Die Soewereiniteit van God
Ds. Gise Van Baren
Deesdae ontken baie mense God se beheer oor alle dinge. Hulle dring
daarop aan om te volhard in hulle onkunde—want hulle verwerp die
getuienis van die Bybel. Baie Christene is blykbaar ook onseker oor die
omvang van die mag en beheer van God. Hulle is bereid om toe te gee dat
God sondaars probeer red—maar hulle is nie oortuig dat God werklik
volledig sy doel kan bereik nie. Hulle stem saam dat God alle goeie
dinge stuur—maar hulle is onwillig om te erken dat God oorloë en
siekte stuur. Hulle is gereed om te sê dat God goeie mense lei—maar
hulle huiwer om te bely dat slegte mense ook onder God se bestiering en
beheer is.
Een van die waarhede wat histories en nadruklik bely word deur die
Gereformeerde Calvinistiese Kerke is juis die soewereiniteit van ons
God. Soewereiniteit verwys na absolute, totale beheer oor alle dinge,
‘n heerskappy waaroor net God beskik. God se soewereiniteit is nie
beperk nie. Dit is ook nie aan Hom gegee nie. Dit is onbeperk en dit is
God se persoonlike reg. God is nie die heerser in een of ander soort
demokrasie, waar Hy regeer deur die wil van die mense nie. Sy heerskappy
en gesag behoort uitsluitlik aan Homself—en God beoefen ook hierdie
heerskappy oor sy skepping ten volle. Hy is die Soewereine Een. Niks en
niemand ontkom sy heerskappy nie.
Hierdie is ‘n waarheid van wesenlike belang. Daarsonder, of deur
dit te verdraai, kan mens nie anders as om leringe in stryd met God se
Woord voor te staan nie. Beskou dit in die lig van wat die Bybel self
leer.
Eerstens sluit die soewereiniteit van God in dat Hy die ganse heelal
geformeer het deur sy kragtige Woord—en Hy onderhou die voortbestaan
daarvan. Hierdie feit oorweldig die verbeelding! Die heelal self is so
groot dat geen mens weet hoe om sy begin of einde te beskryf nie. Die
getal van die sterre is ontelbaar. Die energie wat uitgestraal word deur
hierdie hemelligame in die heelal kan nie deur die mens gemeet word nie.
Daar is diegene wat beweer die mens is onkundig aangaande nie ontstaan
van die heelal. Sommige beweer dat dit moontlik ewig is. Maar die Bybel
sê vir ons in eenvoudige taal: "In die begin het God die hemel en
die aarde gemaak" (Gen 1:1). En Heb 11:3 sê: "Deur die geloof
verstaan ons dat die wêreld deur die Woord van God toeberei is, sodat
die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie."
Dink daaroor! God het die ontsaglike heelal gemaak—Hy is self ver
bokant dit verhewe en Hy word ook nie daardeur beperk nie. So ook het
Salomo gebid toe hy die tempel in Jerusalem toegewy het: "Maar sou
God werklik op die aarde woon? Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan
U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het?" (1
Kon. 8:27)
Maar die soewereiniteit van God is nie beperk tot die skepping van
alle dinge deur sy kragtige Woord nie. Hy is soewerein daarin dat hy
alle dinge wat gebeur regeer en stuur. God plaas die see binne sy grense:
Job 38:8: "En wie het die see met deure afgesluit toe dit
uitgebreek, uit die moederskoot voortgekom het?" Verder, Hy
veroorsaak dat die reën val en die gras groei, "wat die hemel met
wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat
uitspruit" (Ps. 147:8). Is dit nie treffend nie, dat die
soewereine God elke druppel reën laat val waar Hy wil; Hy laat elke
sneeuvlokkie afkom na sy welbehae. Hierdie is egter nog nie die omvang
van sy mag nie, God se krag omvat die voëls van die hemel en selfs die
hare wat van iemand se kop af val. Jesus het gesê: "Word twee
mossies nie vir ‘n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op
die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van
die hoof almal getel" (Matt. 10:29-30).
Maar selfs meer ongelooflik is die feit, alhoewel dit deur baie
ontken word, dat God se mag oorloë, peste, siekte en die winde op die
aarde bestier. As God stuur Hy nie alleen vrede nie, maar ook oorlog. Hy
gee nie net gesondheid nie, maar ook siekte en die dood. God sê in Jes.
45:7: "wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk
en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen."
Verder lees ons in Ps. 46:9: "Kom, aanskou die dade van die HERE,
wat verskriklike dinge oor die aarde bring." Wanneer Christene dan
van verskriklike orkane en tornadoes hoor of dit teëkom, wanneer hulle
vernietiging van siekte aanskou, wanneer hulle die vernietiging van
oorloë sien—laat hulle bely: "Die hand van die Here bestier al
hierdie dinge!"
