jul hoef geen honger ooit te vrees,
God waak oor julle lot.
Die jong leeu, groot van moed,
ly honger op die skrale jag,
maar hulle wat die HEER verwag,
ontbreek dit aan geen goed.
34:6
Kom kinders, hoor na my!
Die HEER se vrees wil ek jul leer.
Wie is 't wat lewensduur begeer
en dae wat hom verbly?
Laat tong en lippe vra
na waarheid, en ontwyk die kwaad;
soek wat God wil: die regte daad,
en jaag die vrede na.
34:7
God wend sy aangesig
teen hul wat sy bevel weerstaan,
Hy laat hul naam met hul vergaan
deur hoogste strafgerig;
maar Hy sien gunstig neer
op die regverdige geslag;
Hy neig sy ore tot hul klag
en red hul altyd weer.
34:8
Die HEER's die hart naby
wat gans verbroke is en verskeur.
Die gees wat diep verslae treur,
verlos, bemoedig Hy.
Hoe kom hul altyd weer,
die teëspoede van wie hier
regverdig leef; maar Gods bestier
red hulle keer op keer.
34:9
Sy beend're word bewaar:
God sorg dat daar geeneen van breek.
Maar wie hom haat - die onheil wreek
dit op die skuldenaar.
Die HEER sal hul bewaar,
sy volk wat op sy hulp vertrou.
Hy sal hul in sy guns aanskou
en skuldig nooit verklaar.

 

35:1
Verdedig tog my regsaak, HEER,
en laat u hand my vyand keer!
Gryp áán die wapens van die stryder:
die skild en spies, o my Bevryder!
Belet hul optog, tree vooruit
om my vervolgers plots te stuit.
Sê aan my siel wat op U wag:
"Ek is jou heil en veil'ge krag."
35:2
Beskaam hul in hul trotse waan,
wat wreed my na die lewe staan!
Laat hulle wyk in onvermoë
wat net my onheil het voor oë!
Laat hul soos kaf word voor die wind!
Die Engel Gods, laat Hy hul vind,
verstrooi, verjaag op donker pad.
En maak dit voor hul voete glad!
35:3
Want sonder oorsaak het hul my
'n kuil gegraaf, 'n net gesprei.
Laat onheil gou die bose manne
beskaamd maak met hul onheilsplanne!
Laat hulle struikel in hul gang;
die net vir my gespan, húl vang;
en laat, terwyl ék dan bly staan,
húl daarin val en ondergaan!
35:4
My siel sal in die HERE juig
en Hom, vir hulp, my dank betuig;
my beend're saam spreek tot u ere
en sê: "Wie is soos U, o HERE,
wat die ellendiges bevry
van dié wat sterker is as hy?
Die arme - dat hy U mag loof -
verlos van dié wat hom beroof?"
35:5
Boosaardig kom met vrae aan
getuies wat my teëstaan,
my wil verskrik - die tongehelde
wat enkel kwaad vir goed vergelde
en - vir my siel, verlatenheid.
Toe hulle siek was, al die tyd,
het my 'n rougewaad omknel,
ek het my siel met vas gekwel.
35:6
Ook my gebed het altyd weer
my in die boesem t'ruggekeer.
Soos oor 'n vriend, soos oor 'n broeder,
soos een wat weeklaag oor sy moeder,
het ek getreur, in rou gebuk.
Maak as ek struikel in my druk,
dan kom hul vrolik bymekaar
en span hul saam, die ganse skaar.
35:7
Daar 's tafelspotters, roekeloos,
en lae mense, slinks en boos,
wat almal breek deur wet en bande,
en teen my kners hul met hul tande.
Hoe lank sal U dit sien, o God?
Vergun my siel 'n beter lot;
verlos my deur u sterke hand
uit hierdie leeus se klou en tand!
35:8
Nou sal in die teenwoordigheid
van wie U ken, u majesteit
my liefde en lofsang weer gewy wees.
Laat hul maar net nie oor my bly wees
wat sonder oorsaak met my twis
en sonder grond my vyand is.
Laat hul nie juig wat in hul waan
die oë skimpend op my slaan.
35:9
Hul mond spreek nie van vrede, nee;
hul hart, wat diep sy planne smee,
bedink die fynste listighede
teen stille minnaars van die vrede.
Hul blaf my aan met ope mond;
hul skimptaal wat my diep deurwond,
bespot my leed; hul is verheug
oor al my smart en ongeneug.
35:10
U sien dit aan. Ag, swyg nie stil;
beslis, o HEER, tog my geskil;
ontwaak, tree op tot my beskerming,
en toon my nou u groot ontferming!
Doen reg aan my in hierdie stryd,
o HEER, na u geregtigheid;
en laat die spotters, dag aan dag,
nie juig nie oor my treurgeklag!
35:11
Laat hul nie sê wat my bestry:
"Ha, nou het ons ons wens verkry!"
Laat my dié smaad nie ondervind nie
dat hul kan sê: "Ons 't hom verslind" nie!
Laat hul veeleer beskaamd daar staan
oor al die kwaad my aangedaan,
sodat my trotse teenparty
hom nooit kan groot hou teenoor my.
35:12
Laat hulle juig en blydskap smaak
wat bly is oor my goeie saak.
Laat hul, by elke vreugdedaling,
weer aanstem met 'n vreugdherhaling:
"Die HEER is groot en goed daarby,
wat vrede vir sy kneg berei."
Dan meld my tong met stil ontsag
u reg, u lof die ganse dag.

