Die Saligheid van Gedoopte Kindertjies (1)
prof. Herman Hanko
Ek het ʼn
brief ontvang wat twee vrae oor die kinderdoop vra—belangrike vrae wat
mens by die kern van die Bybelse leer oor die doop en saligheid bring.
Die eerste vraag is of die doop van kindertjies beteken (1) dat
kindertjies gelowiges is of (2) dat hulle in die toekoms gelowiges sal
word.
Die antwoord op die vraag is dat die Skrif en ons
Gereformeerde Belydenisskrifte leer (1) dat kindertjies van gelowiges
gedoop word omdat "hulle net soos die volwassenes in die verbond
van God en sy gemeente ingesluit is. Ook aan hulle word nie minder as
aan die volwassenes nie deur die bloed van Christus die verlossing van
die sondes en die Heilige Gees, wat die geloof werk, belowe" (Heidelbergse
Kategismus, V. & A. 74).
Die formulier vir die doop van kinders in die
Protestant Reformed Churches leer dieselfde. Ouers word gevra of hulle
bely dat "[h]oewel ons kinders in sondes ontvang en gebore en
daarom aan allerhande ellende, ja, aan die verdoemenis self, onderworpe
is ... hulle in Christus geheilig is en daarom as lidmate van sy
gemeente behoort gedoop te wees." In die gebed van die kerk na die
doop dank die heiliges God "dat U ons en ons kinders deur die bloed
van U geliefde Seun Jesus Christus, al ons sondes vergewe en ons deur u
Heilige Gees tot lidmate van u eniggebore Seun en daardeur tot u kinders
aangeneem het en dit aan ons met die heilige doop beseël en bekragtig."
Hierdie belydenisstellings is vas gegrond op die Skrif. Ek kan in
hierdie kort artikel net ‘n klein deel van die skrifbewyse gee, maar u
kan die res vind in my boek, We and Our Children.
Dat God sy verbond met ons en ons kinders oprig is
duidelik uit Genesis 17:7: "En Ek sal my verbond oprig tussen My en
jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verband, om
vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou." Omdat die
doop in die plek van die besnydenis gekom het (Kol. 2:11-12) geld die
waarheid van Genesis 17:7 in die nuwe bedeling sowel as die oue.
Uit Jeremia 1:5 kan ons leer dat uitverkore kinders
gewoonlik voor of by geboorte wedergebore word: "Voordat Ek jou in
die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die
liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot ‘n profeet
vir die nasies gemaak." Toe Maria gekom het om Elisabet te besoek
nadat sy te wete gekom het dat sy die Messias se moeder was, het
Johannes die Doper, nog ongebore, opgespring in die skoot van Elisabet.
Elisabet het dit deur die Gees in haar geïnterpreteer as dat Maria
swanger was met Christus, en dat sy in die teenwoordigheid van Christus
was. Johannes, hoewel nog ongebore, het ook van Christus se
teenwoordigheid geweet en het sy bediening begin deur die koms van
Christus aan te kondig deur in sy moeder se skoot op te spring. Elisabet
se woorde was: "Geseënd is jy onder die vroue, en geseënd is die
vrug van jou skoot! ... Want kyk, toe die geluid van jou groet in my ore
klink, het die kindjie in my skoot van vreugde opgespring. En salig is
sy wat geglo het, want die dinge wat deur die Here aan haar gesê is,
sal vervul word" (Luk. 1:42, 44-45).
Toe Jesus die dissipels aangesê het om nie die
moeders met kinders en babas in hulle arms te verhinder om na Hom te kom
nie, sodat hy die babas en kinders kon seën, het die Here as rede gegee:
"... want aan sulkes behoort die koninkryk van God" (Mark.
10:14). Teenstanders van die kinderdoop maak hierdie gedeelte af met die
opmerking dat Jesus net bedoel het dat diegene wat die koninkryk wil
inkom nederig moet word soos ʼn
klein kindjie. Maar dit is onmoontlik, want Jesus verduidelik net in die
volgende vers dat kindertjies die koninkryk van God "ontvang"
(15), wat net deur die werk van wedergeboorte moontlik is (Joh. 3:3, 5).
Dit is die algemene reël in God se koninkryk. Ons
moet natuurlik verstaan dat hierdie reël van God net van toepassing is
by die kinders van gelowiges. God red ook op die sendingveld. En wanneer
God red op die sendingveld, red Hy nie diegene wat tot die ewige lewe
uitverkies is wanneer hulle kindertjies is nie, maar wanneer die
reddende krag van die evangelie in die harte van sy uitverkorenes werk.
Desnieteenstaande red God nie net individue nie,
selfs nie op die sendingveld nie. Hy red huisgesinne, met ander woorde,
hy red gelowiges en hulle nageslag. Paulus sê vir die tronkbewaarder
van Filippi, "Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word,
jy en jou huisgesin" (Hand. 16:31; vgl.Hand. 16:15; I Kor. 1:16).
Waarom is dit so moeilik vir iemand wat beweer ʼn
Calvinis te wees en wat aandring op die absolute soewereiniteit van God
in die bewerking van saligheid om te glo dat God kindertjies red? As die
werk van saligheid uitsluitlik God se werk is, waarom kan Hy nie kinders
sowel as volwassenes red nie? Ek vermoed dat die probleem daarby lê dat
hulle wat ontken dat kinders as kinders gered word, tog maar Arminiaans
wil wees; hulle wil tog maar leer dat saligheid in die finale instansie,
ten minste gedeeltelik, by die mens se werke lê. Dit lyk asof so’n
Arminiaanse redenasie veronderstel word teen die beskouing wat hierbo
uiteengesit is, wanneer die opponente van hierdie beskouing beweer dat
kindertjies nie geloof kan hê nie.
Daar is twee opmerkings wat in hierdie verband gemaak
moet word. Een is dat ‘n wedergebore kindjie geloof kan hê en geloof
het as kind. Hy het geloof as die band wat hom met Christus bind,
alhoewel hy nie reeds ʼn bewuste
geloof mag hê nie. Maar dit is selfs nie onmoontlik dat die geloof van ʼn
kindjie, op ʼn kinderlike wyse,
begin blyk, self voor sy geboorte, wanneer die kind beïnvloed word deur
die sang en spraak van ʼn
godvresende huis en die aanbidding van die kerk waarin hy gedoop is nie.
Selfs ongelowige sielkundiges verwonder hulle daaraan dat ʼn
pasgebore baba wanneer dit maar ure oud is die stem van sy moeder herken.
Sou ʼn pasgebore kind van die
verbond nie die stem van sy hemelse Vader herken nie? ʼn
Stem kragtiger as wat enige aardse stem kan wees? Ons weet min van die
verstand van ʼn kind.
Ons moet nog meer hieroor sê en ook ʼn
tweede vraag beantwoord. Dit sal, as God wil, volgende keer wees.
(Vertaal deur
Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die
Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van
1933/1953)
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.