Die Vrou in die Amp
prof. Ron Cammenga
Die artikel het oorspronklik onder die titel Women
in Church Office, verskyn in die boek Far
Above Rubies: Today's Virtuous Woman, Herman Hanko (red.) (Grand
Rapids, MI: Reformed Free Publishing
Association, 1992), pp. 157-174. Dit is vertaal en verwerk deur
Hannes vanHeerden .
Aanhalings
"Wat die skynheiliges of wyse manne van die wêreld ook mag
dink, God vind behae in 'n vrou wat die posisie wat aan haar toegewys
is, as 'n roeping sien en haar daaraan toewy, wat nie terugdeins van die
onangenaamhede wat saamgaan met die kook van kos, die siekte, die moeite
of liewer die angsvolle afwagting verbonde aan die baar van kinders of
enige iets anders wat haar taak is nie—God vind veel minder behae
daarin as sy 'n enige ander heroïse deugde het en weier om haar
Godgegewe roeping te vervul." - Johannes Calvyn oor I Tim. 2:15
" 'n Vrou onderneem geen klein rol in die hele administrasie nie,
sy is die opsiener van die huishouding. Sonder haar kan nie eers
politieke sake behoorlik gevoer word nie. Indien hulle huishoudings in
verwarring en deurmekaar is, sal diegene wat betrokke is by die politiek
van die dag by die huis gehou word en die politick van die dag sal swak
bestuur wees. Dus is sy in nóg sulke sake, nóg die geestelike,
minderwaardig." - John Chrysostom
"Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid.
Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te
heers nie, maar sy moet haar stil hou ... Maar sy sal gered word deur
kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met
ingetoënheid." - I Tim. 2:11-12, 15
Inleiding
Dat die onderwerp van die artikel 'n lewendige saak
in die kerkwêreld van vandag is, is duidelik. Die rol van die vrou is 'n
veel besproke aangeleentheid in die wye wêreld en spesifiek in die
moderne Amerikaanse (lees Suid Afrikaanse - HvH) samelewing. Ons
leef in die tyd van die bevryding van die vrou, vroueregte en die
feministiese beweging. Vroue dring aan op gelykheid met mans en is op
seck na selfverwesenliking, nie in die huis of in die versorging van 'n
gesin nie, maar in die beroepswêreld en loopbane wat tradisioneel deur
mans gevul is. Die vrouebeweging het hoogs georganiseerd geword, 'n krag
om mee rekening te hou. 'n Organisasie soos NOW ("National
Organization for Women") lê hulle toe op politieke aksie en die
verspreiding van propaganda namens die vroueregte beweging. Regoor die
land word druk geplaas op organisasies wie se lidmaatskap tradisioneel
tot mans beperk was om vrouens as lede toe te laat. Dit is dus te
verstane dat daar 'n parallele beweging in die kerke bestaan wat druk
toepas vir die aanvaarding van die vrou in die amp van leraar, ouderling
en diaken. Die algemene vergaderings en sinodes van die kerke was die
laaste paar jaar druk besig met hierdie vraag en dit lyk of dit so sal
voortgaan vir die afsienbare toekoms. In joernale en kerk tydskrifte
verskyn artikels daarvoor en daarteen. Verskeie boeke is oor die
onderwerp geskryf. Vrouens word in groter wordende getalle toegelaat tot
kweekskole. Verder het baie kerke reeds, sommige met en ander sonder die
toestemming van die meerdere kerklike vergaderings, vrouens in die ampte
bevestig.
Ten beste is hierdie 'n ernstige dwaling, anders 'n
doelbewuste en vyandige aanslag. Dit is ons oortuiging dat die Bybel nie
toelaat dat die vrou elke amp mag beklee wat die man beklee nie en dat
die vrou geroep is tot onderwerping aan die man in die huis en die kerk.
Dit is nie 'n standpunt "teen" vroue nie, maar "vir"
vroue, die enigste standpunt "vir" vroue. Die Bybel is pro-vrou,
dit beteken dat die Bybel die vroue se eie belang op die hart het en
voorskryf wat die beste is vir die vrou self. Juis omdat die kerk gedryf
word deur wat die beste is vir die vroue self, moet die kerk toegewyd
aan die leer van die Skrif vashou in die hantering van die vraag oor die
vrou in die amp.
Die Bybel se Standpunt oor die Vraag
Die Bybel skryf 'n groot en belangrike plek toe aan
die vrou in die kerk. Dit kom duidelik na vore, in die eerste plek, in
die verhouding van Jesus met verskeie vroue. Jesus het belanggestel in,
en het tyd afgestaan om die behoeftes van vroue aan te spreek. Hy het
hulle nooit verkleinerend behandel of enigsins as minderwaardig geag nie.
Hy het sewe duiwels uit Maria Magdalena gedryf. Hy het die evangelie
verkondig aan die Samaritaanse vrou by die put van Jakob. Hy verdedig en
vergewe die vrou wat na Horn gebring is vanweë haar owerspel. Hy wek
die seun van die weduwee van Nain op uit die dood en bevry die dogter
van die Siro-Finisiese vrou van die mag van 'n duiwel. Verskeie vroue
was besonder naby aan Jesus en het 'n hartlike persoonlike verhouding
met die Verlosser gehad. Die mees prominente van hierdie vroue was Maria
en Martha, die susters van Lasarus, en Maria Magdalena. Dit is opvallend
dat hierdie vroue die laastes was wat die gebeure by die kruis verlaat
het en die eerstes aan wie die evangelie van die opstanding verkondig
is. Christus het egter nie een van hierdie vroue geroep om een van sy
twaalf disippels te wees of later as 'n apostel uit te gaan nie.
