Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die Gereformeerde Wêreldbeskouing

David J. Engelsma

 

Wat die Gereformeerde Wêreldbeskouing is

Hoewel die woord “wêreldbeskouing” nie in die Bybel voorkom nie en vir gelowiges filosofies, en daarom ietwat intimiderend voorkom, is die werklikheid wat deur die woord uitgedruk word wel Bybels. Dit is ook vir elke Christen van belang.

ʼn Mens se wêreldbeskouing is presies wat dié woord sê: sy beskouing van die wêreld in die geheel – die oorsprong van die wêreld, die geskiedenis van volke en nasies, die doel en betekenis van die wêreld en van die mens se eie plek in die wêreld. Wêreldbeskouing is die groter raamwerk waarbinne elkeen van ons sy eie klein plekkie moet sien en dienooreenkomstig bepaal hoe sy lewe ʼn wyse, ware lewe met waardes moet wees.

Dit is ooglopend hoe belangrik wêreldbeskouing vir ons lewe en optrede is. Veronderstel ʼn jongmens met die lewensbeskouing van ateïsme, naturalisme, evolusionêre sciëntisme – die wêreldbeskouing wat by miljoene jongmense oor die wêreld, deur staatskole en die populêre media gekweek word. Daar is geen God nie. Alles het onvoorsiens per toeval ontstaan. Die mens is die toevallige produk van biologiese ontwikkeling van primate wat toevallig sterker as ander diere was. Die einde van iedere menslike wese is dood, ontbinding en ewige uitwissing. Die toekoms van die heelal sal óf ʼn verbysterende ontploffing (of inploffing) óf geleidelike afkoeling, maar in iedere geval vernietiging, wees. Die lewe van so ʼn jongmens is dus, soos die van alle ander mense, betekenisloos en geheel en al sonder hoop.

Met so ʼn lewensbeskouing kies sommige ʼn onverantwoordelike en plesier behepte lewe – dronkenskap, dwelmmiddels, seksuele losbandigheid en sinnelose geweld. Sou hulle hoegenaamd dink, is hulle mentaliteit dié van “Laat ons eet en drink en vrolik wees, want môre sterf ons”.

Ander, wie se denke nie wesenlik hiervan verskil nie, hoewel hulle lewe meer respektabel mog wees, wy hulle daaraan om voluit aards te lewe en die laaste druppel plesier en gemak uit die lewe te pers. Hierdie lewenswyse is deur Jesus in die beskrywing van die tye wat sy koms voorafgaan, voorspel: “... dae ... toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het” (Matthéüs 24:38). ʼn Drankadvertensie het die wêreldbeskouing wat tot hierdie vleeslikheid, hierdie beheptheid met die natuurlike en tydelike, verkondig: “Jy lewe net een keer”.

Ander, oënskynlik meer edel, maar in werklikheid net so selfsugtig soos hulle aardse maats, jaag roem na, sodat hulle naam hulle kan oorleef. Die optrede wat uit so ʼn naturalistiese wêreldbeskouing spruit, is deur die Psalmis in Psalm 49 só beskryf: “Hulle binneste gedagte is: hul huise sal vir ewig wees, hul wonings van geslag tot geslag; hulle noem die lande na hul name”.

Ander jongmense wil, soos baie dit ook doen, selfmoord pleeg.

Wanneer ʼn jongmens se wêreldbeskouing egter is dat die God en Vader van Jesus Christus alles gemaak het en alles regeer, dat hyself deur God geskape is en deur Jesus Christus gered is; dat sy lewe ʼn doel het – die eer van God, deur sy Koninkryk te soek; en dat sy einde, na liggaam en siel, die ewige lewe in ʼn nuwe skepping is – die wêreldbeskouing van die Christelike jongmens – dan sal hy, soos dit in Prediker 12:13 beskryf word, al die dae van sy lewe God vrees en sy gebooie onderhou – ʼn lewe wat voortkom uit ʼn vroom wêreldbeskouing.

 

Bybels

Die Bybel gebruik wel nie die term “wêreldbeskouing” nie, maar dit sit wel ʼn wêreldbeskouing uiteen. Dit vorm ʼn wêreldbeskouing in elke gelowige verstand. My ouers het nooit die woord gebruik nie. As ek die woord in my kollege-dae in gesprekke met hulle sou gebruik, sou hulle waarskynlik agterdogtig wees en gedink het dit is een of ander idee van ʼn kollege of universiteit wat sy Gereformeerde grondslag kwytgeraak het. Hulle het ewewel ʼn wêreldbeskouing gehad, al het hulle nooit ʼn kollege kursus gevolg nie en, in my vader se geval, nie eens hoërskoolopleiding gehad nie. Hulle wêreldbeskouing was dié van die Bybel. Hulle het dit aan al hulle kinders oorgedra en dra dit steeds aan hulle kleinkinders en agter-kleinkinders oor.

In ʼn boekie met die titel, “The Reformed Worldview on Behalf of a Godly Culture”, definieer en beskryf ek wêreldbeskouing só:

... ʼn omvattende eenheid van die beskouing van die hele skepping en geskiedenis, óf in die lig van die kennis van die drie-enige, een, ware en lewende God wat in Christus geopenbaar is, óf in die lig van die ongelowige verwerping van hierdie God. Hierdie beskouing van alle dinge bepaal hoe ʼn mens sy of haar hele aardse lewe in hierdie wêreld lewe. Die krag van ʼn wêreldbeskouing lê daarin dat dit die raamwerk van ʼn mens se hele lewe vorm.1

Die Gereformeerde, Christelike wêreldbeskouing, so ryk soos die skepping en so geheimenisvol en vol wonder soos die geskiedenis en ʼn mens se eie lewe, is eenvoudig die beskouing van die skepping wat deur die drie-enige God gemaak is ter wille van sy eie eer in Jesus Christus. God verwerklik sy voorneme deur die geskiedenis te regeer – sy voorsienigheid – met ten doel die liggaamlike koms van Christus in die laaste dae om die dode op te wek, die laaste oordeel uit te voer en in heilige gemeenskap met sy uitverkore kerk te lewe in ʼn nuwe skepping, waaruit die sonde, dood en droefnis verdryf sal wees.

Wat ek so pas beskryf het, is die wêreldbeskouing van die Bybel. Die Christelike wêreldbeskouing word gesaghebbend – en duidelik – in die geïnspireerde Skrifte aan alle gelowiges bekend gemaak. Die wêreldbeskouing van die Christen is God se eie beskouing van die wêreld, die geskiedenis en elkeen van ons se plek in die “groter prentjie”. Ons mag nie ons eie wêreldbeskouing uitdink nie. Doen ons dit, is ons wêreldbeskouing vals. Die gevolge van ʼn valse wêreldbeskouing is noodlottig vir onsself én vir almal wat ons daarmee mislei.

Die wêreldbeskouing van die Bybel begin noodwendig by die oorsprong van die wêreld. Die Bybel verwys soms na die geskape heelal as “die wêreld” (Johannes 3:16) en soms as “alle dinge” (Kolossense 1:16-18, 20). Die oorsprong van die wêreld, alle dinge, is die skepping van God in ses dae (Genesis 1-2; Hebreërs 11:3).

Die doel van God met die skepping van die heelal – die volgende fundamentele aspek van ʼn ware wêreldbeskouing – was sy eie eer deur Jesus Christus. In die besonder was die voorneme van God die verlossing van ʼn uitverkore kerk deur Jesus en die versoening van alle dinge met Christus by die wederkoms van Christus. Want “alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” naamlik vir “die Seun van sy liefde, in wie ons die verlossing het deur sy bloed” (Kolossense 1:13-14, 16). Die welbehae van die Vader met die skepping was dat “die ganse volheid” in Jesus Christus sou woon (vs. 19).