 

36:1
Die boosheid van die bose man -
my diepste hart getuig daarvan:
"Gods vrees is uit sy oë."
Hy vlei homself, in kwaad verstyf,
Dat God sy snode wanbedryf
vir altyd sal gedoë.
Bedrog en onreg is sy woord.
Hy gaan in sy onwysheid voort
en vrees geen bose handel.
Hy maak by nag sy planne reg,
en kom dan op die sondaarsweg
om in sy kwaad te wandel.
36:2
U goedheid, HEER, is hemelhoog;
u waarheid tot die wolkeboog;
u reg sal nooit begewe,
maar staan soos berge, vas van voet;
u oordeel is 'n diepe vloed;
U sorg vir al wat lewe.
Hoe kost'lik is u guns, o God!
Hoe vlug die mensekinders tot
u vleuels vir beskerming!
Hul smaak die vette van u huis;
U laaf hul uit 'n stroom wat bruis
uit dieptes van ontferming.
36:3
Van al wat leef, is U die bron;
van alle lig, die eewge son
wat afstraal in ons oë.
HEER, laat u reg en goedheid wees
oor wie opreg u ken en vrees
en steun op u vermoë:
laat trotse voet my nooit vertrap,
nòg bose hand in ballingskap
my dwing om rond te swerwe!
Daar val die werkers van die kwaad
vir altyd in 'n jammerstaat
waarin hul magt'loos sterwe.

 

37:1
Vertoorn jou oor die bose nooit:
hul sal verkwyn, hul raak verstrooid
soos gras wat gou verdor, vergaan,
soos spruitjies wat maar kort bly staan.
37:2
Vertrou op God: die hart en hand
in troue diens aan Hom verpand.
Verlustig jou in HOm altyd
wat mild'lik gee en nooit verwyt.
37:3
Laat yd'le sorg jou nimmer kwel,
wil aan die HEER jou sorg vertel:
Hy sal jou reg, soos middagglans,
laat skitter aan 'n helder trans.
37:4
Al bruis dit in jou omdat lis
en leuen hier voorspoedig is -
swyg voor die HEER, gerus en stil,
jou wil verenig met sy wil.
37:5
Wag op die HEER in lydsaamheid,
wees traag tot toorn: Hy ken sy tyd.
Kwaaddoeners stort in hul verderf;
wie God verwag, sal alles erf.
37:6
'n Rukkie nog, en kyk dan weer -
die goddelose 's daar nie meer!
Sagmoediges sal alles erf
en vrede sonder eind' verwerf.
37:7
Vergramd bedink die bose 'n lis
teen wie voor God regverdig is.
Die HEER belag die domme waan:
Hy weet die dag van straf kom aan.
37:8
Die bose kom - hul nyd gewek,
hul boog gespan, hul swaard getrek.
Die arme, so ellendig al,
sal voor hul wapens neer moet val!
37:9
Hom wat opreg is, klein van krag,
swak tot verweer, wil hulle slag.
Maar wee, hul swaard sal húl deursteek,
hul boë sal die HEER verbreek.
37:10
'n Weinig 's vir die vrome meer
as skatte waar die bose op teer:
God breek die arms waar hul op leun,
maar vromes sal Hy ondersteun
37:11
en welgevallig gadeslaan,
hul erfdeel nooit hul laat ontgaan;
ook in die dag van hongersnood
versadig Hy sy volk met brood.
37:12
Maar goddeloses sal vergaan
soos gras wat op die weiveld staan;
Gods vyande, hoe skoon van skyn,
sal soos 'n rookwolk gou verdwyn.
37:13
Die bose leen - en het te min,
Gods volk deel uit en - daar's gewin;
want sy geseendes sal hier bloei;
wie Hy vervloek, word uitgeroei.
37:14
'n Man se stap is vas en hegg
as God behae 't in sy weg;
en as hy val, dan bied Gods hand
hom hulp en wisse onderstand.
37:15
Ek was aanskouer van veel kwaad,
maar nooit dat God sy volk verlaat,
dat hul geslag, hoeseer geplaag,
ooit aan die bedelbrood moes knaag.
37:16
Veeleer skenk hy genadebrood
aan wie al wankel in hul nood.
Sy nageslag strooi om hul heen,
en op hul spoor ontspruit 'n seen.
37:17
Verlaat die pad wat God verlaat.
Die HEER bemin die regte daad.
En in 'n erfdeel, wonderskoon,
daar sal jy voor die HERE woon.
37:18
Die HEER sal vir sy gunsgenoot
'n skut wees selfs tot in die dood.
Die sondaar hou voor Hom nie stand;
regverdiges beërf die land.
37:19
Hul mond is ons 'n wysheids-wel
en reg is wat hul tong vertel.
Gods wet is in hul hart geplant,
en deur sy krag hou hulle stand.
37:20
En as die bose op hul loer,
sal God hul aan die strik ontvoer.
Hy voer hul reg deur sy besluti
voor sy gereg regverdig uit.
37:21
Gaan voort met onvertraagde stap
en hoop op God in vreem'lingskap,
totdat die aard' jou erfdeel word,
die bose voor jou neer moet stort.
37:22
Die goddelose sal vergaan,
al sien 'k hom nou as pragboom staan;
'n wyle nog, dan soek ek weer,
maar hy staan op sy plek nie meer.
37:23
Let op die vrome wat opreg
met God verkeer in woord en weg;
merk op die mans wat God hier vrees:
sy lewenseind' sal vrede wees.
37:24
Oortreders word tesaam verdelg,
van hul vergaan èn stam èn telg.
Die HEER 's 'n helper groot van mag
vir die regverdige geslag.
37:25
Hy is 'n toevlug in die nood,
Hy is 'n hulp oneindig groot.
Hy maak hul van die vyand vry,
hul skuil by Hom, Hy 's hul naby.