Dieselfde prominente plek het aan vrouens in die
vroeë kerk behoort. Daar was verskeie vrouens onder die 120 dissipels
in die bovertrek toe die Heilige Gees uitgestort is op Pinksterdag. Ons
lees gereeld van die vroue in die kerk in die boek Handelinge. Verskeie
van die vroue het beide die apostels en die gemeente van God gedien.
Daar was Dorkas (of Tabita) wat uit die dood opgewek is deur Petrus, van
wie ons lees dat sy vol goeie werke en aalmoese was (Hand 9:36). Die
eerste bekeerling van die apostel Paulus in Filippi was Lidia, die
purperverkoopster. Paulus onthou die ongefeinsde geloof van die jong
Timótheus, wat eers in sy ouma Loïs en in sy moeder Eunice was. Dit is
hulle wat Timóteus die Skrifte geleer het (II Tim. 1:1-5). Priscílla,
saam met haar man Aquila was vir Paulus tot groot hulp in sy
sendingsaktiwiteite.
Mens kan dus nouliks die apostels daarvan beskuldig dat hulle vroue
sleg behandel of geïgnoreer het, of dat hulle vroue 'n plek in die
gemeente en breër samelewing ontsê het. Hulle het die vroue geëer en
met respek van hulle gepraat. Hulle het die vroue se dienste waardeer en
hulle aangepoor en geprys. Maar die apostels het geen vroue in die ampte
van ouderlinge, diakens of leeraars bevestig nie. Hierdie vroue het die
apostels bygestaan, na díe armes omgesien, die jonger vroue onderrig,
hulle huise versorg en hulle kinders grootgemaak in die vrees van die
Here, maar hulle het nie gepreek, in die ouderlingsbanke gesit of in die
amp van diaken gedien nie. Hierdie belangrike en prominente plek wat die
Bybel aan die vrou gee, is in lyn met die leer van die Skrif oor die
gelykheid van die vrou aan die man. Die leer van die onderwerping van
die vrou aan die man en dat die vrou die "swakker geslag" is,
doen nie afbreuk aan die gelykheid van man en vrou nie.
Dit dui daarop dat die hele vraag oor die vrou in die amp nie 'n
vraag is oor die gelykheid van man en vrou nie. Gelykheid en
verskillende rolle staan nie teenoor mekaar nie. Inteendeel, dít ís
twee aspekte van die leer van die Skrif oor hierdie aangeleentheid. Daar
is 'n bepaalde Bybelse gelykheid van die vrou aan die man. Die skepping
dui dit reeds aan: beide die man en die vrou is geskape na die beeld van
God (Gen. 1:27). Ook God se bevel om te heers oor die skepping gaan uit
na beide man en vrou volgens Gen. 1:28. Die feit is dat die gedeeltes in
die Nuwe Testament wat die onderhorigheid van die vrou aan die man leer,
is daar telkens uitsprake oor hulle gelykheid en wedersydse
afhanklikheid. Die Skrif doen moeite om te waarsku teen die gebruik van
die hoofskap van die man as regverdiging vir 'n harde, outokratiese,
dominerende heerskappy. So lees ons in I Kor. 11:11-12: "En tog, in
die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder
die man nie. Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur
middel van die vrou; maar alles is uit God." Die man ís uit die
vrou. is afhanklik van die vrou en is geroep om sy hele lewe aan haar sy
te leef. In I Petrus 3:7 sê die apostel: "Net so moet julle, manne,
verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die
swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van
die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie." Die
man en vrou is gesamentlik erfgename van God se genade en die ewige lewe.
Die Skrif leer ook dat die man en vrou gelyk deel het aan die
verdorwenheid van die mens. Beide moet gered word. Jesus Christus is die
Redder van man en vrou. Albei ontvang die Heilige Gees en deel daarom
gelyk ín die ampte van al die gelowiges; dié van koning, priester en
profeet. Soos Joël geprofeteer het, is die Gees uitgestort, nie net op
die seuns van Israel nie, maar ook op sy dogters (Joël 2:28-29).
Die Bybelse Verbod op die Vrou in die Amp
Hoewel al die bogenoemde waar is, plaas die Bybel 'n verbod op die
vrou in die spesiale ampte binne die gemeente. Enige regverdige en
eerlike hantering van die skrifgedeeltes sal tot hierdie gevolgtrekking
lei—soos die kerk tot onlangs aan vasgehou het. Wat is hierdie
skrifgedeeltes?
In die eerste plek, leer die geskiedenis soos geopenbaar in die Ou
Testament duidelik God se wil dat die leierskap en ampte in sy kerk aan
mans toevertrou word. Die leierskap rolle word konsekwent in die Ou
Testament deur God aan mans toegewys. Noag is deur God geroep om die ark
te bou en die kerk uit die ou wêreld uit te lei en in die nuwe wêreld
in te lei na die vloed. Dit was die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob
en Jakob se twaalf seuns wat die kerk gelei het in die tyd na die vloed.
Dit was die man Moses wat deur God geroep is om Israel uit die mag van
Egipte te verlos en te lei na die beloofde land. Dit was Josua wat deur
God aangestel is om die kinders van Israel uiteindelik in die land
Kanaän in te lei.