Deur sy voorsienende sorg en krag laat die drie-enige God sy wil in die geskiedenis van die wêreld geskied. Elke skepsel en elke beweging van elke skepsel, of dit die groot gebeurtenis van ʼn wêreldoorlog of die klein gebeurtenis van ʼn haar wat van ons hoof val, is, dien God se groot voorneme met alle dinge. Die HERE God het Kores, die koning van Persië en sy ryk – ʼn groot figuur en ʼn groot mag in die geskiedenis – “ter wille van Jakob, my kneg, en Israel, my uitverkorene” (Jesaja 45:1-6) laat verrys. Maar ook mossies is by die “alle dinge” wat God vir Christus en sy kerk geskape het, ingesluit. Daarom gebeur so ʼn onbeduidende ding soos ʼn mossie wat op die aarde val “nie sonder julle Vader nie” (Matthéüs 10:29).

Die raad van God oor die wêreld sluit sy besluit oor die sondeval van die menslike geslag in Adam in. Dit blyk uit Kolossense 1:16 waar geskryf is dat God alle dinge nie vir Adam nie, maar vir Christus in wie ons die vergiffenis van sonde het, geskape het.

Die grondslag van die voorneme van God met alle dinge en die kern van sy ewige raadsbesluit was die sterwe van Christus.

Die konings van die aarde het saamgestaan en die owerstes het saam vergader teen die Here en teen sy Gesalfde. Want waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volke van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het, om alles te doen wat u hand en u raad vooruit bepaal het om plaas te vind (Handelinge 4:26-28).

In noue verband met Kolossense 1:13-20 leer Efesiërs 1:11 dat God sy een, groot besluit om alle dinge in Christus te versamel, uitvoer deur alle dinge in die geskiedenis streng ooreenkomstig sy raad uit te voer: “ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.”

In die Christelike wêreldbeskouing het die skepping en die geskiedenis ʼn doel en betekenis. In die Christelike wêreldbeskouing het die lewe van elke Christen, hoe onbeduidend ook al volgens menslike standaarde, ʼn doel en betekenis.

God is die betekenis en doel van die wêreld!

Die doel en betekenis van die lewe van elke Christen is dat hy sy God sal verheerlik deur Hom te bely en te dien.

Wêreldbeskouing is Godsbeskouing!

En die God wat beskou word, is nie maar een of ander god, nie enige god, nie ʼn groter krag, nie ʼn opperwese, nie ʼn afgod – sy dit Baäl, die Natuur of Allah – nie.

Die God van die Christelike – en enigste ware – wêreldbeskouing is die drie-enige, een, ware en lewende God wat in die Heilige Skrif geopenbaar word, soos dié Skrif in die Gereformeerde belydenisskrifte verstaan en uiteengesit word. Hy is die God en Vader van sy vleesgeworde Seun, Jesus Christus en, ter wille van Jesus, die God en Vader van elke uitverkore gelowige.

 

Wêreldbeskouing van Die Mens

Teenoor die Christelike wêreldbeskouing, wat by God begin en eindig, word vandag ʼn ander wêreldbeskouing opgestel: die wêreldbeskouing van Die Mens.

Ook hierdie wêreldbeskouing is 'n omvattende beskouing van die wêreld – 'n “groter prentjie.” Hierdie wêreldbeskouing gaan ook oor 'n doel, 'n betekenis, van die heelal en die geskiedenis. Ook dié wêreldbeskouing spoor 'n bepaalde soort lewe, in sy eie lig, by mense aan.

Hierdie wêreldbeskouing sien Die Mens – die mens sonder God – ewewel as die doel van alle dinge, as die soewereine regeerder van alle dinge, as die betekenis van alle dinge.

Die dramatiese ontwikkeling van hierdie wêreldbeskouing het 'n bepaalde geskiedenis in die moderne tyd in die Weste. Die Renaissance van die veertiende en vyftiende eeue het Die Mens verheerlik. Die Verligting van die laat sewentiende en die agtiende eeu het verklaar dat Die Mens outonoom is. Moderne filosofie het die Weste daarvan oortuig dat die enigste kennis wat moontlik is, dié is wat mense met hulle verstand vorm op grond van hulle sintuiglike ervaring van die materiële wêreld (die filosofie is nie meer so seker van hierdie kennis nie, soos ons later in hierdie boek sal sien). Die wêreldbeskouing van Die Mens word afgelei uit die kroning van die Wetenskap as die teenswoordige oppergesag oor alle denke en optrede.

Die resultaat van die ontwikkeling van hierdie wêreldbeskouing in die Weste is, soos Nietzsche dit skitterend gestel het: “God is dood.”

Twee kragtige faktore dra in die besonder by tot, en skraag, die wêreldbeskouing van Die Mens aan die begin van die een-en-twintigste eeu. Een daarvan is die kritiek van moderne teologie op die inspirasie en gesag van die Skrif. Geïnspireerde Skriftuur bevraagteken naamlik die outonomiteit van Die Mens se rede, die waarheid van Die Mens se wetenskaplike oordeel en die goedheid van Die Mens se etiese besluite. Gepaard met die kritiek op die Woord van God gaan die moderne teologie se kritiek op die God wat in die Skrif geopenbaar word, in die besonder sy soewereiniteit en sy geregtigheid. Sy soewereiniteit is die dodelike bedreiging vir die oppermag van Die Mens, en die geregtigheid van God, vergestalt in 'n versoenende kruis, ontmasker die trotse Mens as 'n skromelike, skuldige sondaar.

Die tweede faktor wat vandag kragtig werk in die vorming en steun van die wêreldbeskouing van Die Mens, is Darwin se evolusieteorie. Hierdie teorie is van die grootste nut vir wêreldbeskouing van Die Mens en word daarom met alle mag bevorder en hardnekkig verdedig en, inderdaad met die alles verterende passie wat eens vir die ware godsdiens gereserveer is, aangewend om die Skepper-God te probeer lamslaan en Die Mens opperwese te maak – die heer van alles. In die besonder stel die evolusieteorie van Darwin Die Mens as sy eie wetgewer, wat reg en verkeerd, goed en kwaad vir homself bepaal.

Omdat die Staat die hoogste en magtigste instrument van Die Mens is, in der waarheid die vergestalting van Die Mens – ‘Mens’ so groot geskryf as wat dit moontlik is – oorheers die Staat toenemend die wêreldbeskouing van Die Mens. Die Staat is Die Mens as redder – die welvaart Staat. Die Staat is Die Mens wat reg en verkeerd, goed en kwaad verorden. Só het die Hoërhof van die Verenigde State besluit dat die moord op miljoene ongebore babas reg en goed is. Die Staat is Die Mens in die volheid van sy glorie. Só hou, in die Verenigde State in onlangse jare, die president hom voor, of word deur sy hanteerders voorgehou met die oogluikende toelating van die volk, as feitlik goddelik. Die Staat is Die Mens as die heerser oor die hele menslike lewe. Dit eien die gesag toe oor die hele lewe van die burgery, en word dit ook gegee, nie net oor orde en verdediging nie, maar ook oor die sakelewe en arbeid, opvoeding, welsyn, media en moraal.

In die wêreldbeskouing van Die Mens is Die Mens god en die Staat en die persoon van die Staatshoof die volste manifestasie van dié godheid.