 

38:1
Straf tog nie in ongenade
my misdade,
HEER, verdra my met geduld.
Wil tog nie in toorn ontsteek nie
en U wreek nie
op my sonde en sondeskuld.
38:2
In my dring u strafgerigte,
HEER, soos skigte
wat my hart deurboor soos staal.
Ja, die hand wat hul gedryf het
in my lyf, het
self ook op my neergedaal.
38:3
Niks is aan my sonder wond nie,
niks gesond nie,
om u grimmigheid, o HEER!
Om my ongeregtighede
is geen vrede
in my beend're immermeer.
38:4
Want my hoof is gans bedolwe in die golwe
wat my sonde oor my stort;
al die golwe en die bare
met hul sware
druk het my te swaar geword.
38:5
Al my kwale en my plae
wek mishae
en 'n walging, my te sterk.
Ag, hoe lelik is die wonde
van die sonde
as mens op sy dwaasheid merk!
38:6
Krom en gans'lik neergeboë
voor u oë
gaan ek heeldag in die rou.
In my lende is ontsteking
en verbreking -
niks is heel meer aan my nou.
38:7
Uitgeteerd deur al my klagte
is my kragte
gans verbrysel en tot niet.
In my hart se afgrond ruis dit,
aaklig bruis dit -
daarom brul ek in verdriet.
38:8
HEER, U weet hoe hart en sinne
staan daarbinne
as ek worstel in my leed.
Voor U is my sugte en sorge
nie verborge,
daar U alles sien en weet.
38:9
Ag, hoe skud my hart en bewe;
uitgelewe
is my krag en opgeteer.
Oë, gans en al ontluister,
skemerduister,
sien geen daglig amper meer.
38:10
Ver van my, uit diep mishae
vir my plae,
het my vriende weggegaan.
Selfs verwante wil nie bly nie
naby my nie,
maar hul staar van ver my aan.
38:11
En my vyand lê sy lae;
in my plae
dreig hy met die laaste slag.
Same spreek hul, same veins hul,
en bepeins hul
my verderf die ganse dag.
38:12
Maar daar is in my geen oor nie
wat wil hoor nie:
soos 'n dowe hou 'k my dom.
Hul kom my van kwaad beskuldig,
maar geduldig
hou ek mond en lippe stom.
38:13
Want U, HEER, ontferm U oor my,
en verhoor my.
Op U bou 'k - wat my ook tref.
Laat my vyand nooit oor my nie
hom verbly nie -
om my wank'ling hom verhef.
38:14
Want in al my teënhede
dreig my skrede
altyd weer om uit te gly.
HEER, ek kerm in onvermoë
voor u oë,
en my smart is steeds voor my.
38:15
Ja, 'k bely voor U my sonde
onomwonde
en bekommerd oor my kwaad.
Maar my vyand lewe pragtig,
altyd magtig
en in hoog verhewe staat.
38:16
Dié wat goed vergeld met boosheid
en godd'loosheid,
hul word groot en sterk in mag;
hul omsluit alkant my weë,
staan my teë,
omdat ek u wet betrag.
38:17
Wil my, HEER, in hierdie lewe
nie begewe;
wees nie ver van my gebed!
Hoor die roepstem van 'n lyder,
o Bevryder
wat my altyd uit wou red!