In die Ou Testament het God die amp van priesterskap
aan Aäron en die manlike lede van sy familie toegewys. Nie een vrou was
ooit aangewys as priester nie. Daar was ook ouderlinge reg deur die Ou
Testament tot in die tyd van die Nuwe Testament, maar daar word nooit
melding gemaak van 'n vroulike ouderling onder enige van die stede van
Ou Testamentiese Israel nie. Net so het geen vrou ooit die troon in
Israel beklee nie, behalwe vir die goddelose Atália, wat uiteindelik
gedood is in opdrag van die godvresende priester Jójada.
Die manlike leierskap van die kerk het aangehou in
die vroeë Nuwe Testament. Die Here Jesus het twaalf mans geroep, nie
ses mans en ses vrouens nie, om sy dissipels te wees. Petrus, onder
leiding van die Heilige Gees, roep die 120 gelowiges in Hand. 1:21 om
een "van die manne dan wat saam met ons rondgegaan het" te
kies in die plek van Judas Iskariot. Die Heilige Gees het die kerk gelei,
vogens die eerste gedeelte van Hand. 6, om sewe manne van goeie
getuienis, vol van die Heilige Gees en waarheid, aan te stel as die
eerste persone wat die amp van diaken gevul het. Die sinode in
Jerusalem, soos dit verhaal word in Hand. 15, was nie net 'n alleen
manlike vergadering nie—die besluit van die vergadering was om manne
uit hulle te kies om Paulus en Barnabas na Antiochië te vergesel om die
kerk daar in te lig oor die vergadering se besluite.
Dat die Nuwe Testament leer dat mans die spesiale
ampte sal vul, is duidelik vanuit die gedeeltes wat praat oor die
eienskappe van ampsdraers, I Tim. 3 en Titus 1. Hierdie gedeeltes praat
duidelik van mans, en nie van vrouens nie, as ouderlinge en diakens in
die kerk. Onder die einskappe wat genoem word, is dat die ampsdraers die
man van een vrou moet wees en praat duidelik nie van die vrou van een
man nie. Daar was duidelik geen vraag in die gedagtes van die apostels
of van die vroeë kerk oor die wil van God dat mans die leraars,
ouderlinge en diakens moet wees nie.
Bo en behalwe bogenoemde argumente, is daar spesifiek
twee gedeeltes in die Nuwe Testament wat uitdruklik verbied dat vroue
die ampte mag vul. I Kor. 14:34-35 is die eerste van hierdie twee
gedeeltes. "Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is
hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos
die wet ook sê. Maar as hulle iets wil leer, laat hulle tuis hul eie
mans vra, want dit is lelik vir vroue om in die gemeente te spreek."
Hierdie gedeelde is in effek so duidelik dat die
betekenis daarvan voor die hand liggend is vir enige iemand wat Engels
(lees Afrikaans - HvH) kan lees. Die apostel roep vroue op om stil te
wees in die kerk. Dit beteken nie dat vroue nie in 'n kerkgebou mag
praat nie. Die feit dat hulle nie toegelaat word om te praat nie, het
betrekking op die preek of onderrig gee in die kerk van die Here. Die
amptelike bediening van die Woord van God, wat terloops nie alleen die
werk van die predicant is nie, maar van al die ampsdraers—ouderlinge
en diakens inkluis—is dit wat verbode is vir vroue.
Die tweede gedeelte is I Tim. 2:11-12: "Die vrou
moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Ek laat die vrou
egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy
moet haar stil hou." Die apostel praat in hierdie gedeelte oor die
openbare eredienste van die kerk. Volgens I Tim. 3:15, het die eerste
brief van Timotheus betrekking op die behoorlike optrede binne die huis
van God, die kerk van God. Die behoorlike optrede van vroue in God se
huis, is dat hulle nie onderrig gee nie. Vir 'n vrou is om onderrig te
gee, onbehoorlike optrede. Weereens—in die kerk. Vroue word nie in die
algemeen verbied om onderrig te gee nie. Hulle mag, en moet, hulle
kinders tuis opvoed. Hulle mag die plek van die ouer inneem in die
Christelike skool en die verbondskinders onderrig. Hulle moet onderrig
gee in die sin van gesprek en getuienis teenoor diegene met wie hulle in
kontak kom dag vir dag. Hulle mag sondagskool onderrig gee en ook mekaar
leer in die bybelstudie verenigings van die kerk. In Titus 2:4-5 gee
Paulus opdrag aan die ouer vrouens om die jonger vroue te onderrig om
goeie eggenotes en moeders te wees. Hulle mag egter nie onderrig gee in
die kerk nie. Dit is vir hulle verbode om die kansel te betree en te
preek.
Meer nog, Paulus laat ook nie toe dat die vrou "oor
die man te heers" nie. Die vrou mag nie die amp beklee van die
regerende ouderling nie. Die vrou wat dit doen vergryp haar, sy tree nie
op met gesag van God nie. Die vrou moet haar daarteenoor laat leer in
stilte. Sy moet leer, sy moet groei in haar kennis en verstaan van God
se Woord, maar sy moet dit in stilte doen. Dit beteken nie sonder om te
praat nie. Die apostel bedoel daarmee sy moet haar bepaal tot haar eie
sake en nie betree op die gebied wat God aan die mans van die gemeente
opdra nie.
Sy moet dit doen in "alle onderdanigheid".