Die wêreldbeskouing van Die Mens ag nie net die ware God gering en laat Hom uit die “groter prentjie” weg nie. Dit is vyandig teenoor God. Dié wêreldbeskouing opponeer God toenemend, dit ontken God en belaster God. Die gevierde Britse wetenskaplike, Richard Dawkins, het onlangs van die kant van die moderne wêreldbeskouing van Die Mens, uiting gegee aan die haat teenoor God en daarmee teenoor die Christendom. Hy het dit gedoen met sy wild populêre boek, The God Delusion. Die rasionaal vir die boek is dat God nie bestaan nie; dat Hy, ten spyte van sy nie-bestaan, die ergste euwel is waardeur die mensdom geteister word; en dat Hy daarom vernietig moet word, in die besonder in die harte, verstand en lewe van alle mense. Dawkins belaster God in ’n hoofstuk van sy boek onder die titel “The God Hypothesis”:

Die God van die Ou Testament is moontlik die mees ongure karakter van alle fiksie: jaloers, én trots daarop; ’n kleinlike, onregverdige, onvergewende beheer-frats; ’n wraakgierige, bloeddorstige, etniese suiweraar; ’n vrouehater, ’n homofoon, ’n kindermoordenaar, ’n volks moordenaar, ’n gesinsmoordenaar, ’n pes verspreider, ’n grootheid waansinnige, ’n sadomasochistiese, onvoorspelbare, kwaadwillige bullebak.2

Jesus is dan “ die flouerige, Christelike, ander gesig van Yahweh.”3

Thomas Nagel, ateïs en professor in die regte en filosofie aan die New York University en mede kryger van Dawkins in die stryd teen God en die wêreldbeskouing wat Hom erken, erken openlik sy vyandskap teen God en sy vasberadenheid om God van sy wêreldbeskouing (en die wêreldbeskouing van almal wat hy doseer) uit te sluit:

Dit is nie net dat ek nie in God glo, en natuurlik hoop dat ek reg is in my geloof, nie. Dit is dat ek hoop dat daar nie ʼn God is nie! Ek wil nie hê dat daar ʼn God moet wees nie; ek wil nie hê die heelal moet so wees nie.4

Dit is ʼn treffende kenmerk van die sogenaamde “Christelike” Weste dat dit met veragting en haat téén die Christendom en die God van die Christendom draai. Die frontlinie van die Weste se aanval op die Christendom is dié manne en vroue wat die kultuur en die denke vorm, en die besluite beïnvloed van onderwysers, televisie aanbieders, verslaggewers, koerantskrywers, romanskrywers en regters.

Peter Hitchens kondig die Weste se verwoede aanslag teen God aan én illustreer dit: “Die woede teen God is losgelaat en berei hom voor om die oorblywende altare te stroop sodra dit sterk genoeg is.”5 Hitchens beskryf hierdie aspek van die stryd van die wêreldbeskouings.

God is die linkses se grootste mededinger ... As God nie onttroon en sy wette herroep word nie, is Hy, wat in die harte van miljoene mense lewe, ʼn vername aanspraakmaker op die gesag van die despoot. As hy nie uit die harte gedryf kan word nie, is totale beheer deur die staat nie moontlik nie.6

Die haat teenoor God deur die wêreldbeskouing van Die Mens, behoort die Christen nie te verbaas nie. Die mens is gevalle, verdorwe en opstandig. Die mens is slaaf van die duiwel. Die wêreldbeskouing van Die Mens is inderwaarheid deur die duiwel bevrug.

Deur die Skrif geprofeteer

Die Skrifte het die wêreldbeskouing van Die Mens en die oorheersing daarvan in die laaste dae, voorspel. Toe hy geprofeteer het oor wat die dag van Christus sou voorafgaan, het Paulus gewaarsku dat die mens van die sonde geopenbaar sal word, “wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thessalonicense 2:4).

Dit is die profesie van die persoon van die Antichris, wat voordat die Christus weer kom, ʼn wêreld koninkryk van alle volke sal vestig en daaroor regeer. Antichris sal God teenstaan, maar hy sal God teenstaan deur “al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is” teen te staan. Hy, en sy wêreldmag, sal radikaal teenoor die bo-natuurlike wees. Dit beteken dat Antichris en sy hele Antichristelike wêreldmag geen god bo Die Mens sal erken nie. Die mens van die sonde sal enkel materialisties en humanisties wees. Hy sal Die Mens alleen as god erken. Hyself sal die vergoddeliking van die mens wees: “... voorgee dat hy God is.”

In 2 Thessalonicense 2:3-4 het die apostel Daniël 11:36-39 op die oog. Dié gedeelte profeteer Antichris as ʼn koning (nie ʼn predikant nie!) wat “homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode ... wonderbaarlike dinge spreek” (vs. 36).

Ook die boek Openbaring openbaar die ontwikkelende wêreldmag van Antichris as die uitdrukking van, en diens aan, die wêreldbeskouing van Die Mens. Die getal van die dier, wat teen God laster en oorlog voer teen die heiliges, is “ses honderd ses en sestig” (Openbaring 13:18). Die getal wys nie na Napoleon Bonaparte, of Woodrow Wilson, of Ronald Reagan, of Caesar of Nero of enige geskiedkundige persoon, asof 666 die som van die waarde van die letters van ʼn besondere naam is nie. Die “wysheid” wat die som van die getal van die dier bereken, is nie een of ander esoteriese vaardigheid wat verspotte speletjies speel met name en syfers, waarvan die resultaat so divers is as dié wat die spel speel, nie.

In die Bybel is 666 ʼn simboliese getal. Ses is die getal van die mens, sy lewe en sy wêreld – alleen, op sy eie, sonder God. Openbaring 13:18 lees letterlik: “Dit is die getal van die mens.,” Dit nie die getal wat ʼn besondere man identifiseer nie, maar die getal wat simbolies is van die mensdom sonder God.7

Die dier in Openbaring is Die Mens in die volheid van sy krag sonder God. Dit is Die Mens wat hom tot die uiterste van sy aansienlike kragte inspan, versterk deur die uitsonderlike vermoëns wat deur Satan aan hom gegee word, om ʼn wêreld koninkryk wat soos die koninkryk van God moet lyk, te vestig. Dit is Die Mens wat met alle mag daarna streef om God te word.

Die getal 666 kom so na aan sewe as wat moontlik is. Sewe is die getal van die mens met God, in die gemeenskap van die genadeverbond. Sewe is die getal van Jesus Christus en daarom van die koninkryk van God. Hoe naby dit ook al kom aan die getal van Jesus Christus en sy koninkryk, skiet 666 tekort, deurslaggewend en fataal tekort. Antichris sal ʼn blote mens wees. Sy koninkryk sal bloot menslik wees. Hy sal faal; dit sal misluk.

Hierdie Bybelse profesieë van die volle, finale ontwikkeling van die wêreldbeskouing van Die Mens en die koninkryk van Die Mens wat deur dié wêreldbeskouing beoog, nagestreef, saamgesweer en verwerklik word, word nou vervul, veral in Westerse lande. Dít is die volke wat, volgens die visioene van Daniël, die opvolgers is van die ou Romeinse Ryk wat Christus vermoor en die apostels vervolg het – die tien horings op die kop van die verskriklike vierde dier (Daniël 7:7, 23-24).

Hierdie wêreldbeskouing van Die Mens wat nou die hele maatskaplike en kulturele landskap in die Weste oorheers, openbaar die wese van die sondige menslike natuur van die begin af. Die val van die menslike geslag in Adam was ons toegewing aan versoeking, “dat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” [in die sin van self bepaal].8 Toe het ons op ʼn gewaande goddelike manier ons outonomiteit verklaar: “As God besluit ons dat die eet van die verbode vrug goed en reg is”, afgesien van wat God beveel.

Só verklaar ʼn meerderheid van swart gemantelde Regters op die regbank van die Hoërhof van die Verenigde State van Amerika, wat die Amerikaanse volk verteenwoordig en uitdrukking gee aan die wysheid van die groot universiteite, die geestelikheid van prominente kerke en teoloë, die denke van invloedryke politici en die wil van die volk, op soortgelyk gewaande goddelike wyse: “As God oordeel ons dat die moord op miljoene ongebore mense goed en reg is, afgesien van wat God in sy wet, in beide die Skrif en die natuur, verbied het.”

