Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Die stem wat roep in die woestyn (1)

Ds. Angus Stewart

 

Dit is belangrik om te sien wat dit is wat die Bybel oor Johannes die Doper voorop stel. Dit is nie sy gesig of sy lyf nie, want hy is nie ʼn model nie. Dit is nie sy persoonlikheid nie, want hy is nie ʼn ‘celebrity’ nie. Dit is nie sy hande, as sou hy ʼn vakman wees nie. Dit is nie sy voete, as sou hy ʼn hardloper of atleet wees nie. Die Skrif beklemtoon Johannes se “stem.”

Ook dít is nie omdat hy ʼn mooi, of melodieuse stem gehad het nie. Die stem van Johannes word beklemtoon oor wat hy bekend gemaak het: die Woord van God! Johannes word ʼn “stem” genoem omdat hy ʼn prediker was wat deur God gestuur is. Die stem van Johannes was ʼn stem “roepende” met krag en dringendheid vanweë die grootsheid en gewigtigheid van die boodskap.

Die stem van Johannes het geroep in die woestyn waar alles stil was totdat sy boodskap deur die lug geklief het. Dit is Jesaja 40:3 wat deur al vier die evangeliste aangehaal word: “Die stem van een wat roep in die woestyn” (Matthéüs 3:3; Markus 1:3; Lukas 3:4; Johannes 1:23).

En hoe moet mens op 'n stem reageer, veral 'n roepende stem wat met krag en dringendheid Gods’ Woord bekend maak? Mens luister na so 'n stem!

Die tyd waarin die stem geroep het, word noukeurig in Lukas 3:1-2 beskrywe. Sewe manne word genoem: keiser Tibérius (die Romeinse keiser), vier streeksregeerders van die groter Palestina (Pontius Pilatus, goewerneur van Judéa, Herodes Antipas, viervors van Galiléa, Filippus, viervors van Ituréa en Trachonítus, en Lisánias, viervors van Abiléne, en twee Joodse Hoëpriesters (Annas en Kajafas). Lukas stel selfs die tyd waarop die stem begin roep het: “die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius” (Lukas 3:1). Geleerde historici sê dit was die jaar 26 n.C. Hierdie merkwaardige tydsaanduiding is soos wanneer iemand in die konteks van die Verenigde Koninkryk sou praat van die soveelste jaar van die Britse monarg A, toe B Eerste Minister was van die VK, en C, D en E Eerste Ministers van Skotland, Wallis en Noord Ierland en F die Aartsbiskop van Kantelberg, met G sy aangewese opvolger.

Die geboorte van Christus word aan die hand van die regerings tye van net twee mense gedateer (Lukas 2:1-2), terwyl die begin van die bediening van Johannes die Doper aangedui word met verwysing na die regerings van sewe mense, en selfs die jaar van die keiser se regering aangee (Lukas 3:1-2). Jesus se bediening het 'n paar maande later begin en sy kruisiging en opstanding 'n paar jaar daarna.

Lukas word dikwels “die geskiedskrywer” genoem, deels omdat hy datums verskaf (2:1-3; 3:1-2) én weens die sorg wat hy met sy geïnspireerde evangelie verhaal aan die dag lê (1:1-4; lees Handelinge 1:1 e.v.). Lukas die geskiedskrywer stel die begin van Johannes se bediening so noukeurig, want sy stem in die woestyn het 'n einde gebring aan 400 jaar stilte en die koms van die beloofde Messias en die koninkryk van die hemel aangekondig!

(Vertaal deur NicGrobler, Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/53.)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.