Onderdanig beteken gehoorsaam wees. "Alle onderdanigheid" hier
beteken ten volle gehoorsaam. Die begronding vir die leer van die
apostel is tweeledig. Eerstens, in I Tim. 2:13, begrond die apostel dit
in die skepping: "Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva". God
het Adam eerste geskep en Eva daarna. Nie alleen is Adam eerste gemaak
nie, maar God het die vrou uit Adam vir Adam gemaak. In I Kor. 11: 8-9
sê Paulus: "Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou
uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie,
maar die vrou ter wille van die man."
Tweedens leer Paulus in die brief aan Timótheus (vers
14) dat Adam nie verlei is nie, maar dat die vrou haar laat verlei het
en in oortreding gekom het. Dit beteken natuurlik nie dat Adam nie
gesondig het en nie geval het nie. Ons weet van beter. Adam was egter
nie verlei in die sin wat Eva verlei is nie. Eva is eerste verlei, en sy
is volledig verlei. Sy het die leiding geneem in die val; sy was die een
wat met die slang gepraat het, wat deur die slang se versoeking mislei
is en het die middel geword waardeur Adam tot 'n val gekom het. Die
opneem van die gesag wat nie aan haar behoort het nie, het 'n belangrike
rol gespeel in die oorspronklike val van die menslike ras. Die gevolg—sy sal nie onderrig gee nie, ook nie gesag opneem oor die man nie, maar
haar laat leer in stilte.
Ondersoek na Sekere Argumente Ten Gunste van die Vrou in die Amp
Ten spyte van die duidelike leer in die Skrif wat die
vrou verbied om die kerklike ampte te vul, word verskeie argumente
voorgehou deur voorstaanders van die vrou in die amp om hierdie leer
omver te werp en hulle standpunt te ondersteun dat die kerk die ampte
moet oopstel vir vroue. Ons behoort te kyk na die belangrikste argumente
van hulle wat die vrou in die amp voorstaan.
In die eerste plek is daar die verwysing na sekere vroue in die Ou
Testament wat die amp van profeet gevul het. Die Ou Testament vertel van
drie profetesse: Miriam (Moses se suster), Deborah (beide profeet en
rigter) en Hulda. Drie dinge moet in ag geneem word. Eerstens is dit dat
hierdie die enigste uitsonderings is wat opgeteken is in die Ou
Testament van die duidelike algemene reel dat mans die ampte moet vul.
Tweedens was dit waar in twee van die gevalle, die van Deborah en Hulda,
dat die algemene geestelike toestand van Israel baie laag was. Hulle is
deur God geroep in 'n tyd van groot afvalligheid. Die rede waarom God
hulle opgerig en in die amp van profeet aangestel het, was eenvoudig
omdat daar geen mans in Israel was wat geskik was om die amp te vul nie.
Derdens is dit deur direkte openbaring van God waardeur hierdie vroue
tot die amp geroep is. Hulle was profete, d.w.s. persone aan wie God
direkte, onmiddelike openbarings gegee het. Ons kon vroue tot die amp
toegelaat het as dit steeds so was vandag. God gee egter nie meer
spesiale openbarings nie. Die gevolgtrekking is dus duidelik: Daar kan
nie vroulike ampsdraers meer wees nie.
Tweedens word die argument voorgehou dat die vrou se algemene
onderwerping aan die man en spesifiek haar onderwerping in die kerk, wat
die vorm aanneem van nie-die-ampte-vul-nie, is 'n deel van die vloek en
is gebasseer slegs op die gevolge van die sonde en die val. Daar word
verwys na Gen. 3:16, "Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks
vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar;
en na jou mas sal jou begeerte wees, en hy sal oor jou heers."
Hierdie was die woorde van die vloek wat God aangekondig het teen die
vrou a.g.v. die sondeval. Die volgende verse verwoord God se vloek oor
die man, dat die grond vervloek sal wees om sy ontwil en dat hy met
moeite daaruit 'n bestaan sal maak.
Die argument word so gevoer. Adam en Eva is
oorspronklik in volkome gelykheid voor God geskape. Die sondeval het
hierdie gelykheid vernietig, sodat die onderhorigheid van die vrou aan
die man deel is van God se oordeel oor haar. Deel van die werk van
Christus is om die vrou te verlos van hierdie deel van sonde en die
vloek. In die kerk se taak om die werk van Christus te voltooi, moet die
kerk haarself inspan om die vrou op te hef, haar in oorspronklike
posisie van volkome gelykheid te herstel, en dit vir haar moontlik maak
om volledig in die kerk diensbaar te kan wees. Net soos ons die gevolge
van die sonde teenwerk met onsmettingsmiddels en pynverligters tydens
kraam en lugversorde trekkers vir werk, so moet ons poog om die hoofskap
van die man teen te werk, omdat dit alleen maar rus op die sondeval en
die gevolge daarvan.
Let op dat hierdie argument berus op twee
voorveronderstellings. Eerstens dat daar nie 'n hoofskap van die man oor
die vrou voor die sondeval in die volmaakte skeppingsorde was nie.
Tweedens dat die heers van die man oor die vrou deel is van die vloek,
iets wat in sigself boos is, 'n gevolg van die sonde. Twee punte moet
opgemerk word in antwoord op hierdie argument. Eerstens stem ons saam
dat pogings om die gevolge van die sondeval te verlig toelaatbaar is.