Wreed

Ek wil in die verbygaan opmerk dat die wêreldbeskouing van Die Mens moorddadig is – wreedaardig moorddadig. Wanneer Richard Dawkins die wêreldbeskouing van Die Mens verdedig deur God, in die besonder in sy openbaring van Homself in die Ou Testament, uit te kryt as bloeddorstig, ʼn kindermoordenaar en kwaadwillig, is hy ʼn hipokriet. Die God van die Skrif, beide Ou en Nuwe Testament, is regverdig. In sy geregtigheid is Hy vervaarlik teenoor skuldige sondaars, maar Hy is nooit bloeddorstig en wreed nie, nie teenoor babas of teenoor volwassenes nie. Hy het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe (Esegiël 33:11). As die God van genade, in die Ou Testament én die Nuwe, het Hy die weg berei van redding vir elke sondaar wat na Hom kom vir vergiffenis en lewe. So groot is sy genade dat sy eie, vleesgeworde, gekruisigde Seun dié weg tot saligheid is.

Bloeddorstig en wreed, dít is die wêreldbeskouing van Die Mens waarvan Richard Dawkins so ’n ywerige advokaat is. Sonder gewetensbeswaar sanksioneer die wêreldbeskouing van Die Mens ewe kalm die moord van babas in die moederskoot en wag hulle selfs by geboorte in met die koue staal van die instrumente van die dood. Dít terwyl die kindertjies ingevolge die reg van die staat onskuldig is. Dit was die wêreldbeskouing van Die Mens wat miljoene mans, vroue en kinders in Hitler se “Derde Ryk”, in Lenin en Stalin se Kommunistiese staat en die regime van Mao, gemartel en vermoor het.

Aanstons sal die wêreldbeskouing van Die Mens die onskuldige bloed van hulle “wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Openbaring 12:17) stort. As Richard Dawkins nie dan reeds in die hande geval het van dié God wat hy ken en haat nie, sal hy ’n entoesiastiese rasieleier by die vervolging wees. Kyk mooi na die uitspattige gepeupel van Openbaring 11:10 en jy sal die grynsende gesig van Richard Dawkins daar sien.

 

Wêreldbeskouing van Algemene Genade

Voordat ek kortliks die vernaamste kenmerke van die Bybelse, Christelike en Gereformeerde wêreldbeskouing noem en beskryf, moet ek melding maak van ’n teorie van Christelike wêreldbeskouing wat menigeen mislei. Dit is die wêreldbeskouing van ’n algemene genade van God. Dit verskil skerp van die wêreldbeskouing wat ek geskets het.

Die wêreldbeskouing van algemene genade beweer dat die kerk en die wêreld van die goddelose – die gelowiges en die ongelowiges – sáám werk om ’n goeie, vroom, selfs Christelike, samelewing en kultuur daar te stel. Dit het ’n visie van ’n “gekerstende” samelewing. Hierdie wêreldbeskouing beheers sy aanhangers sodanig dat hulle hul daaraan toewy om, steeds in samewerking met die goddelose, eerstens ’n Christelike samelewing, dán ’n Christelike volk en laastens ’n Christelike wêreld te bou. Ingevolge die wêreldbeskouing van algemene genade is die kerstening één doel van God met die skepping. Die ander is die redding van ’n kerk. Vir doel van kerstening van die kultuur, skenk God kerstenende genade aan beide die verworpe ongelowiges én die uitverkore gelowiges. Vandaar “algemene” genade, onderskeie van die besondere (ook bekend as “partikuliere”-), reddende genade wat God net aan die uitverkorenes skenk.

Hierdie teorie van Christelike wêreldbeskouing is deur die Nederlandse teoloog en politikus, Abraham Kuyper,9 geformuleer en versprei. Die Christian Reformed Church in Noord-Amerika (die CRCA) het hierdie wêreldbeskouing aanvaar en deur sinodale besluit in 1924 bindend gemaak vir al sy lidmate.10 Dit verbondenheid van die CRCA aan sy wêreldbeskouing was sodanig dat predikante en kerkrade wat die wêreldbeskouing nie aanvaar het nie, onder tug geplaas is. Baie Evangeliesgesindes keur die wêreldbeskouing van algemene genade goed en is besig om dié agenda aggressief te bevorder.11

Die wêreldbeskouing van algemene genade moet by enige bespreking van Gereformeerde wêreldbeskouing genoem word, want dit is sonder twyfel die heersende teorie van wêreldbeskouing in Gereformeerde kerke en Christelike skole. Die invloed daarvan is ook wydverspreid in Evangeliese kringe.

Ek hoef nie veel ruimte af te staan aan kritiek op die wêreldbeskouing van algemene genade, as synde heeltemal on-Bybels, as ontbrekend aan enige begronding in die Gereformeerde belydenisskrifte en as teniet doende aan die geestelike onderskeid en stryd tussen kerk en goddelose wêreld en tussen gelowige en ongelowige, nie. God ontmasker die wêreldbeskouing van algemene genade. Die oordeel oor die wêreldbeskouing van algemene genade lê in die geskiedenis van dié wêreldbeskouing.

Die wêreldbeskouing van algemene genade was ʼn kolossale mislukking. Dit het nie die Amsterdam van Kuyper gekersten nie, nog minder die Nederlande. In teendeel het dit Kuyper se Vrije Universiteit geruïneer en gehelp om die Gereformeerde Kerke in Nederland (GKN) – wat merendeels deur Kuyper daargestel is – in die afgrond van die valse kerk te dompel.

Die wêreldbeskouing van algemene genade het ook nie Grand Rapids, Michigan, die sentrum van die Christian Reformed Church, gekersten nie. In teendeel is die denke van die algemene-genade wêreldbeskouing besig om die Christian Reformed Church en sy Kollege meedoënloos te vernietig. Deur hom oop te stel vir die goddelose wêreld – deur die genade van God te deel, en saam te werk aan die groot projek van God om die wêreld te kersten – het die Christian Reformed Church aan die wêreld gelykvormig geword (Romeine 12:2).12

Die verwoestende uitwerking van die algemene-genade wêreldbeskouing op Evangeliese groepe, word gesien wanneer leidende Evangeliesgesindes, op grond van, en ten behoewe van dié wêreldbeskouing, hulle verenig met Rooms Katolieke en so, om die minste daarvan te sê, die noodsaaklikheid van skeiding met die Rooms Katolieke Kerk te minimaliseer. Één in die algemene genade van God, sal die Evangeliesgesindes en Rooms Katolieke saam die kutuurgeveg veg om Amerika Christelik te maak.13

Die vernaamste rede waarom Gereformeerde gelowiges die wêreldbeskouing van algemene genade aan die begin van die een-en-twintigste eeu gerus kan ignoreer, is dat dit nou ʼn patetiese onsaaklikheid is. Die reuse gevaarte van die wêreldbeskouing van die Mens rol oor die wêreldbeskouing van algemene genade soos die pantzers van Hitler oor die Franse in die Tweede Wêreldoorlog. Op sy spoor laat hy Gereformeerde kerke met Skrifkritiek; met die verkondiging van universele, weerstaanbare reddende genade, of bloot universalisme; en vroue in die kerklike ampte. Die gevaarte laat Gereformeerde Christelike skole agter wat evolusie-wetenskap, ten koste van die historisiteit van Genesis 1-11 en die inspirasie van die Bybel, leer en die “goedheid” van sodomie en lesbianisme ontdek.

Een wêreldbeskouing, net één, kan tenoor die wêreldbeskouing van die Mens staan: die wêreldbeskouing van die Soewereine God van die Skrif soos Hy geopenbaar is in Jesus Christus in die onfeilbare, geïnspireerde Bybel. Die koninkryk van Christus weerstaan en verslaan die koninkryk van die Mens, deur die onweerstaanbare, onoorwinlike genade van die Gees van Christus in die harte en lewens van uitverkore gelowiges, deur die evangelie.

