Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die geestelikheid van God (1)

Ds. Angus Stewart

 

Die probleem van die Samaritaanse vrou, ten minste in die eerste helfte van Johannes 4, is dat sy nie die geestelikheid van God besef het nie. Die Here Jesus praat met haar oor "lewende water" (10), maar sy dink dat Hy 'n skepding nodig het om water in die diep put by te kom (11). Sy sien nie raak dat Christus die lewende water is nie! Hy sê dat hierdie lewende water opwel "tot in die ewige lewe" (14), maar sy dink dit sal keer dat sy dors word en dat sy dan nie meer na die put sal hoef te kom nie (15). Sy word bekoor met plekke wat met godsdienstige persone en die geskiedenis verband hou: die put van Jakob (12) en die berg Gerísim, waar "ons vaders" aanbid het (20), maar Jesus sê dat sy en die meeste Samaritane nie eers weet wat hulle aanbid nie (22)! Hierdie vrou is verskeie kere geskei en het verskeie kere hertrou, sy het vyf mans gehad en sy het nie eers die moeite gemaak om met die man saam met wie sy bly te trou nie (17-18). Tog dink sy dat sy die heilige God op die berg Gerísim kan aanbid! Teen hierdie agtergrond, en om haar wanopvattings reg te stel, maak die Here Jesus die grootste stelling wat oor die geestelikheid van God en die aanbidding van Hom, in die hele Bybel voorkom: "God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid" (24).

Wat beteken dit dat God "gees" is; sy geestelikheid? Dit beteken heel eenvoudig dat Hy nie stoflik of fisies is nie, nie eers in die minste nie. Hy bestaan uit geen stoflike of fisiese dele nie — daar is in elk geval nie dele in God nie! — want God is heeltemal onstoflik. Hy is geheel en al, louter, gees.

God is nie 'n vaste stof of (klaarblyklik!) ʼn vloeistof nie; Hy is nie eers gas nie. Hy is louter gees (wat nie met 'n baie dun gas verwar moet word nie).

Wat dan van die geestelikheid van God en die vyf sintuie van die mens? Mens kan Jehova nie met jou vingers voel of met jou neus ruik nie. Mens kan God nie met jou oë sien nie; Hy is onsienlik. Mens kan die Allerhoogste nie met jou ore hoor nie; Hy is nie hoorbaar nie. Selfs die stem wat Israel by die berg Sinai die tien gebooie hoor gee het, was 'n geskape geluid. Laastens kan mens God ook nie proe nie. Iemand sal miskien vra, wat van Psalm 34:9: "Smaak en sien dat die HERE goed is"? Hier word nie verwys na God smaak met die mond of Hom sien met die oog nie. Hier gaan dit daaroor om Hom deur die Woord te bemerk en te ken, ten einde in liefde met Hom in gemeenskap te lewe en jou vreugde in Hom te vind. God is gees, louter gees, oneindig hoog bo ons onbeduidende vyf sintuie verhewe, maar met groot sekerheid en heil bekend aan dié wat in die gekruisigde en opgestane Christus glo.

Wat van ander wesens waarvan in die Bybel as "geeste" gepraat word? Die mens, wat liggaam en siel (gees, hart en verstand) is, het 'n gees. Die mens se gees is geskape, eindig (dit bestaan in hierdie lewe binne, en nie buite sy liggaam nie) en sondig (in hierdie lewe), maar die Almagtige is ongeskape gees, oneindige gees en vlekkeloos reine gees.

Die engele is geeste. Lees maar die retoriese vraag in Hebreërs 1:14: "Is hulle nie almal dienende geeste ... nie?" (vgl. Ps. 104:4). As geeste, blote geeste, is die engele, anders as die mens, nie met 'n fisiese liggaam verbind nie; hulle is baie meer verstandig, kragtig en geswind as die mens. Die uitverkore engele, dit wil sê nie die gevalle engele nie, is sondeloos (1 Tim. 5:21); maar selfs die magtige engele, uitverkore of verworpe, is steeds geskape en eindig.

God is, anders as die mens en die engele, ongeskape gees. Hy is oneindig, ewig, onveranderlik en alvermoënd gees; die volmaak heilige, regverdige en goeie gees. Daar is nie 'n breë kategorie wat "gees" genoem word, waarin God ook pas nie. Ewewel is Jehova oneindig verhewe gees, want Hy alleen is ongeskape, ewige en volmaak regverdige gees.

Wat van God as gees en die Heilige gees? Dat God gees is, bepaal sy wese, bestaan of natuur. God is gees, daarom is die Vader gees, is die Seun gees en is die Heilige Gees gees. Wanneer ons van die Heilige Gees praat, praat ons nie van die wese of natuur van God as sulks nie — ons praat van die onderskeidende persoonlike eienskappe van die Derde Persoon in die heilige Drie-eenheid. Hy word ewig, goddelik en persoonlik van die Vader geadem na die Seun en van die Seun na die Vader.

Die volmaakte heerlikheid van God as rein gees stem klaarblyklik ooreen met van sy ander hoedanighede. Eerstens gaan die geestelikheid van God hand aan hand met sy enigheid. As God op enige manier stoflik of fisies sou wees, sou Hy uit dele moes bestaan en nie volmaak enig en enkelvoudig kon wees nie; maar omdat God louter gees en nie stoflik is nie, kán Hy volmaak enig en enkelvoudig wees en ís Hy dit ook. Dit is waarskynlik waarom die enigheid van God en die geestelikheid van God aan die begin van die Nederlandse Geloofsbelydenis (Artikel1) so nóu met mekaar verbind word: "Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar 'n enige en enkelvoudige geestelike wese is wat ons God noem."

Tweedens noodsaak die geestelikheid van God sy onsienlikheid. Omdat God louter gees is, moet Hy onsienlik wees en is Hy dit ook. Geen tegnologiese wonder kan ooit uitgedink word waarmee God, wat gees is, deur enige skepsel gesien kan word nie. Ons onthou die Russiese ruimtevaarder wat uit die buitenste ruimte laat weet het dat God nêrens te siene is nie, asof Hy nie bestaan nie; maar dit was bloot 'n geval van kommunistiese ateïsme. God is per definisie gees en onsigbaar; natuurlik kan Hy nie gesien word nie!

Derdens is God as gees alomteenwoordig. Dink vir een oomblik aan God as alomteenwoordig én as materie (d.w.s. nie gees nie). Hy sou dan die hele heelal vul sodat niks anders kan bestaan nie, want materie vul ruimte. Maar as ongeskape, onstoflike gees is die Allerhoogste oral teenwoordig sonder om iets te verplaas!

Vierdens stem die geestelikheid van God met sy almag ooreen. Ons kan só daaroor dink: die mens is liggaam en gees en besit daardeur fisiese en verstandelike vermoëns; die engele, as geskape geeste, het baie meer krag en verstand; as louter ongeskape gees is Jehova almagtig.

Al dié dinge, en nog meer, word omvat in die diepgaande stelling van Christus dat God gees is! Ons sal hierdie groot waarheid, DV, volgende keer meer breedvoerig behandel.

(Vertaal deur Nic Grobler. 
Die Bybelvertaling wat gebruik is, is die AOV van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.