Daar is niks daarmee op sigself verkeerd nie. Maar ons doen dit—nie
deur die feitlikhede wat in Gen. 3 genoem word te verwyder nie: geboorte
skenk, werk en die onderwerping van die vrou aan die man se gesag.
Hierdie realiteite is nie self die oordeel wat oor die man en vrou
aangekondig is nie. Ons doen dit deur dit te beveg wat hierdie
werklikhede verwring. In die geval van die man se heerskappy oor die
vrou, doen die apostels dit in die Nuwe Testament deur mans aan te spoor
om hulle vrouens lief te hê en te eer, hulle te versorg en te koester
en nie verbitterd te raak nie.
Tweedens is ons antwoord op hierdie argument dat die
Skrif nêrens self vrouens oproep om aan hulle mans of in die kerk
onderhorig te wees omdat dit die gevolg van die sonde en die sondeval is
nie. Die Nuwe Testament is konsekwent in sy appél op die skeppingsorde—die
voor-die-sondeval orde wat die beginsel vestig van die vrou se
onderhorigheid. Die feit is dat dit God se skeppingsorde is, soos ons
sien in Gen. 1 en 2 wat die vaste basis vorm vir die Nuwe Testamentiese
verbod teen vroulike gesag in die ampte van die kerk of in die huwelik
en gesin. Dit is I Kor. 11:8-9, I Tim. 2:13, en Ef. 5.
'n Derde argument vir die vrou in die kerklike ampte
is die volgehoue beroep op Gal. 3:28. In die gebruik van hierdie
gedeelte, herinner die voorstaanders van die vrou in die amp ons aan 'n
hond wat net een blaf het. Die teks is: "Daar is nie meer Jood of
Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en
vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus." Laat dit
gesê word, hierdie teks het absoluut niks te doen met die vraagstuk oor
die vrou in die amp nie. Dit is nie die onderwerp van die gedeelte of
van die konteks nie. 'n Aanhaling van hierdie gedeelte in hierdie
verband, is volledig van die punt af. Die onderwerp van Gal. 3:28 is
redding en die genieting van die verlossing deur die gawe van die geloof
in Jesus Christus. Die punt wat die apostel maak is dat verlossing en
geloof nie beperk is tot een sektor van die menseras nie. Die Nuwe
Testamentiese kerk van Jesus Christus is 'n katolieke, of universele
kerk. Verlossing is nie alleen vir die Jode nie, maar ook die Grieke;
nie alleen vir die vry mens nie, maar ook vir die slaaf; nie alleen vir
witmens nie, maar ook vir die swart mense; nie alleen vir mans nie, maar
ook vir vroue. Net so geld dit vir die gawe van verlossing as vir die
nood tot verlossing: daar is geen verskil tussen man en vrou nie.
'n Verdere argument wat aangevoer word, een van die
wat die meeste gehoor word, is dat dit 'n vermorsing is van die gawes
van vroue om hulle nie tot die ampte toe te laat nie. Indien die kerk
nie instem tot die toelating van die vrou in die amp nie, is sy skuldig
aan die vermorsing van haar bronne en die vroue se gawes. So 'n argument
is belaglik en is uiteindelik net 'n emosionele appél ten gunste van
die vrou in die amp. Die saak ter sprake is nie of vrouens gawes het of
nie, en of hulle dit moet gebruik of nie en of die kerk ywerig gebruik
moet maak van hierdie gawes nie. Die vraag ter sprake is waar daardie
gawes gebruik moet word. Dieselfde Heilige Gees wat die gawes gee aan
die lidmate van die kerk is ook die outeur van die Bybel, ook die
gedeeltes wat die vrou verbied om die ampte te beklee. Moet ons aanneem
dat die Heilige Gees homself kan weerspreek?
Wat van die Amp van Diaken?
Alhoewel sommige saamstem dat vroue nie bevestig mag
word in die amp van predikant of ouderling nie, gee hulle toe dat daar
vroue diakens in die kerk mag wees. Hulle argumenteer eerstens dat die
diakens nie hoef te leer of regeer nie. Tweedens verwys hulle as
ondersteuning vir hierdie standpunt na twee gedeeltes in die Bybel, wat,
volgens hulle praat van vroue in die amp van diaken: Rom. 16:1 en I Tim.
5:9 en wat daarop volg.
Die standpunt dat vroue gemaklik in die amp van
diaken bevestig kan word omdat hulle nie hoef te leer of regeer nie, is
foutief. Die diakens leer ook en oefen ook gesag uit oor die lidmate van
die gemeente. Omdat hulle deel het aan die amp van Christus, deel hulle
ook, saam met die predikant en die ouderlinge in die gesag van Christus.
Om 'n amp te beklee, is uit die aard van die amp, om 'n gesagsposisie te
beklee. Dit is waarom die voorwaardes waaraan die diaken meot voldoen,
soos die ouderlinge in I Tim. 3, is dat hulle hulle eie kinders en
huishoudings goed regeer. Hierdie voorwaarde kom voort uit die feit dat
die diakens moet deel in die regeer van die gemeente. Die feit van die
saak is dat diakens in die uitoefening van hulle amp instruksies moet
gee en amptelike onderrig namens die kerk van Jesus Christus. Hulle
skryf nie net tjeks uit en betaal rekeninge nie. Die verwysing na I Tim.
5:9 en verder slaag nie daarin om die toelaatbaarheid van vroulike
diakens te bewys nie. Eerstens omdat die apostel doelbewus hier nie na
die vroue verwys as diakens of diakonesse nie, maar slegs as vroue.