 

Die vernaamste kenmerke van die Gereformeerde Wêreldbeskouing

Ek het dit reeds gestel dat die Christelike wêreldbeskouing Bybels is, met ander woorde dat dit in die Bybel bekendgemaak is. Dit is nie die produk van die spekulatiewe denke van een of ander teoloog of filosoof nie. As Bybelse wêreldbeskouing, het ek aangevoer, is dit God-gesentreerd. Die Christelike wêreldbeskouing is van die drie-enige God, deur die drie-enige God, oor die drie-enige God en tot die drie-enige God (Romeine 11:36). Die Christelike wêreldbeskouing is nie hoofsaaklik, nog minder uitsluitlik, oor die mens en sy geluk nie. Dit gaan oor God en sy heerlikheid.

Die Heerskappy van Jesus

Hierbenewens eer die Christelike wêreldbeskouing Jesus Christus as Heer. Volgens Kolossense 1 is Jesus Christus die doel van God met die skepping en die geskiedenis – alle dinge – “want in Hom is alle dinge geskape” en “alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape” (vs. 16). “Hy is voor alle dinge” (vs. 17) in die Raad van God. Dit is die wil van God dat Jesus Christus “in alles die eerste [sal] wees” (vs. 18). “[D]it dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon.” (vs. 19).

Dit is weidse wêreldbeskouing!

Dit is die verduideliking van die bestaan van die heelal!

Dit is die filosofie van die geskiedenis!

Dit is die betekenis van die lewe vir ons almal!

Jesus Christus is die doel, die rede, die betekenis van alle dinge “want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is” (Kolossense 1:16). Jesus self het gesê, “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde” (Openbaring 1:8; 22:13).

Daarom is dit die roeping van elkeen wat hierdie wêreldbeskouing huldig om Jesus Christus met elke asemteug, elke woord en daad, en in elke sfeer van die aardse lewe te bely, te gehoorsaam, te dien en te eer. Vir die Christelike wêreldbeskouing is 'n vae wêreldbeskouing van “Judeo-Christelike beginsels” geheel en al onaanvaarbaar. Die Jode van die “Judeo” beginsels ontken Jesus as die Messias. Die Christelike wêreldbeskouing verwerp die wêreldbeskouing van algemene genade wat, soos dit self erken, Jesus buite die prentjie – die groot prentjie – laat.

Die koninkryk van die Mens, wat voortkom uit die wêreldbeskouing van die Mens, haat Jesus en staan Hom teë. Die dier van Openbaring 13 – Antichris in sy volle werklikheid: persoon, wêreld koninkryk en kerklike komponent – is die skepping van die draak van Openbaring 12. Die draak is Satan. Sy doel is om die kind, Jesus Christus te vernietig (vs. 1-5). Na die verhoging van Jesus Christus en die uitwerping van Satan uit die hemel op die aarde, konsentreer Satan sy aanval op Jesus Christus in sy teenwoordigheid in sy kerk en haar lede. Hulle het “die getuienis van Jesus Christus” (vs. 6-17).

Teen die einde van die geskiedenis sal die dier sy magte monster “om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër” (Openbaring 19:19); Jesus Christus in sy koninkryk op aarde.

In die wêreldbeskouing van die Mens, heers die Mens. Hierdie outonomie, die heerskappy, die absolute soewereiniteit van die Mens, is die grondslag van die moderne wêreldbeskouing.

Antitetiese Wêreldbeskouing

Die boek Openbaring definieer die Christelike wêreldbeskouing baie duidelik as antiteties. Dié antitese is ʼn belangrike aspek van die Christelike wêreldbeskouing. Die Christelike wêreldbeskouing sien die geskiedenis as ʼn geestelike stryd en kryg tussen twee volke; die saad van die vrou, die uitverkore gelowiges en hulle in Jesus Christus uitverkore geestelike kinders onder al die nasies aan die een kant, en die saad van die slang, die verworpe, ongelowige, gewillige slawe van hulle slinkse meester aan die ander kant.

Die Gereformeerde teoloog Herman Bavinck het die Christelike wêreldbeskouing se begrip van die geskiedenis soos volg beskryf: “Die wese van die geskiedenis lê in ʼn magtige konflik tussen duisternis en lig, sonde en genade, hemel en hel.”14

Die verdeling van die menslike geslag spruit uit God se weder barende genade in die saad van die vrou, ooreenkomstig die ewige raad van sy predestinasie. Hierdie verdeling lei uiteraard tot wedersydse haat en tweestryd. Dit gaan oor God. Heel aan die begin van die geskiedenis van die sondige menslike geslag, het God se genadige belofte-woord nie net van die verdeling van die mensheid gepraat nie, maar dit inderdaad teweeggebring: “Ek sal vyandskap stel tussen jou [Satan] en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Genesis 3:15).

Die oorlogvoering tussen die Satan se menslike trawante en die heiliges staan in Openbaring op die voorgrond waar die geskiedenis van die huidige eeu geskets word aan die hand van die vervolging van die vroeë Nuwe Testamentiese kerk deur die Romeinse Ryk. Dié stryd sal sy hoogtepunt bereik in die laaste groot veldslag tussen Satan en sy koninkryk, wat met die wêreldbeskouing van die Mens kom, en die ware kerk en haar lede, kort voor die wederkoms van Christus: “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan ... uitgaan om die nasies te verlei ... om hulle te versamel vir die oorlog ... [teen] die laer van die heiliges en die geliefde stad” (Openbaring 20:7-9).

Ons, gelowiges, is op die slagveld!

In teenstelling met die antitetiese aard van die Christelike wêreldbeskouing, streef die wêreldbeskouing van die Mens daarna om alle verdeeldheid tussen mense te oorkom, sodat daar eenheid kan wees onder die trotse banier van ‘die Mens’.

Die vals Christelike wêreldbeskouing van algemene genade sondig teen die antitetiese, Christelike wêreldbeskouing van die Skrif. Dit doen die geestelike onderskeid en stryd tussen die twee sade te niet. Dit verenig hulle in ʼn gemeenskaplikheid wat niks minder is nie as ʼn “genade” van God. Dit ken aan hulle ʼn taak toe wat niks minder is nie as om die gemeenskap en die wêreld “Christelik” te maak.

Die lewe as ʼn pelgrimstog

Die Gereformeerde wêreldbeskouing leer die Christen dat hy ʼn pelgrim op aarde is. Die uitkyk van die Christen is dié van ʼn bedevaart.

Die Christen moet aktief wees in die wêreld, in alle instellings en institusies – huwelik en familie, sake en arbeid, kerk en burgerlike regering, onderwys. Hy kan elke skepsel gebruik en geniet, soos in 1 Timótheüs 4:4 geleer word: “... alles wat deur God geskape is, is goed, en niks is verwerplik ... nie”

Omdat hy as ʼn dienaar van die Here Christus in die wêreld aktief is, moet hy ywerig wees in wat hy doen – hardwerkend, eerlik, getrou, betroubaar en so bekwaam as wat in sy vermoë is. Wat die apostel die werksman gelas, is net so van toepassing op al die Christen se optrede en verhoudinge:

Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen en met goedwilligheid die Here dien en nie mense nie” (Efesiërs 6:5-7).

Die Gereformeerde wêreldbeskouing is nie wêreldontvlugting nie. Dit was die ernstige fout wat die askete in die vroeë geskiedenis van die na-apostoliese kerk gemaak het en, meer onlangs, die Anabaptiste in die tyd van die Hervorming.

Die askete en Anabaptiste het geleer dat die materiële wêreld inherent boos is, sodat die Christelike lewe daaruit bestaan om die aardse lewe soveel moontlik te ontvlug: “ ... verbied om te trou, en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel” (1 Timótheüs 4:3). Die apostel veroordeel hierdie leer as “leringe van duiwels” (vs. 1). Deur God in die begin geskape, is die materiële wêreld en sy instellings “goed, en niks is verwerplik as dit met danksegging ontvang word nie” (vs. 4). Die aardse skepping, al sy instellings en al die skepsele is immers deur God vir die gelowiges gemaak: “wat God geskape het om met danksegging gebruik te word deur die gelowiges en die wat die waarheid ken” (vs. 3). Om die aardse lewe te lei deur uit die wêreld weg te hardloop, is nie net onmoontlik nie, maar ook ʼn klap in die gesig van die Skepper.

