Covenant Protestant Reformed Church
Bookmark and Share

Uitverkiesing, Fontein van Seëninge vir die Kerk (2)

Rev. Angus Stewart

 

In die laaste News het ons die verskillende seëninge van die uitverkiesing gesien. Nou kyk ons na die kenmerke daarvan. Die seëninge wat uit die fontein van uitverkiesing vloei is hemelse en geestelike seëninge. Nie liggaamlike genesing, of politieke mag of hordes geld word aan gelowiges belowe nie. Nee, "alle geestelike seëninge in die hemele" (Ef. 1:3) word ons belowe.

Hierdie seëninge is "in Christus" (3). Die uitverkore gelowige is in Christus, met Hom verenig in die Heilige Gees. Verenig met die Geseënde, deel ons in Sy seëning. Hy het die seëninge vir ons verkry, en in Hom, en deur die geloof ontvang ons hierdie hemelse en geestelike seëninge. Al die seëninge! Want God het ons "geseën met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus"(3).

Aangesien al die uitverkorenes al die geestelike en hemelse seëninge in Christus ontvang, is al God se mense gelyk in die amp van die gelowige. Almal is profete want ons ken en bely die misterie van God se ewige voorneme om alle dinge in die hemel en op die aarde in Christus te verenig (8-10). Almal is priesters want ons is heilig, geheilig aan ons hemelse Vader (4). Almal is konings want ons is as kinders van die Here God aangeneem (5). So is uitverkiesing ook die fontein van hierdie seëning: dat ons as profete, priesters en konings in die amp van die gelowige is.

Daar is ook goddelike gawes wat nie al die uitverkorenes ontvang nie. Hulle word nie in Efesiërs 1 genoem nie. Eerstens is daar die besondere ampte in die kerk. God het van ewigheid af sommige manne in sy genade verordineer om as diakens, ouderlinge of predikante te dien, want Hy "[werk] alles ... volgens die raad van sy wil" (11). Tweedens is daar die geestelike gawes. Hierdie gawes word ook volgens sy wil só uitgedeel dat sommige uitverkore heiliges meer gawes as ander ontvang (Rom. 12:6; I Kor. 12:11). Dié gawes is slegs nuttig in soverre hulle tot opbou van die liggaam dien.

Verder, hoewel al die uitverkorenes alle geestelike gawes in Christus ontvang, verskil dié gawes in graad tussen die uitverkorenes. Terwyl alle uitverkorenes geheilig is, is daar grade van heiligmaking in hierdie lewe.

So bepaal God se soewereine genade die kerk se bestaan, haar plek, grootte en lidmaatskap (News XI:23, XI:24, XII:1), al die kerk se geestelike gawes (News XII:2), en die mate van heiligmaking en die verspreiding van besondere ampsdraers en geestelike gawes in die kerk. Van bo tot onder word die kerk beheer en gevorm deur God se ewige uitverkiesing.

Sien u dit, geliefde heilige? Die ware kerk, as organisme en instituut, is geheel van God, geskape, versamel, bewaar en verheerlik, uitsluitlik deur Sy soewereine wil, sodat die kerk en elke lid sig moet verheug in die verkiesende God! Berus in die waarheid van uitverkiesing! Werk, bid, aanbid en getuig in die lig daarvan!

Maar waarom is uitverkiesing die hart, bron en fondament van die kerk en al haar seëninge? Waarom is uitverkiesing "die fontein van alle saligheid" (Dordtse Leerreëls I:9)? Want God self is "die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is" (Nederlandse Geloofsbelydenis 1). Uitverkiesing is die fontein van die kerk en al haar seëninge. Die uitverkiesende God is die fontein van die kerk en al haar seëninge. God is die fontein van die kerk en al haar seëninge. Die laaste drie sinne sê in hoofsaak dieselfde ding. Daarom is ʼn aanval op uitverkiesing nie net ʼn aanval op die hart van die kerk (cor ecclesiae) nie, maar is dit ook ʼn bose, futiele aanval op die hart van God self, ʼn hart vervul met liefde vir sy geliefde kerk vir wie Hy sy Seun gestuur het om aan die kruis te sterf.

Uitverkiesing is ook die fontein van die kerk se vier geseënde kenmerke: eenheid, heiligheid, katolisiteit en apostolisitieit. Die kerk is heilig want dit is "uitverkies ... voor die grondlegging van die wêreld om heilig ... voor Hom ... te wees" (Ef. 1:4). Efesiërs 4-6 beskryf die heilige lewe van die kerk. Die kerk is apostolies want dit is uitverkies tot geloof (Hand.13:48) en ware geloof ontvang die apostoliese leer (Ef. 2:20). Die kerk is katoliek (algemeen) want dit bestaan uit Jode en heidene (2:11-22; 3:6), "volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here" (11). Die kerk is een want God het "ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig ... voor Hom in liefde te wees" (1:4). Hierdie geseënde eenheid van die liggaam van Christus, die kerk, word meer volledig uiteengesit in Efesiërs 4:1-16.

So is die kerk een, heilig, katoliek en apostolies vanweë haar ewige uitverkiesing. Meer spesifiek het die kerk hierdie vier kenmerke omdat dit in Christus uitverkies is (1:4). Christus is heilig (volkome toegewy aan die Vader), apostolies (geopenbaar in die Heilige Skrif en nie in die ydele verbeelding van mense nie), katoliek (die Verlosser van die wêreld en nie net van Jode of van ʼn besondere klas of ouderdom nie) en een (die vleesgeworde Seun van God). Synde ewig uitverkies in Christus en met Hom verenig deur Sy Gees, kan die kerk nie anders as om een, heilig, katoliek en apostolies te wees nie.

Die kerk moet daarom haar vier kenmerke preek en bely. Dit moet leer dat sy een, heilig, katoliek en apostolies is ingevolge God se ewige uitverkiesing in Christus. Waar hierdie prediking gevind en geglo en gehoorsaam word, word die vier kenmerke duidelik gesien en daar is Christus geestelik teenwoordig, regerend en seënend oor sy geliefde volk.

(Vertaal deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za 

Die Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)

Vir meer bronne in Afrikaans, klik hier.