 

39:1
Ek het gesê: Ek wil my weg bewaar,
geen klaagtoon oor my tong laat gaan;
in onheil wil 'k my mond en spraak bedwing,
terwyl die vyand voor my staan;
sodat hy in sy ongeduld oor my
geen vreugde of voordeel sal verkry.
39:2
In stilheid was ek stom, ek het geswyg
ook van wat goed is, maar my smart
is aangewakker tot 'n lydensvlam,
en daar was hitte in my hart
by my gesug, sodat my tong moes spreek,
maar met die stem van een wat smeek:
39:3
O HEER, ontdek my lewensend aan my;
my dae is by U getel.
En leer my tog hoe kort van duur ek is:
'n handbreed is my tyd geste;
'n ademtog en - ek is dit weer kwyt!
Ja, elke mens is nietigheid.
39:4
Gaan nie die mens net soos 'n skim daarheen,
net soos 'n skadu wat verdwyn?
Hul woel vergeefs, hul bring verniet byeen
wat vir die oog begeerlik skyn.
En niemand weet wie ná sy dood sal erf
wat hy met soveel sorg verwerf.
39:5
En nou, wat is dit waar ek nog op wag?
Ek hoop op U alleen, o God!
Red my van skuld, die oorsaak van my smart,
en laat die dwaas nie met my spot;
dan swyg ek stil, want U het dit gedoen;
ek wil my met u wil versoen.
39:6
Te swaar is die bestryding van u hand.
Wend u kastyding van my af!
As U die mens in u gestrengheid tref,
dan welk sy skoonheid by u straf.
Net soos 'n weefsel wat die mot verteer -
so nietig is die mens, o HEER!
39:7
Hoor my gebed, merk op my hulpgeroep,
wanneer 'k my trane voor U skrei.
Ek is 'n vreemd'ling wat maar kom en gaan,
soos ook my vaders was voor my.
Maak my weer vrolik, wend u toornblik af
voordat ek heengaan na die graf.

 

40:1
Ek het die HEER lank in my druk verwag -
Hy het sy oor tot my geneig.
Toe ek bedruk was en bedreig,
Het Hy geluister na my jammerklag.
Hy wat aan my gedink het,
toe ek so diep gesink het
in modderige slyk,
Hy laat my rotsvas staan,
Hy laat my veilig gaan -
My voetstap sal nie wyk.
40:2
'n Nuwe lied ruis oor my lippe nou,
'n Lofsang Gode toegesing.
'n Ganse skaar wat my omring,
sal 't sien en vrees en op die HEER vertrou.
O soete Godsbetroue!
Welsalig en behoue
wie wegvlug derwaarts heen,
op leuenaars nie ag,
van trotsaards niks verwag, maar steun op God alleen!
40:3
Grootmagtig was u daad. Hoe meld my mond
u wonders so oneindig ryk?
Wie is op aarde aan U gelyk?
Wie kan, o HEER, u grootheid ooit deurgrond?
Geen gawe of offerande,
gebring deur mensehande,
was ooit u wil of eis.
U het my oor deurboor,
dat ek u woord kan hoor
as hoogste dankbewys.
40:4
Net om u wil te doen soos in u Boek
- die wonderskrif wat nooit vergaan -
dit klaar van my geteken staan,
dit wil ek, HEER, van ganser harte soek.
Ek bied U hart en hande
in will'ge offerande -
al wat ek is en het;
diep in my ingewand
waar liefde-en ywer brand,
draag ek u heil'ge wet.
40:5
Nou sal ek u geregtigheid laat hoor:
daarvan in groot vergadering
vryuit die blye boodskap bring,
uit dankbaarheid tot sanglus aangespoor.
U trou wat nooit beswyk het,
u heil wat ons geblyk het,
u guns oneindig groot -
sal ek my hulde bring
in groot vergadering
van vriend en gunsgenoot.
40:6
Ek pleit, o HEER, op u barmhartigheid.
Bly met u liefde en trou om my,
want ramp en onheil is naby
en om my heen. En in my hart is stryd.
Die sonde uit ver verlede
oorval my matte skrede;
my oog het glans nòg gloed.
Hoe groot 's my sondes al!
hoe eind'loos in getal!
In my 's geen krag, geen moed.
40:7
Mag dit, o HEER, mag dit U maar behaag
om my te red. Verhoor my gou!
Oorlaai met skaamt' my vyand nou
wat na my soek, my met sy strik belaag.
Wil hulle rugwaarts slinger -
my vyand en bedringer
wat op my lewe mik.
As onheil my bedreig
laat dan hul spotlag swyg,
oorweldig hul met skrik!
40:8
Laat wie U soek, o God, my hulp in nood,
met almal wat u heil ervaar
in sielsangs en in doodsgevaar,
nou sing en sê: "Die HEER alleen is groot!"
Al is ek arm, ellendig,
Hy dink aan my bestendig.
Hy is die HEER by wie
daar redding is vir my.
U 's tot my hulp naby.
My God, vertoef tog nie!