Die gebed van Jesus vir sy dissipels was “nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar” (Johannes 17:15).

Ewenwel is die Gereformeerde Christen ʼn pelgrim op aarde. Hy het dubbele burgerskap. Hy is ʼn burger van Brittanje, Ierland, Frankryk, Suid-Afrika, die Verenigde State of ’n ander aardse volk. Vir sy volk is hy ʼn goeie, opregte, lojale, belastingbetalende, vreedsame burger – om Christus ontwil.

Hy is ook ʼn burger van die hemelse koninkryk van Jesus Christus. Hierdie is sy primêre burgerskap en is ewigdurend. Die gelowige is sy lewe lank bewustelik op pad na sy hemelse vaderland, sy ewige tuisland. Sy aardse volk het sy trou. Sy hemelse land het sy hart.

Hoewel die lewe van die koninkryk van Christus in sy volmaakte werklikheid daar bo is, waar Jesus Christus is, aan die regterhand van God in die hemel, is dit, deur die Heilige Gees reeds in die hart van die gelowige en neem dit vorm aan in die kerk as instituut (dit is om dié rede dat die wêreldbeskouing van die Mens die kerk verafsku en dit aanval; en waarom die gelowige die kerk, ten spyte van al haar tekortkominge, lief het). Die Christen-pelgrim bereik sy vaderland net deur die diep waters van die Jordaan van die dood – eers die siel by die oomblik van dood en dan volkome, by die opstanding van die liggaam op die dag van Christus.

Dat die Christen ’n vreemdeling en pelgrim is, beteken méér as net dat hy vreemd staan teenoor die boosheid van die goddelose en in die teenoorgestelde geestelike rigting as diegene wat deur die wêreldbeskouing van die Mens gelei word, beweeg.

Die Christen is nie net vreemdeling en pelgrim ten opsigte van die boosheid van die wêreld nie. Hy is ook vreemdeling en pelgrim ten opsigte hierdie aarde, hierdie aardse volk en die aardse lewe self. Hebreërs 11:13 skryf die belydenis, dat gelowiges “vreemdelinge en bywoners op aarde” is, toe aan geloof. Die vaderland wat hulle begeer en waarna hulle “soek” is nie Kanaän van die Ou Testament, of die Verenigde State van die Nuwe Testament nie, maar ʼn vaderland wat “beter” is as enige aardse land, “dit is ʼn hemelse” (vs. 14-16).

As pelgrim is die Christen nie versonke in die aardse lewe nie. Hy verloor sy hart nie aan aardse verhoudings nie, sy dit huwelik of familie, al is dié ook hoe dierbaar; nie aan aardse plesier nie, ongeag hóé wettig en aangenaam dit mag wees; nie aan aardse skatte nie, hoe groot en waardevol ook al; en nie aan aardse prestasie nie, hoe indrukwekkend dit ook mog wees. Die wat vroue het, is asof hulle nie het nie. Die wat ween oor aardse ongeluk, asof hulle nie ween nie. Die wat bly is oor aardse plesier en sukses, asof hulle nie bly is nie. Hulle koop en besit aardse goed asof hulle nie besit nie. Hulle gebruik hierdie wêreld terwyl hulle daarvan los bly staan (1 Korinthiërs 7:29-31).

Die aardse lewe is nie al wat daar is nie. Aardse lewe is nie die hoofsaak nie. Die aardse lewe is kort. Die aardse lewe is nie die doel nie. Vir die gelowige is ook ’n suksesvolle aardse lewe nie die doel nie. ’n Suksesvolle aardse lewe is inteendeel ’n versoeking om die doel uit die oog te verloor. Genadiglik bring God droefenis, siekte en moeite oor ons aardse lewe, sodat ons die oog van die geloof op die doel sal hou, op die hemelse vaderland, en “die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” (Hebreërs 11:10), “ ʼn huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” (2 Korinthiërs 5:1).

Die lewe op die aarde is net die pad na die doel.

Dié pelgrimstog lê aan die grondslag van die Christelike wêreldbeskouing. Toe Jesus die boosheid van die menslike geslag by sy wederkoms, waarvoor menigtes sal omkom, beskryf het, het Hy gesê dat die meerderheid eenvoudig by die huis sal wees, versonke in hulle aardse dinge en plesier: “... soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het” (Matthéüs 24:38). Die dissipels van Christus moet teen die versoeking om die pelgrimstog op te gee “waak” (vs. 42).

Filippense 3:20 sê “ons burgerskap is in die hemele” Ons belewing van hierdie burgerskap gryp ons sodanig aan dat ons voortdurend na die koms van die Verlosser, ons Here Jesus Christus, uitsien.

Hierteenoor is in die wêreldbeskouing van die Mens die aards lewe al wat daar is. Die wêreldbeskouing van die Mens is materialisme. Die dood beëindig die menslike bestaan (só verklaar die advokate vir die wêreldbeskouing van die Mens, hoewel hulle van beter weet en sidder by die vooruitsig van die eindoordeel). Die wêreldbeskouing van die Mens is dus betekenisloos én sonder hoop, al probeer die voorstanders daarvan – soos Richard Dawkins en Bertrand Russel voor hom – hoe hard om ‘n mooi prentjie daarvan te skilder: “ ‘n Mens kan ‘n gelukkige en vervulde lewe lei, sonder bonatuurlike godsdiens.”15

Die Prediker het lank gelede al die oordeel oor die wêreldbeskouing van die Mens en die nuttelose lewe wat in die skadu daarvan gevoer word, aangekondig – ‘n oordeel wat aan die oortuiging en gevoel van elke menslike hart uiting gee: “Alles tevergeefs, ... dit is alles tevergeefs.”

Die waarheid van die pelgrimstog stel ook die wêreldbeskouing van algemene genade aan die kaak. Hoewel die wêreldbeskouing lippediens aan die hemel betoon, is die pelgrimstog vir hulle vreemd. Gewoonlik is selfs oppervlakkige diens met die lippe afwesig. In tipiese uiteensettings van die wêreldbeskouing van algemene genade, is daar nie van ‘n pelgrimsreis sprake nie. ‘n Mens kan nouliks op reis wees en soek na die hemelse stad as hy voltyds besig is met bouwerk aan ‘n goeie, vroom, selfs gekerstende, stad op aarde. Tuis, in ‘n gekerstende aards nasie, één met al die ander inwoners deur die (algemene) genade van God, sou mens nouliks as vreemdeling en pelgrim kan lewe, of selfs daaraan dink.

“Nie baie edeles nie”

Nog ‘n fundamentele kenmerk van die Christelike wêreldbeskouing is die beskouing van die Christelike lewe en werk as gewoon. Die lewe in die vooruitsig van die wêreldbeskouing van die Bybel is dié van die nederige, die onbelangrike, die on opmerklike gelowige.

Daar is ewewel in die Christelike wêreldbeskouing plek vir ‘n geniale Christen en vir uitsonderlike Christelike prestasies wat die aandag van die wêreld vasgevang hou – ‘n Augustinus, ‘n Luther; die musiek van ‘n J. S. Bach; die skaars vroom regering van ‘n Christelike staatsman.

Die wêreldbeskouing van die Bybel beklemtoon egter nie sulke mense en dade nie. Die Bybelse wêreldbeskouing beklemtoon in teendeel die heel gewone, onbesonge maar heilige lewe van gelowiges, wat merendeels die nederiges en onbelangrikes van hierdie wêreld is. Dit is hulle belydenis van Jesus Christus; hulle suiwer erediens aan die drie-enige, één, ware God in die kerke op Sondae; hulle huwelikstrou; hulle vroom, geordende familielewe; hulle verantwoordelike optrede by werk en spel; hulle sorg en hulp aan die armes in die naam van Christus, wat die eienskappe is van die lewe wat uit die Christelike wêreldbeskouing voortkom en daardeur aangeprys en aangemoedig word.

