Uitverkiesing, Fontein van Seëninge vir die Kerk (2)
Rev. Angus Stewart
In die laaste News het ons die verskillende
seëninge van die uitverkiesing gesien. Nou kyk ons na die kenmerke
daarvan. Die seëninge wat uit die fontein van uitverkiesing vloei is
hemelse en geestelike seëninge. Nie liggaamlike genesing, of politieke
mag of hordes geld word aan gelowiges belowe nie. Nee, "alle geestelike
seëninge in die hemele" (Ef. 1:3) word ons belowe.
Hierdie seëninge is "in Christus" (3). Die
uitverkore gelowige is in Christus, met Hom verenig in die Heilige Gees.
Verenig met die Geseënde, deel ons in Sy seëning. Hy het die seëninge
vir ons verkry, en in Hom, en deur die geloof ontvang ons hierdie
hemelse en geestelike seëninge. Al die seëninge! Want God het ons
"geseën met alle geestelike seëninge in die hemele in
Christus"(3).
Aangesien al die uitverkorenes al die geestelike en
hemelse seëninge in Christus ontvang, is al God se mense gelyk in die
amp van die gelowige. Almal is profete want ons ken en bely die misterie
van God se ewige voorneme om alle dinge in die hemel en op die aarde in
Christus te verenig (8-10). Almal is priesters want ons is heilig,
geheilig aan ons hemelse Vader (4). Almal is konings want ons is as
kinders van die Here God aangeneem (5). So is uitverkiesing ook die
fontein van hierdie seëning: dat ons as profete, priesters en konings
in die amp van die gelowige is.
Daar is ook goddelike gawes wat nie al die
uitverkorenes ontvang nie. Hulle word nie in Efesiërs 1 genoem nie.
Eerstens is daar die besondere ampte in die kerk. God het van ewigheid
af sommige manne in sy genade verordineer om as diakens, ouderlinge of
predikante te dien, want Hy "[werk] alles ... volgens die raad van
sy wil" (11). Tweedens is daar die geestelike gawes. Hierdie gawes
word ook volgens sy wil só uitgedeel dat sommige uitverkore heiliges
meer gawes as ander ontvang (Rom. 12:6; I Kor. 12:11). Dié gawes is
slegs nuttig in soverre hulle tot opbou van die liggaam dien.
Verder, hoewel al die uitverkorenes alle geestelike
gawes in Christus ontvang, verskil dié gawes in graad tussen die
uitverkorenes. Terwyl alle uitverkorenes geheilig is, is daar grade van
heiligmaking in hierdie lewe.
So bepaal God se soewereine genade die kerk se
bestaan, haar plek, grootte en lidmaatskap (News XI:23,
XI:24, XII:1), al
die kerk se geestelike gawes (News
XII:2), en die mate van heiligmaking en die verspreiding van
besondere ampsdraers en geestelike gawes in die kerk. Van bo tot onder
word die kerk beheer en gevorm deur God se ewige uitverkiesing.
Sien u dit, geliefde heilige? Die ware kerk, as
organisme en instituut, is geheel van God, geskape, versamel, bewaar en
verheerlik, uitsluitlik deur Sy soewereine wil, sodat die kerk en elke
lid sig moet verheug in die verkiesende God! Berus in die waarheid van
uitverkiesing! Werk, bid, aanbid en getuig in die lig daarvan!
Maar waarom is uitverkiesing die hart, bron en
fondament van die kerk en al haar seëninge? Waarom is uitverkiesing
"die fontein van alle saligheid" (Dordtse Leerreëls
I:9)? Want God self is "die alleroorvloedigste fontein van alles
wat goed is" (Nederlandse Geloofsbelydenis 1). Uitverkiesing
is die fontein van die kerk en al haar seëninge. Die uitverkiesende
God is die fontein van die kerk en al haar seëninge. God is
die fontein van die kerk en al haar seëninge. Die laaste drie sinne sê
in hoofsaak dieselfde ding. Daarom is ʼn
aanval op uitverkiesing nie net ʼn
aanval op die hart van die kerk (cor ecclesiae) nie, maar is dit
ook ʼn bose, futiele aanval op
die hart van God self, ʼn hart
vervul met liefde vir sy geliefde kerk vir wie Hy sy Seun gestuur het om
aan die kruis te sterf.
Uitverkiesing is ook die fontein van die kerk se vier
geseënde kenmerke: eenheid, heiligheid, katolisiteit en apostolisitieit.
Die kerk is heilig want dit is "uitverkies ... voor die
grondlegging van die wêreld om heilig ... voor Hom ... te wees" (Ef.
1:4). Efesiërs 4-6 beskryf die heilige lewe van die kerk. Die kerk is
apostolies want dit is uitverkies tot geloof (Hand.13:48) en ware geloof
ontvang die apostoliese leer (Ef. 2:20). Die kerk is katoliek (algemeen)
want dit bestaan uit Jode en heidene (2:11-22; 3:6), "volgens die
ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here"
(11). Die kerk is een want God het "ons in Hom uitverkies voor die
grondlegging van die wêreld om heilig ... voor Hom in liefde te wees"
(1:4). Hierdie geseënde eenheid van die liggaam van Christus, die kerk,
word meer volledig uiteengesit in Efesiërs 4:1-16.
So is die kerk een, heilig, katoliek en apostolies
vanweë haar ewige uitverkiesing. Meer spesifiek het die kerk hierdie
vier kenmerke omdat dit in Christus uitverkies is (1:4). Christus
is heilig (volkome toegewy aan die Vader), apostolies (geopenbaar in die
Heilige Skrif en nie in die ydele verbeelding van mense nie), katoliek
(die Verlosser van die wêreld en nie net van Jode of van ʼn
besondere klas of ouderdom nie) en een (die vleesgeworde Seun van God).
Synde ewig uitverkies in Christus en met Hom verenig deur Sy Gees, kan
die kerk nie anders as om een, heilig, katoliek en apostolies te wees
nie.
Die kerk moet daarom haar vier kenmerke preek en bely.
Dit moet leer dat sy een, heilig, katoliek en apostolies is ingevolge
God se ewige uitverkiesing in Christus. Waar hierdie prediking
gevind en geglo en gehoorsaam word, word die vier kenmerke duidelik
gesien en daar is Christus geestelik teenwoordig, regerend en seënend
oor sy geliefde volk.
(Vertaal
deur Nic Grobler. nicg@absamail.co.za
Die
Afrikaanse vertaling van die Bybel wat gebruik is, is dié van 1933/1953)
Vir meer
bronne in Afrikaans, klik hier.