Daar is ‘n nog groter wonder in die feit dat God soewerein is. Sy
heerskappy omvat selfs bose mense—ja, en ook die duiwel self. Baie
ontken dit. Die gedagte word dikwels voorgehou dat God goeie mense
beïnvloed en stuur—maar dat slegte mense en die duiwel kleiner magte
is buite God se regering. Daar word toegegee dat God die bose skepping
van die magte van duisternis kan frustreer, maar die bewering is dat
hierdie steeds onafhanklike magte is. As hierdie siening reg was, sou
dit ‘n ernstige begrensing of inperking van die Soewereiniteit van God
wees. Die feit is egter dat God ook soewerein is ten opsigte van slegte
mense. Hulle kan nie ‘n vinger verroer nie, hulle kan nie een bose
daad doen, wat nie onder die absolute beheer van God is nie.
Dat dit waar is, kan duidelik uit die Skrif bewys word. Ons lees in
Exodus hoofstukke 3 en 4 dat Moses, wat vroeër van Egipte gevlug het,
omgesien het na die kudde van sy skoonvader, Jethro. Dit was sy werk vir
die afgelope 40 jaar. Skielik het God Moses se lewe verander. God het
hom ontmoet by die brandende, maar onverteerde bos in die wildernis en
het hom beveel om na Farao te gaan met die opdrag om God se mense te
laat gaan. Maar toe het God vir Moses gesê: "Nou dat jy wegtrek om
na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat
ek in jou mag gestel het. Maar ek sal sy hart verhard, sodat hy die volk
nie sal laat trek nie." Dit is nie waar dat Farao eerste sy hart
verhart het—en toe het God dit verder verhard nie. Voor Farao eers
bewus was van Moses se bestaan, het God beklemtoon: "Ek sal Farao
se hart verhard" (Ex. 4:21). As gevolg van hierdie handeling van
God verhard Farao sy hart. Alhoewel God Farao se hart verhard het, word
Farao self verantwoordelik gehou en word verskriklik gestraf vir sy
sonde met die tien plae.
En hoekom sal God Farao se hart verhard? Die apostel Paulus antwoord
met die woorde van Rom. 9:17: "Want die skrif sê aan Farao: Juis
hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat
my Naam verkondig kan word op die hele aarde."
Ander gevalle word in die Skrif genoem. Daar is die verslag van I Kon.
22, waar Agab advies gevra het by die valse profete aangaande sy plan om
teen Sirië te veg. Hierdie valse profete het hom eenparig aangemoedig
om op te trek—met die versekering van oorwinning. Maar toe roep Agab
God se profeet, Miga. Miga het aan Agab verduidelik dat dit God was wat
‘n leuengees in die mond van Agab se valse profete geplaas het—sodat
hulle Agab kan lei tot sy eie vernietiging in die oorlog. God is dus
soewerein, selfs oor die valse profete.
Maar daar is nog meer, want ook die duiwel self is onder die direkte
beheer van God. Waarskynlik word die duidelikste bewys hiervan gevind in
die boek Job. In die eerste hoofstuk lees ons dat Satan voor God verskyn
het. God het Satan herhinner aan Job—"‘n man vroom en opreg en
wat afwyk van die kwaad," toe sê Satan, "Is dit verniet dat
Job God vrees? … Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het—waarlik,
hy sal u in u aangesig seën." Dan sê God vir Satan in vers 12:
"Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou
hand nie uitsteek nie." God gee dus aan Satan spesifieke en
beperkte mag om die bose plan uit te voer waarmee hy Job probeer versoek
om God te vloek [seën in die negatiewe sin].
Die Skrif openbaar egter ‘n nog wonderliker, verstommender bewys
van die soewereiniteit van God. Hierdie almagtige God, deur sy eie krag
alleen, red sy kinders van sonde en dood en bring hulle tot hemelse
heerlikheid. Baie predikante sal verkeerdelik verkondig dat Jesus buite
die sondaar se hart staan en aanhoudend aan die deur klop. Die
beslissende aksie wat tot saligheid lei, moet deur die mens self geneem
word. Maar dit is nie wat die Skrif voorhou nie. In Jer 31:18-19 lees
ons "Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die HERE my God.
Want nadat ek tot inkeer gekom het, het ek berou gehad; en nadat ek tot
insig gekom het, het ek op die heup geslaan; ek het beskaamd gestaan, ja,
ook in die skande gekom, omdat ek die smaad van my jeug dra."