 

41:1
Welsalig wie die arme in verdriet
sy hulp en bystand bied!
God sal hom red, en in die dag van kwaad
is Hy sy Toeverlaat.
God sal sy lewe in kommernis bewaak
en hom gelukkig maak;
hom nimmer oorgee, dat sy teenparty
oor hom ooit voordeel kry.
41:2
As hy in krankheid op die siekbed is,
gee God hom lafenis;
sy liggaamswee en alle ongeneug
verander Hy in vreug.
Daarom roep ek: Wil my genadig wees
en my, o HEER, genees!
Want, ag, ek weet die oorsaak van my wee:
ek het teen U oortree!
41:3
My vyande oorstort my met ellend
en hunker na my end.
Hul sê: Wanneer kom hy tog tot 'n val,
hy, met sy naam en al?
Hul kom asof hul op my siekte ag;
hul hart die lieg en lag!
Want gaan hul heen en is hul op die straat,
dan laster hul my staat.
41:4
My haters kom byeen, staan skelm opsy
en fluister kwaad teen my!
Hul sê: "Iets skand'liks is op hom gestort;
toe het hy krank geword!
Nou dat hy lê, sal hy nie opstaan weer."
Selfs wie met my verkeer,
my troue vriend, my disgenoot, dié hef
sy voet om my te tref.
41:5
Wil my, o HEER, weer oprig uit my kwaal
dat ek hul dit betaal!
Hieraan weet ek dat U, my so naby,
behae het in my:
geen vyand wat oor my verhoopte val
sal juig met vreugdgeskal;
in my opregtheid steun U my, o HEER,
U lig straal op my neer.
41:6
Geloofd sy God, die God van Israel!
Laat elk sy roem vertel!
Van ewigheid tot ewigheid gee eer
aan onse God en HEER!

 

42:1
Soos 'n hert in dorre streke
skreeuend dors na die genot
van die helder waterbeke,
skreeu my siel na U, o God!
Ja, my siel dors na die HEER,
na die Lewensbron; wanneer
sal 'k, ná swerftog en benouing,
God weer sien in klare aanskouing?
42:2
Trane stort ek in my klagte,
want die spotters vra vir my:
"Waar 's jou God?" My dae en nagte
gaan in droefenis verby.
Nog hoor ek die feesgedruis
wat weerklink het om u Huis,
Toe 'k 'n skaar daarheen gelei het,
my met hul in God verbly het.
42:3
O my siel, waarom onrustig?
En wat buig jy jou in my?
Waarom in Gods lof onlustig
as die vyand jou bestry?
Menigmaal het Hy jou druk
laat verwissel in geluk.
Hoop op God, in Hom weer rustig!
In sy lof sal 'k my verlustig.
42:4
'k Dink aan God in donker dae
uit die land van die Jordaan;
Hermon hoor my kerme en klae,
met die klein gebergte, aan.
Weedom gryp my binnenste aan,
as u water oor my gaan,
as ek, in my smart bedolwe,
wegsink in u watergolwe.
42:5
Maar die HEER sal in my lewe
weer oordag sy guns gebied.
Ook deur donker nag omgewe,
sing ek nog my pelgrimslied.
Ja, ek lofsing in die nag,
want ek bly die HEER verwag;
my gebed sal opwaarts strewe
na die bronwel van my lewe.
42:6
HEER, my Rots, op U betrou ek.
Waarom dan vergeet U my?
Ganse dae en nagte rou ek
onder druk en dwing'landy;
want ek hoor die vyand spreek
wat my met sy spot deursteek,
en my toeroep met veragting:
"Waar 's die God van jou verwagting?"
42:7
O my siel, waarom onrustig?
En wat buig jy jou in my?
Waarom in Gods lof onlustig
as dié spotstem jou bestry?
Menigmaal het Hy jou druk
laat verwissel in geluk.
Hoop op God, in Hom weer rustig!
In sy lof sal 'k my verlustig.

 

43:1
HEER, doen my reg, hoor my gebede,
en twis my twissaak tog vir my!
Want waar ek heengaan, skrede op skrede,
beleër my 'n bose en wrede,
'n huigelende teenparty
wat my my saak bestry.
43:2
My God, ek steun op u vermoë,
U is die sterkte van my hart.
Waarom gaan ek dan neergeboë -
verstoteling van voor u oë,
my siel bekommerd en benard -
gedurigdeur in swart?
43:3
Send, HEER, uit hemelse geweste
u lig en waarheid neer op my!
Laat dié my bring na Sions veste,
want daar is 't my die allerbeste,
waar ek, u woning ingelei,
my in u diens verbly.
43:4
Dan gaan ek in na Gods altare,
tot God, my God, my vreugd en lied;
dan speel ek met die harpenare,
dan ruis vir U my blye snare -
vir U wat my, ná kort verdriet,
'n eewge vreugde bied.
43:5
My siel, wat treur jy nog verslae
en is onrustig in jou lot?
Berus slegs in Gods welbehae;
strek uit jou hoop na beter dae.
Verrys, herleef op sy gebod -
my redder is my God!

