Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die beloning van die heiliges in Thiatíre en van alle oorwinnaars

Ds. Angus Stewart

 

In die twee laaste uitgawes van die News het ons gesien dat die kerk in Thiatíre (Openbaring 2:18-19) deur Jesus Christus geprys is oor vyf deugde of goedwillige optrede: liefde, diens, getrouheid, volharding en goeie werke; “Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste” (vs. 19). In hierdie artikel handel ons met die drievoudige beloning van genade wat die Seun van God gee aan sy heiliges in Thiatíre gee aan almal wat die wêreld, die vlees en die duiwel deur geloof oorwin (vs. 26-28).

Eerstens beloof ons Heiland, “En aan hom [of haar] wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee” (vs. 26). Dit bemoedig al die mense van God om in die liggaam van Christus te dien, op enige manier wat hulle kan, hoe beskeie ook al. Ons is geneig om moedeloos te word omdat ons net klein dingetjies in die beperkte omgewing van die kerk doen: “Wat is my werk in die kerk werd? Dit kan tog net van minder belang wees!” Miskien is dit veral die kinders en die ouer mense wat geneig is om so te dink, omdat hulle en hulle hulp op ’n sondige manier deur meer “bekwame” lidmate geringskat word.

Ons moet vertroue hê oor wat Christus dink van al ons liefde, diens, getrouheid, volharding en goeie werke in sy kerk, hoe gering en oënskynlik onbeduidend ook al. Die Here slaan dit só hoog aan — onthou ook dat dit sý werke, deur en in ons, is (vs. 26) — dat Hy ons sal beloon met die gawe om oor die wêreld te regeer! Al saai ons maar geringe gemeentelike arbeid, ontvang ons reuse, kosmiese, “politieke” belonings (lees oo Galasiërs 6:8)! Wat meer is, in die nuwe hemel en die nuwe aarde sal ons die wêreld uit die hemel regeer, saam met al die verheerlikte heiliges, in Jesus Christus, die Koning van die konings en Heer van alle here.

Openbaring 2:26 praat van “mag [of gesag] oor die nasies. “Dit is ook vol betekenis. In hierdie lewe is daar min Christene met owerheidsgesag (1 Korinthiërs 1:26-29). In die kerk word aa sommige deur die Here Jesus gesag gegee in die ampte van leraars, ouderlinge en diakens. Maar ook dan word die kerklike ampsdraers verbied om te heers oor “die erfdeel van God” (1 Petrus 5:3). Om “aan mekaar onderdanig [te wees] in die vrees van God,” is die roeping van alle gelowiges (Efesiërs 5:21). Maar in die volgende lewe sal Christus self aan ons die gesag of reg gee om oor al die nasies te regeer. Van hierdie gesag kan die President van die Verenigde State, of die leierskap van die VVO, of selfs die Antichris, die mens van die sonde, seun van die verderf (2 Thessalonicense 2:3), wat aan die einde van die eeue sal kom, maar net droom. Waarlik “sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste” (Matthéüs 20:16)!

Die Here Jesus beskryf ons beloning verder: “en hy sal hulle regeer met ʼn ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:27). U sal hierin ʼn aanhaling van Psalm 2:9 herken, ʼn Ou-Testamentiese profesie van die komende Messiaanse koning. Die “hy" in Openbaring 2:27 is ewewel die individuele gelowige, wat duidelik word by die lees van die laaste deel van die vers en vergelyking van verse 26 en 27.

Die idee is dat Christus van die drie-enige God die mag ontvang om die goddelose volke te vernietig. Hy deel dan hierdie heilige opdrag met sy uitverkore, verloste, wedergebore en verheerlikte volk. Daarom praat ons hier van ons eenheid met Christus, in besonder in sy koninklike amp (lees die Heidelbergse Kategismus, V. & A. 32). Daar moet ook op gewys word dat ons God se regterlike oordeel oor sy vyande sal voltrek, en nie ons eie sondige, persoonlike wraak van ons aardse lewe nie.

Weereens is die verskil tussen ons goeie werke en ons beloning as die volk van God, treffend. In hierdie lewe dien ons die liggaam van Christus met liefde en getrouheid; in die volgende lewe word ons die mag gegee om die bose te vernietig! Die teks is ontstellend. Waar Christene vandag meer daaraan gewoond is om ’n stofsuier of ’n pen of ’n graaf te hanteer, sal God aan ons ʼn “ysterstaf’ gee terwyl die onberoulike bose, kleipotte sal wees. Ons sal hulle aan stukke slaan, fyn skerwe! Dit gaan nie met politieke rewolusie of burgerlike rebellie gebeur nie, maar deur ons geestelike verheerliking.

Ons Here Jesus gee ’n derde belofte in verband met ons ewige erfenis: “En Ek sal hom die môrester gee” (vs. 28). Wat word met “die môrester” bedoel? Christus self verduidelik aan die einde van die Openbaringboek: “Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester” (Openbaring 22:16).

As dit vir u vreemd klink dat Christus Homself vir ons gee as die môrester, dink daaraan dat die Here Jesus, wat self die brood van die lewe is, Homself ook as die brood van die lewe aan ons gegee het (Johannes 6). Wat is daar benewens Homself en al die dinge in Hom wat ons Verlosser aan ons gee?

Wat is dan nou die idee van Jesus Christus as “die môrester”? Dit is ’n beeld van skoonheid en lig, hemelse skoonheid en lig. Die môrester is ook die herout van die dagbreek van die nuwe dag van ryke verbondsgemeenskap met die drie-enige God ná die dood, in die nuwe hemel en op die nuwe aarde, vir ewig!

Luister na die woorde van Christus: “Wie ʼn oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Openbaring 2:29). Geliefde kind van God, dit sluit in om te glo, te onthou en troos te put uit Christus se ryke belofte van ’n heerlike beloning aan almal wat deur sy genade oorwin!

Vertaal deur Nic Grobler. Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik word, is die Afrikaanse Ou Vertaling (AOV) van 1933/53.

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.