Verder lees ons oor die prediking van die sendelinge Paulus en Barnabas:
"En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord
van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer
was tot die ewige lewe" (Hand 13:48) En op ‘n ander sendingreis
het Paulus met vroue gepraat wat aanbid het op die bank van ‘n rivier
naby Fillippi. Een van hierdie vroue, Lydia, het geglo. Aangaande haar
lees ons: "die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur
Paulus gesê is" (Hand 16:14).
Verder was die soewereiniteit van God duidelik met Jesus se
kruisiging. As ons kyk na wat gebeur het by die kruis, is ‘n mens
geneig om te dink alles het hande uitgeruk. Dit wou amper voorkom asof
God beheer verloor het. Dit het gelyk asof Satan oppad was om die
oorwinning te behaal. Tog was dit glad nie die geval nie. God het
by die kruis alles onder beheer gehad. Wat plaasgevind het, het gebeur
in harmonie met sy grootse doel. So het Petrus ook verduidelik aan die
skare op Pinksterdag toe hy aan hulle sê: "Hom, wat deur die
bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die
hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring" (Hand.
2:23). God het bepaal dat die kruis moes kom—maar bose mense het
Christus geneem en Hom gekruisig. So het God dan die bose dade van
slegte mense gebruik om sy glorieryke doel te bereik.
Dit is ook deur hierdie selfde soewereine, almagtige krag van God dat
Hy sy kinders bewaar in die saligheid wat Hy aan hulle geskenk het. Ons
lees in Fil. 1:6: "omdat ek juis hierop vertrou, dat Hy wat ‘n
goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van
Jesus Christus."
Die soewereine God het sy absolute beheer oor alle dinge geopenbaar
daarin dat Hy sy volk red van die sonde en hulle na die hemel met al sy
heerlikheid, bring.
Is dit belangrik dat die gelowige Christen moet hou by die
skriftuurlike uiteensetting van God se soewereiniteit? Verseker! Die
eintlike rede waarom die ganse heelal bestaan is dat God se Naam
verheerlik mag word. Alles wat al plaasgevind het en alles wat nog sal
gebeur, moet geskied met die doel om God te verheerlik. Niks of niemand
mag poog om iets van ons God se soewereiniteit weg te neem nie.
Dit is kenmerkend van alle kettery dat die waarheid oor God se
soewereiniteit ondermyn word. As dit van die mens afhang, sal hy die
mens self verheerlik; dit wat die mens se krag of vermoë aanprys, en
ook dat die mens ‘n vermoë het om iets van God te verdien. Of
sommiges probeer doelbewus afbreek doen aan God se absolute beheer oor
alles, deur te beweer dat ander, buiten God, ‘n onafhanklike vermoë
besit.
Maar dit is kenmerkend van die gelowige Christen en van die ware kerk,
dat hulle die skriftuurlike waarheid van God se absolute soewereiniteit
bely. All leringe, elke belydenis, moet gegrond wees in die waarheid van
God se soewereiniteit. Wat ookal die aandag van hierdie waarheid aftrek,
moet verwerp word. Ware leringe moet afgelei word uit die waarheid dat
God die Soewereine Een is en moet dit ook propageer
Die Christen moet ook in bewustheid van hierdie waarheid leef. Dit
gebeur maar te dikwels dat mens aan jouself as onafhanklik dink—vry
van die gesag van God. Die mens soek nie God se aangesig in gebed soos
dit hoort nie. Hy ondersteun ook nie die saak van God se koninkryk soos
dit ‘n lojale kind van God betaam nie. Hy soek eerder sy plesier in
hierdie wêreld met sy begeerlikhede. So ‘n mens lewe asof God nie die
Soewereine Een is nie.
Wat ‘n wonderlike waarheid is hierdie belydenis van God se
soewereiniteit! My God is Hy wat gebede verhoor en kan beantwoord. My
God laat alles vir my ten goede meewerk (Rom. 8:28). Omdat God absoluut
soewerein is, gebeur niks met my toevallig nie. En ek sal sekerlik vir
ewig wandel in die huis van die Here—my soewereine God sien toe dat
dit gebeur deur sy Seun, Jesus Christus.
Watter troos, watter versekering is dit vir die Christen om God se
soewereiniteit te ken en te bely. Dan is daar niks wat my kan skei van
die liefde van God nie. "Want," sê die Woord: "ek is
versekerd dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of
teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander
skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus
Jesus, onse Here, is nie" (Rom. 8:38-39). Dit is waar, want God is
die soewereine God. Dank God dat Hy is!
(Vertaal deur Adi
Schlebusch adi.schlebusch@yahoo.com
Die Afrikaanse vertaling van
die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.