 

44:1
O God, het ons nie met ons oor nie
en van ons vaders dit gehoor nie -
het ons dit nie van hul verstaan,
die werk deur U van ouds gedaan?
Hoe U die nasies met u hand
verdryf het en hul uitgeroei het,
terwyl u volk, deur U geplant,
hier welig deur u seen gebloei het!
44:2
Hul swaard het hul dit nie laat erwe,
hul arm geen seëpraal verwerwe.
Dit was ú hand, ú arm, die lig
wat afglans van u aangesig,
wat hul met guns en seen bestraal.
Gebied dan uit u hoë woning
die swaard van Jakobs seëpraal -
U self, o God, U is my koning!
44:3
Met horings stoot ons in die lende,
met voete trap ons neer die bende
van dié wat teen ons op wou staan.
U self, u Naam, het dit gedaan;
want ek vertrou nie op my boog
of swaard waarmee ek my omgord het;
U red ons, sodat voor ons oog
ons haters kragteloos geword het.
44:4
Dus vlei daar daagliks dank en ere:
U Naam loof ons vir ewig, HERE!
En tog het U ons nou verstoot,
U maak ons skaam, ons skande groot.
Want U, ons altyd so naby,
trek ons met leërs nou nie meer nie;
ons wyk al voor die teenparty;
hul plunder ons, en niemand keer nie.
44:5
Soos slagvee word ons oorgelewer,
verwilder deur die wederstrewer.
HEER, U verkoop u volk verniet:
dié spotprys kan geen wins U bied!
U maak ons tot 'n spot en smaak
in ballingskap se donker ure,
'n spreekwoord van dié wat ons haat
en 'n veragting by ons bure.
44:6
My skande is gedurig voor my,
en smaadbesef maar altyd oor my;
want daar's 'n mond wat laster braak,
'n blik wat listig loer op wraak!
Dit alles het oor ons gekom;
tog het ons nie ons afgewend nie
of met bedrog gehandel om
u heilsverbond met ons te skend nie.
44:7
Geen afgod het ons hart bekoor nie,
ons voet ook nie u pad verloor nie;
tog kwyn ons in 'n woeste plek
waar diepe donker ons oordek.
Het ons Gods Naam dan ooit vergeet?
Tot afgodsdiens ons ooit begewe?
Sou God, wat harte ken, nie weet
en speur wat binne-in ons lewe?
44:8
Om U ontwil moet ons nou swerwe,
gemarteld moet ons heeldag sterwe;
om U ontwil dryf hul ons aan
soos vee wat na die slagbank gaan.
Ontwaak tog, HEER, dit is nou tyd!
Waarin verstoot U ons vir ewig?
Waarom deur u afwesendheid
ons pyn en smart nog meer verhewig?
44:9
Waar skuil die lig wat eers gestraal het,
wat van u aanskyn neergedaal het?
Waarom vergeet U ons ellend,
ons onderdrukking sonder end?
Die moed is min, die gees is dof;
ons vlees kleef aan die aard onmagtig.
Staan op en hef ons uit die stof,
wees aan u goedheid weer gedagtig!

 

45:1
My hart, ontroer deur mymering,
sal lieflik van 'n Koning sing.
My tong, deur digvuur aangedryf,
is soos 'n pen wat vaardig skryf.
45:2
U 's skoon! Geen skoon wat daarby haal.
Bevalligheid van trek en taal
is oor u lippe uitgestort -
U wat deur God geseën word.
45:3
Gord aan u wapens tot die stryd,
o Held, u glans en majesteit!
Oorwinnend ry na die geveg
vir waarheid, ootmoed, hoogste reg.
45:4
U regterhand wat triomfeer,
sal U gedugte dinge leer.
U pyle sal die volke tref
wat teen die Koning hul verhef.
45:5
U troon hou stand in storm en stryd,
u septer is regverdigheid.
U min geregtigheid, maar haat
die onreg met die onregsdaad.
45:6
U, Koning, van so 'n ryksgebied,
het God met vreugdesalf oorgiet.
O God, u God, die maak U groot
bo elke vors en troongenoot.
45:7
U klere is mirre en alewee,
en balsemgeur sweef met U mee;
uit u ivore-koningshuis
kom wonderskone snaargeruis.
45:8
Daar 's koningsdogters in die ry
van dogters wat U begelei;
die koningin hou by U stand
in fynste goud uit Ofirland.
45:9
O dogter, wat die bruidsroep hoor,
o skoonste, luister, neig jou oor!
Vergeet jou volk, jou eie vlees,
dat jy die Koningsbruid kan wees.
45:10
Gee dan die Koning, groot van mag,
op jou en op jou skoonheid ag,
o wier nie: buig voor Hom neer;
Hy is jou Koning en jou HEER.
45:11
Uit Tirus sal hul nader kom -
ook rykes, met geskenke, om
met skatte van die fynste kuns
te werf die sonskyn van jou guns.
45:12
Die Koningsdogter is nou gans
verheerlik in haar skoonheidsglans.
En oor haar kleed 'n weerskyn sweef:
dit is met gouddraad ryk deurweef.
45:13
Veelkleur'ge kleed, daarin word sy,
die skone, na haar Vors gelei;
'n stoet van maagde agteraan
wat met haar na die Koning gaan.
45:14
Hul word met vreugde voortgelei;
en almal, in hul Koning bly,
mag intree - hoogste gunsbewys! -
in koninklike pragpaleis.
45:15
Wanneer u vaders heen moet gaan,
sal in hul plek u nakroos staan.
U vestig hul met vaste hand
as vorste in die ganse land.
45:16
Ek sal, o Vors, U eer bewys,
u Naam deur die geslagte prys.
Die volke sal, in U verblyd,
U loof vir ewig en altyd.