Die wêreldbeskouing van die Mens daarenteen, verheerlik die beroemdes, die glans figure, die magtiges, die suksesvolles. Aan die eenkant gee dit net erkenning aan die groot prestasies van die uitsonderlik begaafdes – die atletiese prestasie, die musiektreffer, die politieke oorwinning, die wetenskaplike deurbraak. Aan die ander kant laat dit die mees wettelose en skandelike optrede van die massas toe, wetteloosheid en perversiteit vooraan.

Ook die wêreldbeskouing van algemene genade, met sy obsessie met “kultuur,” neig om net aan die geleerdes, die kunstenaars, die rykes, die dokters en regsgeleerdes, die skrywers, erkenning te gee. Kolleges, in diensbaarheid aan die wêreldbeskouing van algemene genade, gee nooit ‘n toekenning aan die fabriekswerker wat twaalf kinders in die vrese van die Here grootmaak, wat getrou in die kerk en die Christelike skool dien en ‘n ligtende lig in ‘n wêreld van duisternis is, nie.

God sal aan die gewone gelowige ‘n toekenning gee. Die Skrif noem dit “loon.”

Om in die naam van Jesus Christus ‘n beker koue water te gee, is ‘n verdienstelike daad in die oë van God en daarom ook na die oordeel van die Christelike wêreldbeskouing (Matthéüs 10:42).

“ ... julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie” (1 Korinthiërs 1:26-29).

 

Toepassing op die lewe van die Christen

Kerklidmaatskap

Die toepassing van die waarheid van die Christelike wêreldbeskouing moet noodwendig begin met die roeping van elke Gereformeerde gelowige en kind van Gereformeerde gelowige om ‘n lewende lidmaat te wees van ‘n ware, geïnstitutieerde kerk van Jesus Christus. Dit is verstommend dat so baie besprekings oor wêreldbeskouing deur belydende Christene, die plig van kerklidmaatskap heeltemal buite rekening laat.

Die Christelike wêreldbeskouing hou in dat die mens hoofsaaklik bestem is om God te verheerlik. Die mens verheerlik God bowenal in die openbare erediens van die ware kerk.

Die Christelike wêreldbeskouing eer Jesus Christus as Saligmaker en Here, die begin en die einde van al die weë van God in die skepping en die geskiedenis. Bowenal word Christus deur die prediking van die suiwere leer van die evangelie deur die ware, geïnstitueerde kerk geëer.

Hierbenewens werk die Gees van Christus deur die prediking van die evangelie deur die ware kerk om ons die wêreldbeskouing van God aan die verstand te bring, en deur die bediening van die sakramente om die Christelike wêreldbeskouing des te meer in ons verstand te vestig. Deur die prediking en di sakramente stel die Gees ons in staat om die Christelike wêreldbeskouing uit te leef in ‘n lewe van gehoorsaamheid aan God se gebod. Wêreldbeskouing is nie net teorie nie; wêreldbeskouing is lewe.

Die krag van die Christelike wêreldbeskouing is genade – die een, magtige genade van God in Jesus Christus. God skenk hierdie genade aan uitverkore gelowiges en hulle kinders deur die genademiddele in die geïnstitueerde kerk. Hierdie genade is die krag waarmee gelowiges en hulle kinders die aansienlike krag van die wêreldbeskouing van die Mens weerstaan, want dit is wysheid om deur die listigheid van die wêreldbeskouing van die Mens te sien.

Aan hierdie sigbare katolieke kerk het Christus die bediening en die verkondiging, en die instellings van God gegee om die heiliges te versamel en te vervolmaak, in hierdie lewe en tot aan die einde van die wêreld (Westminster Belydenis 25:3).

Van geslag tot geslag

Tweedens moet ouers hulle wêreldbeskouing en die lewe daarvolgens aan hulle kinders en kleinkinders oordra. Die kerk help met hierdie opdrag, want die kinders van gelowiges is ook, deur die verbondsbarmhartigheid van God, lidmate van die kerk. In gehoorsaamheid aan die opdrag van Christus, moet sy die “lammers” van Christus voed en versorg (Johannes 21:15).

Die ouers moet ewewel self die Christelike wêreldbeskouing by hulle eie kinders, van kleins af, inskerp deur leer, dissipline en voorbeeld: die waarheid van God in Christus; die oorsprong van alle dinge; die aanstaande einde van alle dinge op die dag van Christus; Christelike waardes; die wyse en regte manier van lewe; die geestelike stryd van ons tyd tussen die twee wêreldbeskouings. “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Efesiërs 6:4).

Dit is die wil van God dat sy waarheid van vader na kind oorgedra word.

Om die Christelike wêreldbeskouing van geslag tot geslag oor te dra, is sterk huwelike en vrede in huisgesinne nodig.

Die verbond eis, waar dit moontlik is, goeie Christelike skole. Hulle is van onskatbare waarde om die Christelike wêreldbeskouing te leer soos dit toepassing vind in alle vertakkinge van wetenskap en die instellings van die aardse lewe. Uit sorg oor die voortgang van die Christelike wêreldbeskouing in die kinders van gelowiges (hoewel hulle die term nie gebruik het of waarskynlik selfs geken het nie) het die Gereformeerde Kerkorde wat in die vroeë sewentiende eeu in Dordt aanvaar is die vereiste van artikel 21 ingesluit:

Kerkrade moet oral toesien dat daar goeie skoolonderwysers is wat die kinders nie alleen leer praat, lees en skryf, en in die vrye kunste onderrig nie, maar hulle ook onderrig in vroomheid en in die [Heidelbergse] Kategismus.16

Satan is die werklike vyand van die Christelike wêreldbeskouing. Hy is ook die krag agter die skerms om die wêreldbeskouing van die Mens te bevorder. Omdat hy weet hoe belangrik die opvoeding van vroom kinders vir die voortbestaan en onderhouding van die Christelike wêreldbeskouing is, spits hy hom daarop toe om die huwelik en die gesin te vernietig en om deur staatskole, wat die groot draers van die wêreldbeskouing van die Mens is, die kinders van die Weste in die wêreldbeskouing van die Mens op te voed.

Tekenend van sy raserny teen die Christelike wêreldbeskouing en van wat die advokate vir die wêreldbeskouing van die Mens vir die Christene te wagte het, dreig Satan nou om die kinders van gelowiges uit hulle huise en Christelike skole te ruk. Richard Dawkins haal sy kollega, die sielkundige Nicholas Humphrey, met goedkeuring aan.

Ouers [lees: Christelike ouers] het geen God-gegewe vryheid om hulle kinders in ‘n kultuur wat hulleself goeddink, te dwing nie: geen reg om die horisonne van hulle kinders se kennis te beperk, hulle op te voed in ‘n atmosfeer van dogma en bygeloof, of om aan te dring dat hulle die smal en reguit paaie van hulle eie geloof volg nie. Kortom, kinders het die reg dat hulle verstand nie met nonsens verwar sal word nie, en ons as gemeenskap het die plig om hulle daarteen te beskerm. Ons behoort daarom net so min toe te laat dat ouers, byvoorbeeld, hulle kinders leer om aan die letterlike waarheid van die Bybel te glo, as wat ons ouers sou toelaat om hulle kinders se tande uit te slaan of hulle in ‘n kelder toe te sluit.17

Rede om te leef

Derdens is die hoofsaak van ons roeping positief, al word ons geroep om teen die wêreldbeskouing en koninkryk van die Mens te stry. Die boek Prediker, indien reg verstaan, gaan oor wêreldbeskouings – twee van hulle. Een is die wêreldbeskouing van die Mens – die wêreldbeskouing sonder God. Oor dié wêreldbeskouing en oor almal wat daarby lewe, spreek Prediker dié oordeel uit ” alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” Daar is geen rede om te lewe nie. Die lewe maak nie sin nie. Die lewe het geen doel nie. Die lewe is futiel.