Tweedens, dit wat dit onmoontlik maak om hierdie gedeelte as bewys aan
te haal in ondersteuning van die vrou in die amp as diaken is dat die
apostel verwag dat hierdie vroue weduwees moet wees en weduwees van ten
minste sestig jaar oud. Diegene wat hierdie gedeelte aanhaal wil dat die
ampte oopgemaak moet word vir ALLE vroue.
Ook die voorbeeld van Fébé in Rom 16:1, bewys nie
die toelaatbaarheid van vroulike diakens nie. Die gedeelte in die 1953
vertaling (artikel noem King James - HvH) lees as volg: "Ek beveel
by julle aan ons suster Febe, wat 'n dienares is van die gemeente in
Kenchréë." Die argument berus op die feit dat die woord wat met
"dienares" vertaal is, ook met "diaken" of "diakones"
vertaal sou kon word. Dit is die manier waarop dit in die sg. nuwe
vertaling (artikel noem "Revised Standard Version" - HvH)
vertaal is.
Daar is nie twyfel daaroor dat "diaken" ook
'n korrekte vertaling van die woord vir "dienares" is wat hier
gebruik word nie. Die vraag is egter of dit 'n goeie vertaling is in
hierdie bepaalde gedeelte. Óf is die 1953 vertaling korrek wat dit
vertaal met "dienares". Dit moet opgemerk word dat die woord
"dienskneg" in die Nuwe Testament in baie verskillende
verbande gebruik word. Dit verwys na diensknegte, manlik en vroulik, wat
opgeroep word tot gehoorsaamheid aan hulle meesters, na diensknegte van
God wat die posisie van regeerders beklee in die staat. Trouens, die
woord kom in 'n hele aantal gedeeltes voor waar dit met "dienskneg"
vertaal MOET word en waar dit onmoontlik is en nie sin maak om dit te
vertaal met "diaken" of "diakones" nie. U kan dit
vir uself toets deur gebruik te maak van 'n goeie konkordansie. Die punt
is dat mens nie net van die woord self die gevolgtrekking kan maak dat
Phebe 'n diaken in die kerk was nie. En in die lig van die res van die
Nuwe Testament, kon sy dit nie gewees het nie. Sy was 'n godvresende
vrou wat haar medegelowiges in die gemeente in Kenchréë gedien het,
wat hoog aangeprys word deur die apostel, maar sy was nie 'n diaken nie.
Die Onderliggende Saak in die Debat oor die Vrou in
die Amp
Dit bring ons by die laaste argument van diegene wat
die vrou in die kerklike ampte voorstaan. Terselfdertyd kom die
onderliggende motief agter die debat oor die vrou in die amp, na die
voorgrond. Wat is hierdie onderliggende saak? Die Bybel verbied in
duidelike taal vroue om te leer of te regeer in die kerk. Mens kan
eenvoudig geen ondersteuning vir vroulike ampsdraers kry in die Skrif
nie. Wat doen diegene dan wat die vrou in die amp voorstaan? Hulle
ontken dat hierdie skrifgedeeltes van toepassing is in ons tyd binne ons
omstandighede. Ons moet verstaan, so word geargumenteer, dat die Skrif
tydsgebonde en kultureel bepaald is. Wat die apostel geskryf het, is van
toepassing op sy tyd binne sy omstandighede, maar geld nie vir ons
vandag in ons tyd en kultuur nie. Die onderliggende saak is dus die
Skrif en die belydenis van die inspirasie, onfeilbaarheid en gesag van
die Heilige Skrif. Ander sien dit ook so. In 'n goeie artikel in Christianity
Today tydskrif (9 April, 1976), oor die saak van die vrou in die
amp, skryf George W. Knight III as volg,
Maar ek is bevrees dit lyk asof sommige wat oor
die onderwerp skryf, die onfeilbaarheid van die Skrif en die gesag
van sy onderwysing verwerp. Selfs sommige wat aanspraak maak daarop
dat hulle skrifgetroue Christene is wal hulle onderwerp aan die
gesag van God en sy Woord, blyk gewillig te wees om die gedeeltes in
die Skrif wat lyk of dit hulle standpunt ondersteun uit te lig en
andere gedeeltes te verswyg, of om dit as verkeerd af te wys of as
kultuurbepaald en nie normatief nie. Selfs wanneer hierdie
skrifgedeeltes self daarop aanspraak maak om normatief te wees en
nie kultuur bepaald nie.
Dit is presies wat Paul K. Jewett doen in sy boek The
Ordination of Women. Jewetl is professor in systematiese teologie by
die "Fuller Theological Seminary" in Californië. In sy boek
deins Jewett nie terug daarvan om Paulus se leer eenvoudig as 'n
toepassing van 'n foutiewe rabbiniese gesigspunt af te maak nie. Hy
skroom ook nie om Paulus se verstaan van Gen. 1 en 2 as verkeerd te
bestempel nie. Hy gaan verder en stel dat Paulus se leer eenvoudig
gevorm is deur die kultuur waarbinne hy geleef het en hoef nie meer
vandag nagevolg te word nie. In 'n onlangse artikel in The Banner,
het die redakteur Andrew Kuyvenhoven 'n soortgelyke standpunt ingeneem:
Daar is geen twyfel in my gemoed dat Paulus 'n
beperkte rol vir vroue voorgeskryf het in die erediens toe hy I Kor.