 

46:1
God is 'n toevlug in die nood,
'n rots wat altyd vas bly staan,
al dreig die vyand met die nood,
al storm sy leërbendes aan.
Laat dan maar buig en beef
al wat ons hier omgeef;
laat berge uit hul stee
wegwankel in die see -
ons sal nie beef of rugwaarts gaan.
46:2
Laat hoog die see se waters bruis
en in hul woede skuim en kots;
laat berge dreun van golfgedruis
wanneer dit teen hul hoogtes bots.
Die waterstroompies wat
daar kronkel in die stad
en oor die rotse gly -
hul maak die Godstad bly,
die heiligdom op veil'ge rots.
46:3
Die HEER is daar, Hy hou die wag;
so gaan die donker uur dan om;
Hy red wanneer die vroeë dag
goudglansend oor die berge kom.
In wilde krygsgedruis
het nasies opgebruis,
en koninkryke sink:
die HEER se stem weerklink -
'n ganse wêreld beef voor Hom!
46:4
Gewis die HERE Sebaot
sal sy gedugte mag laat blyk;
in nag en storm sal Jakobs God
ons rotsburg wees wat nooit beswyk.
kom nader en bemerk,
aanskou die HEER se werk; hoe Hy die wêreld rig;
hoe alles voor Hom swig
en in ontsetting weg moet wyk!
46:5
Die oorlog swyg op sy bevel
tot in die allerverste land;
die moordtuig om die mens te kwel,
verbreek Hy met oorwinnaarshand.
Hy keer die oorlogs-kans
en breek die boog en lans,
in vlam van haat gesmee.
Hy slaan die spies aan twee
en steek die oorlogswaens aan brand.
46:6
Hou op, en weet: Ek is die HEER!
Ek is verhoog bo alle vlees;
My sal die nasies sien en eer,
of sidd'rend vir my oordeel vrees.
Die HEER sal in gevaar
sy leërs om ons skaar,
oneindig in getal.
Die God van Jakob sal
vir ons 'n veil'ge vesting wees.

 

47:1
Juig, o volke, juig! Handklap en betuig
voor die HEER jul vreug! Wees in God verheug!
Sing Hom lof en prys op verhewe wys,
want bo al wat leef en voor Hom moet beef,
sal sy septer wink en sy glorie blink -
Allerhoogste in eer, groot is God die HEER!
47:2
God die HEER so groot, het sy arm ontbloot;
hul wat ons omring, het Hy saamgebring
dat hul trotse nek ons tot voetbank strek.
Hy, die sterke God, kies vir ons ons lot:
Jakobs pronkjuweel, Kana'n, word ons deel.
Dit is aan sy kneg gunstig toegeseg.
47:3
God vaar voor die oog met gejuig omhoog;
die trompette blink, die basuine klink:
met 'n groot geskal styg bo berg en dal
God se glorie uit. Laat nou die geluid
van jul psalme hoor: laat 'n jubelkoor
Hom, die Vors en Heer van die aarde, eer!
47:4
Psalmsing tot Gods eer! Weet dat Hy regeer.
Hy het opgevaar, Koning is Hy daar
van die heidendom. Vorste en volke kom
om sy volk te wees, Abrams God te vrees.
Skild en teëweer is van U, o HEER!
Sing dan juublend bly! Hoog verhewe is Hy!

 

48:1
Die HEER is groot waar Sions top
hom wentel uit die dieptes op.
Hy is lofwaardig, waar verhewe
die berg en stad in songlans bewe,
en Sion teen die noorde
blink, bó die lof van woorde.
Daar waar in vlekkelose wit
die Koning van die wêreld sit,
het Hy, wat een die vyand waak,
as rotsburg Hom bekend gemaak.
48:2
Die konings van die heidendom
het met hul leërs aangekom,
die aanvalsmag wat hul gekeur het.
Maar nou? Hul weet nie wat gebeur het -
plots kom oor hul verbasing,
verskrikking en verdwasing.
Die helde deins verward terug,
'n oomblik - en hul 't weggevlug!
En Sion, rotsburg van die HEER,
blink in sy oue glorie weer.
48:3
Soos een wat beef in moedersmart,
so raak hul daar verskrik, verward.
Die God van mag, van kragbewyse,
verbreek die skepe, pragpaleise
van Tarsis: oseane
spring op voor sy orkane!
Soos ons gehoor het, sien ons oog:
Die HERE Sebaot rys hoog!
Hy sal sy stad, die mens ten spyt,
bevestig tot in ewigheid.
48:4
Ons wil, o HEER, wat redding skenk,
aan al u goedheid bly gedenk
as ons tesaam is in u woning.
Net soos u Naam is, grote Koning,
so is u glansverskyning:
die vyand se verdwyning
word aan die volkere bekend
tot by die aard' se verste end.
U hand wat nooit die kwaad gedoog,
rys vol geregtigheid omhoog.
48:5
Laat Sions berg weerklink van vreug!
Laat Juda's dogters hul verheug,
omdat Gods oordeel hul verbly het -
dié oordeel wat sy volk bevry het.
Aanskou die stad met skanse,
paleise, toringtranse -
hoedat hul pryk met nuwe prag.
En meld dit aan die jong geslag:
Die God is ons God, en Hy
sal tot die dood toe ons gelei.

