Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Wedergeboorte

Ronald Hanko

 

Ons begin ons studie van die ‘heilsorde" deur te kyk na wedergeboorte. Aangesien die woord "geboorte" inhou, glo ons dat dit die begin van ons nuwe lewe in Christus beteken en dus eerste in die heilsorde is.

Wanneer die Skrif hierdie eerste genadewerk as weder geboorte beskryf, beklemtoon dit die waarheid dat dit geheel en al God se werk is, sonder toedoen van ons hulp – selfs sonder dat ons aanvanklik daarvan bewus is. Net so min as wat ‘n pasgebore baba iets met sy geboorte in die wêreld te doen het, so min het ons te doen met ons wedergeboorte in die koninkryk van God.

Inderwaarheid word dit nie bloot deur die Skrif geïmpliseer nie, dit word duidelik so geleer: "Wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is" (Joh. 1:13). Let daarop dat nóg die sondige wil (die wil van die vlees) nóg die menslike wil in enige sin (die wil van ‘n man), enigiets met hierdie wedergeboorte te doen het.

Sonder die wedergeboorte as ‘n eerste genadewerk kan niemand die koninkryk van God selfs maar sien nie (Joh. 3:3). Jesus sê nie "sal nie", Hy sê "kan nie." Vir ‘n nie-wedergebore sondaar is dit net so onmoontlik om iets met die koninkryk van God te doen te hê, as vir die visse van die see om op droë grond te lewe.

Die Skrif beskryf hierdie eerste genadewerk as wedergeboorte, en ook as die gawe van ‘n nuwe hart (Eseg. 36:25e.v.); ‘n besnydenis van die hart, dit wil sê ‘n wegdoen van die sonde van die hart (Kol. 2:11-13); ‘n doop, wat die afwassing van die sonde is (Tit. 3:5); ‘n geestelike lewendmaking, ‘n herlewing of opwekking uit die geestelike dood (Ef. 2:1); ‘n nuwe skepping in Christus (v. 10); en die oorbring uit die koninkryk van die duisternis na die koninkryk van God se geliefde Seun (Kol. 1:13).

Elkeen van hierdie beskrywings dien ook om ons te herinner dat wedergeboorte nie net wonderlik is nie, maar die soewereine daad van die Almagtige. Wie anders kan die dooies opwek en dinge skape? Soos die Dordtse Leereëls dit beskryf is dit inderdaad " ... ‘n volkome bonatuurlike, baie kragtige en tegelyk baie aangename, wonderlike verborge en onbeskryflike daad van God, ... in sy krag nie minder of geringer as die skepping of as die opwekking van die dooies nie."i

Maar die wonderlikste beskrywing van wedergeboorte sê aan ons dat dit die lewe van Christus aan ‘n verlore sondaar gee (Gal. 2:20; Kol. 1:27). Die nuwe lewe wat in die wedergeboorte aan ons gegee word, is die nuwe, opstandingslewe van Christus self, ‘n lewe wat nie weer kan sterwe nie (Joh. 11:25,26).

Dit is nuwe lewe. Dit is vir iemand wat dit het, nie moontlik om voort te gaan om te doen en praat soos vantevore nie. Hy is nie meer geestelik dood nie, maar lewend. Dood lê net en vergaan, maar lewe adem en doen en praat. Daarom moet ons, wat wedergebore is, ten spyte van die voortdurende teenwoordigheid van ons sonde en ons ou natuur, reken dat ons lewend is vir God in Christus Jesus, ons Here, en onsself tot beskikking stel van God as mense wat uit die dode lewend geword het (Rom. 6:11-13).

Vertaal uit Ronald Hanko se Doctrine According to Godliness (Grandville, MI, VSA: Reformed Free Publishing Association, 2004), pp. 187-188. 

(Vertaal deur Nic Grobler .
Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)

i Dordtse Leerreëls III/IV, 12.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.