Die ander is die wêreldbeskouing van God – die wêreldbeskouing van God as die doel van mans en van vroue. Bevoorreg met dié wêreldbeskouing, het ons 'n roeping. Die roeping is positief: “Vrees God en hou sy gebooie” (Prediker 12:13). Hierdie roeping, nagekom nie buite om die aardse lewe en sy instellings nie, maar ín die aardse lewe en sy instellings, gee betekenis, doel, en waarde aan die lewe. Elke gelowige het rede om te lewe.

Hoop

Ten slotte is die waarheid van dié wêreldbeskouing, toegepas op die lewe van die Christen, die hoop. Wêreldbeskouings belowe aan hulle aanhangers toekomstige oorwinning. Dit is die appèl en aantrekkingskrag daarvan. Ewewel lieg alle wêreldbeskouings, uitgesonderd die Gereformeerde wêreldbeskouing, wanneer hulle aan hulle aanhangers oorwinning belowe. Die wêreldbeskouing van Nazi-Duitsland, en sy “Derde Ryk” wat duisend jaar moes duur, lê verpletter in die puin van Berlyn en in die gebreekte, brandende liggaam van die selfmoordenaar, Adolf Hitler. Die wêreldbeskouing drome van Marx, Lenin en Stalin het verdwyn met die val van Russiese Kommunisme. Die wêreldbeskouing van algemene genade word steeds blootgelê as 'n klaaglike mislukking.

Net só sal die wêreldbeskouing van die Mens in sy volle ontwikkeling verydel word deur sy roemlose nederlaag. God sal die Babilon wat die wêreldbeskouing van die Mens in die eindtyd oprig, vernietig. Daar sal niks van sy glansrykheid oorbly nie (Openbaring 18). Die klippie, die koninkryk van Jesus Christus, sal die koninkryk van die Mens fynstamp, en die wind van die toorn van God sal die stof wegwaai (Daniël 2:34-35).

Die wêreldbeskouing van die Christelike evangelie sal bly staan, en oorwin. Die koninkryk van hierdie wêreldbeskouing is 'n ewige heerskappy (Daniël 7:13-14, 27). Die fondament daarvan is die geregtigheid van God in die kruis van Jesus Christus, aan wie God alle mag gegee het, en in wie God al die krag van sy sterkte werk (Matthéüs 28:18; Efesiërs 1:19-21). Sy krag is soewerein en onoorwinlik, reddende genade om die koninkryk te bou; dit is die Heilige Gees van Jesus Christus (Efesiërs 6:10-20).

Elke man, vrou en kind wat die Christelike wêreldbeskouing, deur geloof in die belofte van die evangelie beleef en uitleef, sal deel in die oorwinning van dié wêreldbeskouing: opstanding van die liggaam en lewe en regeer saam met Christus in die nuwe skepping (Filippense 3:21; Openbaring 3:21).

In die hoop op hierdie oorwinning lewe hulle, werk hulle, lei hulle, volhard hulle en sterf hulle.

God laat hierdie hoop nie beskaam nie.

(Vertaal deur Nic Grobler,
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.
)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.


1 David J. Engelsma, “The Reformed Worldview on Behalf of a Godly Culture” Grandville, MI: Faith and Grandville Protestant Reformed Evangelism Committees (2005) bl. 7.
2 Richard Dawkins, The God Delusion (London: Black Swan, 2007), bl. 51.
3 Ibid., bl. 52.
4 Aangehaal in Peter Hitchens, The Rage Against God (Grand Rapids, MI: Zondervan, 2010), bl. 150.
5 Ibid., bl. 214.
6 Ibid., bl. 134, 211.
7 Die Grieks is arithmos ... anthroopou esti. Daar is nie ‘n lidwoord by antthroopou (mens) nie, en die woord vir mens is generies – mens, of mensdom – en nie ‘n woord wat na ‘n besondere mens, byvoorbeeld Nero, kan verwys nie.
8 “Soos God” is die korrekte vertaling en nie “soos gode” soos in die oorspronklike King James vertaling nie. Ons erfsonde was nie bloot die begeerte na verbode vrugte nie, maar die wil om soos God te wees. Die ongehoorsaamheid volgens sy wil was ‘n opstand gemik op die onttroning van God en die troonbestyging van Die Mens.
9 Lees Kuyper se Lectures on Calvinism (Grand Rapids, MI: Eerdmans, 1953), wat ’n publikasie is van sy lesings aan die Princeton Teologiese skool in 1898. Die volle uiteensetting van sy wêreldbeskouing van algemene genade is Kuyper se De Gemeene Gratie (Die Algemene Genade) in drie volumes (Amsterdam: Hoveker & Wormser, 1902-1904. Hierdie werk is nie vertaal nie.
10 Die drie punte van algemene genade wat in 1924 deur die Christian Reformed Church aanvaar is en Gereformeerde, Bybelse kritiek en belydenis-gefundeerde kritiek daarop, kan gevind word in Herman Hoeksema en Herman Hanko, Ready to Give an Answer (Grandville, MI: RFPA, 1997), bl. 35-159).
11 Van die prominente Evangeliesgesindes wat die wêreldbeskouing can algemene genade aanhang en bevorder, is Charles Colson en Richard J. Mouw. Colson het in Christianity Today geskryf, “Christene is verteenwoordigers van die reddende genade van God – om ander na Christus te bring ... maar ons is ook verteenwoordigers van sy algemene genade: om sy skepping te onderhou en te vernuwe, die geskape instellings van die familie en gemeenskap te verdedig en valse wêreldbeskouing teen te staan” (Reclaiming Occupied Territory,” Christianity Today (Augustus, 2004 bl. 64). Mouw het onlangs die algemene genade-wêreldbeskouing van Kuyper en die Christian Reformed Church opnuut geproklameer in sy boek Hê Shines in All that’s Fair: Culture and Common Grace (Grand Rapids MI: Eerdmans, 2001). Vir die Protestants Gereformeerde reaksie op Mouw, lees David J, Engelsma, Common Grace Revisited: A respons to Richard J. Mouw’s He Shines in All That’s Fair (Grandville, MI: RFPA, 2003).
12 Lees die getuienis vir hierdie treurige waarneming in Engelsma, “The Reformed Worldview” bl. 31-32.
13 Die verdediging van, en pleit vir die vereniging van Evangeliesgesindes en Rooms Katolieke word gevind in Evangelicals and Catholics Together: Toward a Common Mission, red. Charles Colson en Richard John Neuhaus (Dallas, TX: Word, 1995). Colson doen ‘n beroep op die alliansie van Abraham Kuyper met die Rooms Katolieke om “morele en sosiale hervorming na Nederland te bring” (bl. 39).
14 Herman Bavinck, Wijsbegeerte der Openbaring (Kampen: Kok, 1908), bl. 119. Bavinck het ewewel bygedra om hierdie beskouing van die geskiedenis fataal te kompromitteer deur sy bevordering van die wêreldbeskouing van algemene genade. Lees sy Algemene Genade (Grand Rapids, MI: Eerdmans-Svensma, (ongedateer). Algemene genade minimaliseer “die magtige konflik tussen duisternis en lig” tot ‘n skandelike wapenstilstand waar alles in ‘n grys gebied verkeer.
15 Dawkins, God Delusion, bl. 395.
16 Vry vertaal uit Joh. Jansen, Korte Verklaring van die Kerkenordening (Kampen: Kok, 1923) bl. 87.
[Die Dordtse Kerkorde is in 1862 vir die kerkregering van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika aanvaar en sedertdien deur verskillende sinodes gewysig. Die inhoud van artikel 21 lui tans soos volg: ‘Die kerkrade moet toesien dat die ouers die skoolonderrig aan hulle kinders in die vrees van die Here laat geskied.’ – Vertaler].
17 Dawkins, God Delusion, bl. 366-367.