 

49:1
Kom luister, volke wat die aarde oordek,
wat woon so ver die wêreldlande strek!
Kom aan, wie klein en arm is in die land,
saam met die rykes, hoog in eer en stand!
My hart en mond bring enkel wysheid voort.
Ek neig my oor en luister na 'n woord;
'n diep geheim - 'n stof vir harpenare -
sal ek vertolk by ruising van my snare.
49:2
Waarom sou ek verskrik wees in 'n tyd
as onheil dreig in ongeregtigheid,
as onderkruipers my gedagtes kwel,
en hul vir my die fynste strikke stel?
Hul wil oorwin deur kragdaad en geweld,
dra roem op grootheid, mag van goed en geld;
maar kom die dood - wie weeg dan geld vir lewe?
Geeneen wat God die losprys dan kan gewe.
49:3
Onvindbaar is vir ewig die rantsoen
wat aan Gods reg en strengheid kan voldoen.
Geen mens het ooit, hoe sterk ook sy bestaan,
hoe wys of dwaas, die grafkuil kon ontgaan;
daar's niemand wat die dood ontvlug, geeneen;
en magt'loos gaan die mensekind weer heen.
Geen skatte volg hom op dié donker spore;
wat hy verwerf het, is vir hom verlore!
49:4
Hy prent hom, dwaas in sy verdorwe sin,
'n ewigheid van aardse dinge in:
sy hoë huis, dink hy, sal altyd staan,
sy naam, al wyd vermaard, sal nooit vergaan!
Dié hoop reik ver, maar wat, wat is dit tog?
'n Skynsel eers en dan - 'n groot bedrog.
Die mens, hoe hoog in eer en mag verhewe,
vergaan soos vee en derf oplaas die lewe.
49:5
So 's dit met hom wat op homself vertrou,
en almal wat sy woord in waarde hou.
Die dood, hul herder, lei hul dieper af,
hul volg hom ná soos skape na die graf.
Dié wat opreg is, sie die môre straal,
maar trotsaards moet in donker dieptes daal,
waar al hul grootheid brokkel in sy broosheid
en hul gestalt' verword tot wesenloosheid.
49:6
Maar ná die dood, dan rys die dag vir my.
God sal my red, Hy koop my siel dan vry.
Hy, die oorwinnaar in die laaste stryd,
neem my dan op in eewge heerlikheid.
Vrees nie, wanneer 'n man se skatte groei,
wanneer sy huis in waarde en weelde bloei;
want by die grens daar staan die dood, die wagter;
dié wys 'n graf, en - hy laat alles agter!
49:7
Vlei hy homself in sy gelukstaat nou,
prys hul dit dat hy hom geen weelde onthou -
sy blom verwelk waaroor die doodswind gaan,
en hy daal neer, agter sy vaders aan.
Die duisternis, geselskap van verderf,
'n eewge nag, is al wat hy verwerf.
Die dwase mens, hoe hoog in eer verhewe,
vergaan soos vee en derf oplaas die lewe.
50:1
Die grote God, die HERE spreek!
Hy roep, Hy daag die aard', van waar
die son in goudglans uit kom breek
tot waar hy sterwend neer sal vaar.
Uit Sion, sonder voorbeeld skoon,
sprei God sy ligglans ver ten toon.

 

50:2
God kan nie swyg. Hy kom, Hy kom
met vuur wat voor Hom heen verteer!
Geweldig storm dit rondom Hom:
Aartsregter daal op aarde neer
en roep die aarde en hemel aan
om, as Hy straf, Hom by te staan.
50:3
"Daag hier my volk, roep almal by
wat mét hul offers altyd weer
verbonde maak van trou aan My."
Gerig begin!... Die heemle eer
Gods reg en gee getuienis
dat Hy alleen regverdig is.
50:4
"Kom, Isr'el, luister na my spraak:
Ek is jou God, my vok is jy!
Ek sal jou geen verwyte maak
oor offers aan My toegewy:
jou offerbloed en offergeur
is voor My altyd, altyddeur.
50:5
"Geen stier hoef 'k uit jou huis te lei