14:34 en I Tim. 2:12 geskryf het nie. Die redes vir hierdie
beperking was egter plaaslik, kultureel en derhalwe tydelik. Paulus
kon horn beroep op dit wat in sy tyd 'n algemene morele oordeel was:
'n vrou wat in die gemeente praat lyk "lelik" (I Kor
14:35). Maar wanneer so 'n beroep nie meer gedoen kan word nie, word
die spesiale apostoliese voorskrif ook verwyder (The Banner, 23
Jan., 1984).
Ons antwoord op hierdie argument is eenvoudig: Ons ontken dit! Dit is
verkeerd en is 'n fatale aantasting van die leer van die Heilige Skrif.
As hierdie argument toegelaat word om in die kerk stand te hou, het die
kerk alles verloor. Die saak ter sprake is nie die vrou in die amp nie.
Dit is 'n rand aangeleentheid, 'n klein saak. Wat op die spel is, is die
onfeilbaarheid en daarmee saam die gesag van die Skrif. Die posisie van
die vrou in die ampte is maar net nog 'n aanval, tussen soveel ander
vandag, teen die Skrif self. Op die ou end, as die standpunt dat die
Skrif kultuurbepaald en tydsgebonde is, gehandhaaf word, sal dit
moontlik wees om enige leerstelling en elke wet van die Skrif ter syde
te stel. Hierdie aanspraak dat die apostel se onderrig bepaal is deur
die kultuur en die tyd waarin hy geleef het, staan direk teenoor die
apostel se eie aanspraak dat dit wat hy leer die wil is van God, 'n
aanspraak wat die apostel maak in dieselfde gedeeltes waar hy die vroue
verbied om in die ampte van die kerk te dien. In 1 Tim. 2 stel die
apostel dat die verbod op die vrou in die ampte gebaseer is op God se
wil soos dit geopenbaar word in die skeppingsorde. Reeds in vers 7 van
die hoofstuk het hy uitdruklik gesê, i.v.m. die instruksies wat hy op
die punt was om te gee, "ek sê die waarheid in Christus, ek lieg
nie." In I Kor. 14:34 sê die apostel dat sy instruksies hulle
fundering vind in die Wet, in die wil van God soos dit reeds in die Ou
Testamentiese wette geopenbaar is: "Julle vroue moet in die
gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar
om onderdanig te wees, soos die wet ook sê." Die apostel sê hier
presies die teenoorgestelde wat die mense vandag beweer, dat sy onderrig
gebaseer is op die blywende wil van God soos geopenbaar in die Wet.
Ek vra u, veronderstel u vir een oomblik dat die Here Jesus sou
toelaat dat Hy gedruk word deur die kultuursituasie van sy dag? Het Hy
ooit geswig voor die vooroordele en verkeerdhede van die kultuur van sy
dag? Moet ons werklik veronderstel dat die Een wat egbrekers vergewe het,
saam met tollenaars en sondaars geëet het, wat nie bang was om die
foute en die skynheiligheid van die kerkleiers van sy dag uit te wys nie,
dat Hy bang was om die kultuur van sy dag aanstoot te gee? Was dit die
rede waarom Hy nie vroue dissipels aangestel het nie? Deur hierdie vrae
te vra is om hulle te antwoord.
Dit laat mens wonder! Mens wonder werklik oor hierdie kultuurvraag!
Wie is eintlik die produk van hulle kultuur: Jesus? Die apostels? Of
diégene vandag wat hulle vir die bevestiging van die vrou in die amp
beywer? Die vraag kom op of—na alles—dit nie vandag se voorstanders
van die vrou in die amp is wat geswig het voor 'n godlose,
antichristelike kultuur waaruit die hele moderne vroue beweging verrys
het nie. Mens wonder!
In elk geval—laat ons dit duidelik besef—indien die moderne
standpunt die stryd wen is eerstens, die hele leer oor die
onfeilbaarheid en gesag van die Skrif by die venster uit. En tweedens is
die duidelikheid en verstaanbaarheid van die Skrif daarmee heen en geen
gewone Christen sal in staat wees om die Bybel meer te lees en te
verstaan nie. Hy sal moet vertrou op die kundiges wat insig het in die
kulturele, linguïstiese, filosofiese en historiese oorwegings wat die
skrywers van die Bybel beïnvloed het. Soos gebeur het in die Roomse
kerk voor die reformasie, sal die Bybel uit die hande van die gewone
mense geneem word en weer beperk word tot 'n hiërargie van kundiges.
God bewaar ons van so 'n ramp!
Ons Roeping om te Staan Teenoor hierdie Beweging
Die kerk vandag en die individuele lidmaat moet standpunt inneem
teenoor die beweging om vroue in die ampte te bevestig. Wat ookal die
koste, watter offers ookal gevra word, watter persoonlike onreg ookal
verdra moet word, ons moet vasstaan! Ons moet die Skrif se standpunt
handhaaf, sonder kompromieë. Martin Luther het eenmaal gesê aan die
bontpraters van sy dag:
As ek met die hardste stem en die duidelikste uitleg elke deel van
die waarheid van God bely, behalwe vir daardie een klein puntjie wat die
wêreld en die duiwel op daardie oomblik aanval, is ek nie besig om
Christus te bely nie. Waar die geveg woed, dáár word die lojaliteit
van die soldaat beproef, en om standvastig te wees op al die
gevegsfronte aan die kant is alleen maar ontvlugting en 'n skande as hy
op dáárdie punt terugdeins.
Hierdie standpuntinname van die kerk en die gelowige moet 'n
volgehoue en konsekwente posisie wees. Dit moet 'n standpuntinname wees
teen die vrou in die amp van leraar, ouderling of diaken. Vrouens moet
ook nie katkisasie gee nie. Die gereformeerde standpunt is dat kategisme
onderrig net soveel amptelike onderrig is soos die verkondiging van die
Woord op Sondag. Vroue moet ook nie stemreg gegee word tydens gemeente
byeenkomste van die kerk nie. Gemeente vergaderings is 'n amptelike
vergadering van die gemeente. Vir 'n vrou om te stem by so 'n
vergadering is vir haar om gesag uit te oefen om sodoende in te kom in
die regering van die kerk. Dit is verbode. Daar is 'n ou spreuk in die
Verre Ooste wat lui dat die tyd om 'n kameel uit jou tent te hou is
wanneer hy sy neus in jou tent indruk. As jy sy neus inlaat, kan jy
verseker wees dat die res van sy lyf sal volg. Gereformeerde kerke doen
goed as hulle verhoed dat die neus van hierdie kameel hulle tente binne
dring.
Die Positiewe Roeping van Vroue
Hierdie standpuntinname van die kerk wat vroue
verbied om in die ampte te dien, moet 'n standpunt wees wat duidelik aan
die vrou voorhou wat haar positiewe roeping in die gemeente is. Daardie
rol word saamgevat in I Tim. 2:15 "Maar sy sal gered word deur
kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met
ingetoënheid." Die gekla van die moderne vroue beweging vind sy
oorsprong in die verwaarlosing en minagting van die positiewe roeping
wat God aan hulle gee.
Die Bybel roep vroue tot die taak van kinders baar.
Hierdie is die unieke en heerlike roeping wat God aan die vroue van die
kerk gee. In die uitoefening van hierdie roeping vind hulle
selfverwesenliking. God gee aan die vroue ruim geleentheid om hulle
kinders te onderrig en te regeer in die vrees van sy Naam. Met die oog
op hierdie roeping, het God die vrou met vele gawes geseën, fisies,
emosioneel, geestelik, gawes wat God nie aan die man gegee het nie.
Deurdat hulle hierdie roeping vervul word God se kerk gebore in die
wêreld en bymekaar gemaak. Op hierdie manier het Christus in die
wêreld gekom, gebore uit 'n vrou volgens die Bybel, en God het nie 'n
man nodig gehad nie en nie een gebruik nie.
Hoe nodig is dit nie om hierdie roeping van die vrou
vandag te belemtoon nie! Hoe weier vroue nie vandag om hierdie Godgegewe
roeping uit te leef nie, deur geboortebeperking, of erger, deur die
koelbloedige moord van aborsie. Watter verskriklike oordeel van God rus
nie op hulle nie!
Die apostel gaan so ver in I Tim. 2:15 om te sê:
"... sy sal gered word deur kinders te baar." Natuurlik word
vroue, net soos mans, gered deur die bloed van Jesus Christus. Maar
hulle word gered in die proses van kinders baar. Hulle word nie gered in
die proses van prediking nie, ook nie in die proses van regeer nie, ook
nie in die proses van die bediening van die genadegawes van Christus in
die kerk nie. Hulle word gered in die proses van kinders baar.
Wat van vroue wat verby die tyd is van kinders in die
wêreld bring, of vir wie die Here nie die voorreg gee van kinders hê
nie? Het hulle dan nie plek in die kerk nie? Hulle het maar alte seker!
Laat hulle bekend wees soos Dorkas vir haar haar goeie werke en aalmoese.
Laat hulle die vaderloses, die weduwees, die siekes en die ou mense
besoek in hulle beproewing. Laat hulle die plek vul van die ouer in die
Christelike skool. Laat hulle die armes bystaan en betrokke wees op al
die maniere waarop hulle betrokke kan wees om God se Kerk te help. Hulle
mag egter nie leraars, ouderlinge of diakens wees nie.
Dit is wat die Woord ons leer. Wat sê u? Sê saam
met my,
... kies dan vir julle vandag wie julle wil dien:
of die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, of
die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en
my huis, ons sal die Here dien (Josua 24:15).
Aanbevole boeke om te lees oor die ondenverp
Die Bybel*
James E. Bordwine, The
Pauline Doctrine of Male Leadership: The Apostle versus Biblical
Feminists*
Richard Hove, Equality in
Christ?: Galatians 3:28 and the Gender Dispute
A. J. & Schreiner
Kostenberger, Women in the Church: A Fresh Analysis of I Tim. 2:9-15*
K. K. Lim, Het spoor van
de vrouw in het ambt: een historische studie naar de openstelling van
het ambt voor de vrou in de Evangelisch-Lutherse Kerk van het Koninkrijk
der Nederlanden, de Nederlandse Hervormde Kerk en de Gereformeerde
Kerken in Nederland
John Piper & Wayne
Grudem, Recovering Biblical Manhood and Womanhood: A Response to
Evangelical Feminism*
Brian H. Schwertley, A
Historical and Biblical Examination of Women Deacons*
J. van Bruggen, Emancipate
en Bijbel
(* hierdie boeke word
sterk aanbeveel)
Navrae: Esra Boeke,
Tel. 012-2944178 of esra@netlab.co.za
Vir meer bronne in
Afrikaans, klik hier.
|
|